Niemand resenseer ooit kitaarspelers nie. Wat ‘n belaglike gedagte, het ek onlangs gedink en besluit om ‘n paar verhoë by die KKNK met ‘n notaboekie aan te durf. Talent was daar in oormaat; mense om dit te waardeer min. Hiermee daarom ‘n vlugtige oorsig van verskeie kitaarspelers wat ek raakgeloop het tydens die fees – geensins gesaghebbend, amptelik of eetbaar nie. Oordele is gevel na een vertoning. As jy een van die ouens op hierdie bladsy is en jy voel ek het jou te na gekom, pos vir my ‘n live DVD en ‘n donut, dan kyk ons wat ons aan die sakie kan doen. In geen spesifieke volgorde nie:
Deon Mattheus (47)
Jare ondervinding – “My hele lewe lank”
Deon (seun van die Boeremusieklegende Neels Mattheus) se kitaar is soos ‘n ekstra ledemaat. Hy genereer artificial harmonics met groot gemak, prop vernuftige kort solos in waar hy kan en oorspeel nie. Sy bends is perfek. As hy ‘n skoffelritme moet speel, speel hy ‘n skoffelritme; as rou metal vereis word, doen hy dit met meer noukeurigheid as ‘n geblinddoekte neuroloog. Sy distortion is ryk en romerig en wanneer hy clean speel, verdrink hy nie sy snare in oorbodige effects nie. En hy glimlag vir die dood. Deon kan headbang sonder om sy kop te beweeg.
Jean-Marie Vlok (22)
Die Melktertkommissie
Jare ondervinding – onbekend
Een van die min kitaarspelers wat goed lyk in ‘n rok. Die onlangs verloofde Jean-Marie blyk lief te wees vir korterige slides en pluk snare slegs met haar regterpols. Dié afwesigheid van beweging in haar regterarm maak dat sy effens skugter op die verhoog voorkom. Alhoewel sy nog baie het om te leer – haar bends is soms flat en van vibratos is daar nog geen teken nie – is Jean-Marie op die jeugdige ouderdom van 22 wel in staat om tieners wat Nothing Else Matters by sondagskoolkampe op ‘n klip speel se gat te skop. Ek wens haar en haar fretboard ‘n eksponensiële leerkurwe toe.
Naas en Fritz (19)
EF-EL
Jare ondervinding – 6 jaar / 3 jaar

“Hulle is jonk en speel moerse goed kitaar”, deel ‘n klankman by die ATKV-verhoog my mee toe ek probeer uitvind waar ek kan inglip om ‘n paar nie-amptelike vragies aan die manne van EF-EL te stel. Beide is 19 jaar oud. Alhoewel ek nie heeltemal in akkoord is met die naamlose klankman nie, is hierdie ouens darem nie heeltemal benulloos as dit by kitaarspeel kom nie. As rythmplayer speel Fritz straight, punkerige powerchords. Naas tree op sy beurt weer as lead guitarist op en kan pedaaltone oor verskeie snare behendig uitkarring. Distortion is hierdie ouens se beste vriend (wat hulle outomaties ‘n sagte plekkie in my hart gee). Hulle Achilleshiel is egter tans om daarsonder te speel. By tye het hulle gesukkel om clean arpeggios te speel sonder om per ongeluk ‘n paar note dood te druk. Dinamika val ook nie juis in hierdie ouens se woordeskat nie – snare word gebliksem en basta met die res. Beide is besonder vermaaklik op die verhoog, headbang soos demone en is lief daarvoor om na hulle amps te loop vir ‘n goeie dosis feedback.
Jan Blohm (28)
Jare ondervinding – 7 jaar
Ek trek hierdie stelling (gedeeltelik) terug. Jan Blohm is verseker ‘n rocker. Nes Jimmy Hendrix (wat op sy regterarm getatoeër is) voeter hy sy kitaar se bakwerk, spring op en af en speel met feedback wat dowes in ‘n beswyming sal bring. Hy eet pentatoniese toonlere vir ontbyt. Sy whammy bar is sy beste vriend. Jan weet hoe om sy kitaar tot die maksimum te benut en is besonder fyn ingestel op wisselende volumevlakke. Ek reken dat, sou hy in antieke Griekeland gereïnkarneer word, hy die god van dinamika sou wees. Die grootliks clean, bytende tone waarmee hy speel laat hom toe om doodsag of helhard te speel en hy buit dit ten volle uit. Hy beweeg met gemak in en uit ritardandos. Hy maak liefde met sy kitaar. Hy saag selfs sy snare teen amps om ‘n baie teatrale oordosis geraas aan sy gehoor te verskaf. En hy beskik oor telekinese – wanneer sy kitaar triomfantelik die lug in geforseer word na ‘n vertoning, dwing dit ook die gehoor op hulle voete. Blistering blues solos à la Hendrix is jou voorland as jy na hierdie man en sy vingers gaan kyk.
Dawie (23)
Klopjag
Ondervinding – 7 jaar
‘n Afwesigheid van woorde kan verskeie dinge beteken – in hierdie geval beteken dit ek het min om te sê oor Dawie, behalwe dat hy op 23 reeds vervlaks vaardig is. Dié donkerkop kitaarspeler, wie se kitaarhelde Jimmy Hendix, Albert Frost en Stevie Ray Vaughn insluit, is heeltemal in stemming met sy kitaar en die enigste musikant wat ek teegekom het wat picktapping funksioneel kan gebruik. Hy improviseer vlot met derdes en sesdes, speel gemaklik met oktawe rond en beheer sy instrument besonder goed in ‘n band waar daar soms tot drie kitare gelyktydig speel.
Andries Botha (34)
Ondervinding – 21 jaar
Was dit nie vir sy krulhare nie, het ek gedink Steve Vai het Amerika verlaat en sy naam verander. Intelligente progressies, leitone en deurgangsnote is deel van hierdie man se vingervernuf. Andries loop graag terug na sy amp vir feedback of na sy drummer vir ‘n headbangsessie en sy linkerpinkie weet hoe om te strek. Nie eers powerchords is veilig as hy begin kitaarspeel nie – hy trek die eenvoudige samestelling van kwint en oktaaf uitmekaar uit, ruk en permuteer daaraan en dis dit vir jou op in ‘n soniese maal van beheersde malligheid. Two-handed tapping en improvisering met oktawe is vir hom soos asemhaal. Sprekend van sy intelligente kitaarspel is die instrumentele einde van sy liedjie “Wat is die wêreld sonder jou” waartydens hy die gehoor peper met beheersde slides en woeste bends, wat afsluit met ‘n besete two handed tappinglopie wat Vai trots sou maak.
Daniël Wessels (22)
K2 Band
Ondervinding - 4 jaar
Ek reken hierdie linkshandige kitaarspeler het in vier jaar baie meer ekonomies geoefen as, byvoorbeeld, die ouens van EF-EL. Sy solos is soms effe tegnies en verval in dalende en stygende patrone van derdes; sy bends is van tyd tot tyd effens onvolledig, maar Daniël blyk ‘n tegniese fokus te hê waarop hy sy kitaarspel skoei. Solos is meestal variasies van pentatonics, met intervalle van derdes en vierdes om dinge plek-plek op te kikker. Van tyd tot tyd openbaar hy trilsondroom (die oorbodige gebruik van trillers om die illusie van “meer” te skep) maar beskik oor ‘n stewige ritme-aanslag. ‘n Reeds betroubare axeman met opgesluite potensiaal wat wag om losgeoefen te word.
Ryno Velvet (te oud)
Ryno Velvet
Jare ondervinding - te lank
Iron Maiden, dink ek toe ek hierdie linkshandige kitaarspeler hoor speel. Alhoewel Ryno nie metal maak nie, is daar soms iets van die band se kenmerkende galop-ritmes in sy linkerhand. Hy bespeel gewone, regshandige kitare, wat beteken dat hy enige kitaar in die middel van ‘n vertoning kan optel, sou syne ‘n snaar kwytraak. (Dit het hy ook op die laaste Saterdag van die fees gedoen, tot groot misnoeë van DDisselblom se Johrné.) Sy begeleidende ritmeprogressies kikker hy op met arrogante, pentatoniese uitbarstings; soms speel hy met sy volumeknob of krap hy die gehoor met ‘n pickslide. Soos Blohm het sy kitaar ‘n byterige, trebly tone. Kenmerkend van sy speelstyl is die eiesoortige vingerpatrone wat hy aangeleer het om sy linkshandigheid by gewone kitare aan te pas.
Basson Loubser (22)
Zinkplaat
Jare ondervinding - onbekend
Ek het telkens my notaboekie vergeet wanneer ek na Zinkplaat gaan luister het. (Ek was al drie kere besig om soos ‘n besetene te m0sh.) Wat ek wel weet is dat hierdie Stellenbosse kitaarspeler goed gekonfyt is met sy instrument – soveel so dat hy verlede jaar as lid van Valiant Swart se band getoer het. Myns insiens het hy die vinnigste regterhand van almal by die KKNK openbaar – hy speel foutloos en vinnig en (amper soos John Petrucci) verkies partymaal om elke liewe noot met sy plektrum te aksentueer. Om te benadruk: sy regterhand is onsettend vinnig. Hy speel skoon, akkuraat en kan ‘n blues solo vinniger uitkarring as ‘n windpomp in ‘n warrelwind. Lang hare stel hom in staat om met flair te headbang.
Ray Dylan (28)
Jare ondervinding – 15
Die skrywer van “Hokaai, stop die lorrie” vul sy backtracks met kitaarspel aan. Hy’s lief daarvoor om ‘n powerchord te speel, sy instrument in die lug te hou en dit triomfantelik te laat sustain. Na ‘n halfuur kon ek steeds nie agterkom waarnatoe hy werklik in staat is nie, aangesien sy oorverdowende backtracks en die aard van sy liedjies hom nie juis toelaat om sy talent ten toon te stel nie. Kort, melodiese fillers tussen die ritmekitaarwerk is al wat my beskore was.
Kitaarspelers by wie ek nie kon uitkom nie of wie ek nie lank genoeg kon waarneem om iets sinvols oor te skryf nie:
Abraham Helberg (Marimba)
Paul van der Merwe (Die Helde)
Cobus Snyman (van Christo en Cobus-faam)
Adriaan de Beer (DNA-strings)
Juan “Floors” Oosthuizen











April 13, 2007 at 8:02 pm |
[...] KKNK 2007 – Kitaarkanon [...]
April 14, 2007 at 5:44 am |
Baaaaie nice post, maar net ‘n vriendelike versoek: Hou asb tydelik op om goed te skryf wat ek weer wil lees of wat my laat verlang of wegvoer van my onmiddellike aamborstige situasie – ek het werk om te doen, deadlines om te haal.
April 14, 2007 at 11:38 am |
Jammer
April 14, 2007 at 1:28 pm |
Kon jy nie dalk vir ons uitvind of Willem Botha nie ook kitaar kan speel nie?
April 14, 2007 at 1:33 pm |
En op ‘n ander noot… ek was nogals bekommerd toe ek Jean-Marie se naam op jou lysie sien. Sy is sekerlik een van die dinge wat my die heel meeste frustreer en bekommer (en sommer nog baie ander dinge ook) van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf op die oomblik. Dit maak eenvoudig net nie sin nie. Dit daar gelaat vir nou. Ek is bly dat jy ook John Petrucci ken, Johan. En lucky Basson! Ek sal nogals redelik goed oor myself voel as iemand my vergelyk met John…
April 14, 2007 at 2:32 pm |
Ek ken almal
Oor Jean-Marie – om net die beste spelers te resenseer, sal puntloos wees. Ek sou graag nog ‘n paar minder vaardige kitaarspelers op hierdie lysie wou sit, maar het daarteen besluit, aangesien ‘n mens ook net soveel oor ‘n verlies aan vaardighede kan skryf. (Ook omdat dit net plein nasty sal wees om hulle af te kraak. Oor ‘n paar jaar speel hulle mos ook beter.) Die mense op hierdie lysie is hier omdat hulle meer kan doen as 3 akkoorde speel – wat sy wel kan doen.
Tog dink ek verstaan ek jou frustrasie. Verskeie van die kitaarspelers met wie ek gepraat het, was effens verbaas dat ek dinge soos picktapping en die gebruik van oktawe by hulle opgelet het. Die probleem is dat die massas wat musiek koop nie werklik weet waarnatoe ‘n kitaar alles gedryf kan word nie – soveel so dat elektriese kitare nou nog nie by plaaslike universiteite se musiekdepartemente erkenning kry as ‘n unieke instrument nie. Min mense besef watter vernuf soms aan hulle openbaar word tydens gigs en ag dit daarom nie vreeslik belangrik nie.
Veral nie as hulle halfdronk is nie. Wat meestal die geval is.
April 23, 2007 at 7:46 am |
hi johan
ek wil net noem dat juan “floors” oosthuizen heel moontlik heel bo-aan hierdie lys moet staan! of dit akoesties of elektries is; of hy vir amanda strydom/lize beekman/coenie de villiers speel en of dit vir anton goosen/nianell is; of dit session-werk op CD’s is, en of dit live op groot en klein verhoë by KKNK is – hy is altyd, altyd spot-on met tegniek en “feel”.
April 23, 2007 at 9:19 am |
dankie vir die noem, nina.
jy’s natuurlik nog steeds welkom om vir my baie live dvd’s en donuts te stuur
May 4, 2007 at 2:52 pm |
Jis, Johan. Ek wil vir my ‘n kitaar aanskaf, ‘n akoestiese ene, en myself so bietjie leer. Wat sal jy aanbeveel? Waarna moet mens kyk? Jy klink vir my na ‘n kenner op die gebied. Sal dit waardeer as jy so bietjie kan raad gee.
Thx
May 4, 2007 at 7:03 pm |
Verkoopsmanne sal jou baie vinnig probeer touwys maak dat sekere kitare (vernaamlik die’s wat jy kan bekostig – altyd heel toevallig) baie MOOI kitare is en dat dit baie MOOI klink en dat dit van ‘n baie GOEIE kwaliteit is (hoe hulle dit meet, sê hulle nooit nie).
‘n Baie groot deel van die “mooiheid” van ‘n kitaar se klank is egter uitsluitlik die werk van jou eie vingers. Hoe jy jou vibratos doen, pinch harmonics kry, die angle waarteen jy jou pick hou, die intensiteit waarmee jy jou pick teen die snare slaan, dié waarmee jy hammerons en pullofs doen, die soort snare wat jy ophet, waar jy daardie spesifieke snare pluk of slaan ensomeer – al hierdie dinge is iets wat elke speler op ‘n unieke manier doen. Elkeen het sy eiesoortige soort klank.
Wat ek dus sal aanbeveel is toewyding en ‘n goeie boek of twee
Wat die kitaar aanbetref – wees eerder op die uitkyk vir goedjies soos intonasie, los sparre binne in die bak (wat aaklige, ongewenste vibrasies kan veroorsaak) krapmerke (jy is na alle waarskynlikheid nie die eerste mens in die winkel wat dit uittoets nie) ensomeer. En gaan loer gerus by Bernard Bravenboer (click op sy naam op van die vorige comments) in; hy’s self ‘n kranige kitaarkenner.
Maak wel seker dat jy ‘n sogenaamde “bekende” naam koop (Ibanez, Yamaha…Bernard, help ‘n bietjie uit hier?). Nie noodwendig omdat dit “beter” kitare is nie, maar omdat hulle customer support probably beter gaan wees as die ding dalk eendag breek.
May 7, 2007 at 8:31 am |
Dankie Johan, dis omtrent ‘n mondvol. Maar, hoe dan nou anders, jy is mos nie ‘n man van min woorde nie. Sal jou moontlik verder begin peper met vrae na die aankoop.
Ciao
May 10, 2007 at 3:01 pm |
Intresante brokkie nuus vir julle (Ek weet dit het niks met kitaarspeel uittewaai nie):
Fritz, Naas en Dawie kom van die selfde patetiese klein dorpie en het almal uit dieselfde skool gematrikuleer.
May 11, 2007 at 5:00 pm |
awesome rubriek.. eks meer as ooit ge-amp om weer saam met jou te wil speel. ai man. ekt flippen baie krag vir mense met passie, goeie werk. by the way, asgevolg van my eertydse konneksie, was ek nogal op die uitkyk vir ‘n review van Deon Meiring, a la Glaskas
anyway, eks nes bernard tonne bly om petrucci se naam in jou rubrieke te sien.. ek love hom. mar seker meer asgevolg van sy seamless odd-time shifting saam met mike portnoy, as opposed to ‘n miljoen ander tegniese terme waarvan ek niks weet nie. either way; ons moet jam.
May 21, 2007 at 6:12 pm |
Ek het jou boek… Een wat Riaan uit jou kamer uitgevat het en in my kamer kom neersit het – “the God of small things” Dink jy jy sal dit nodig he, want jou kamer is so ver om dit af te bring na jou toe…
May 21, 2007 at 6:13 pm |
Ooo ja, as jy teen die tyd nog nie weet nie, ek is in A605, as jy die boek soek…haha
May 21, 2007 at 6:34 pm |
Reg so, ek sal die volle 3 vloere klim en Willem se boek kom haal.
Moet nou net nie gaan staan en ponkie as ek daar aankom nie.
May 21, 2007 at 7:33 pm |
Kan jy ons asb laat weet of die legendaries Crocs ook kitaar kan speel???
May 25, 2007 at 8:54 pm |
Hulle moet nog verder evolve, maar belowe om jou heel eerste te bel sodra hulle opposing thumbs ontwikkel het.
September 11, 2007 at 5:07 pm |
Hey Johan. Dis ‘n cool rebriek. Net ‘n paar goed. Basson is werklik baie goed nes jy se. Nonnie van die melkterte het by dieselfde ou as ek(Howard Nock) les gehad en syt heelwat verder as ek gekom. Ekt ook met Lucinda(volals, melkterte) gepraat oor die feit dat sy nie genoeg “shine” in die band nie, toe se sy dat haar solo’s en inputs baie beter gaan wees op die nuwe album. Nou K2. Ekt hulle gesien in JBay. Ek was nogal impressed. Een van my vriendinne wat in bloemfontein swot het my toe voorgestel aan Kabous. What a guy. Ek was baie beindruk met sy solo’s en veral sy suiwer Hammer-on’s.
September 14, 2007 at 3:29 pm |
Hallo Johan
Ek is ook ‘n tannie wat op 48 jarige ouerdom besluit het om te leer kitaar speel. Ordentlik, nie net hier en daar ‘n druk te kan doen nie. Eintlik het ek myself ‘n hele klomp to do’s belowe voordat ek die groot 50 slaan en kitaarspeel is toe een van dit. Meimaand begin klasneem en agtergekom dis nie van soaard dat ek binne ‘n maand sal kan speel dat die byle huil nie. Teorie glad nie so maklik nie en my vingerpunte is nou al hard. Ek bewonder die kitaarspelers wat ek sien optree, so dat ek eintlik vergeet om bv. vir die kunstenaar wat sing te kyk! Noudat ek weet hoe die vingerwerk is met die drukke en my pinkie wat maar nie wil saamwerk nie, ek sal maar sien. Sal glo volgende jaar kan eksamen doen. Graad 1. Sal maar vir niemand sê ek doen die eksamen nie want netnou haal ek dit nie dan is my selfvertroue in sy kanon! Miskien moet ek maar begin konsentreer op die motorfietsry voor ek 50 is. Met ‘n kritiese dogter van 26 is dit nie altyd maklik om jou pose te hou nie!! groetnis.
September 14, 2007 at 9:51 pm |
Awesome. Awesome verby. (Dit klink vir my asof jy klassieke kitaar neem?)
Die huiltempo van byle is gewoonlik direk eweredig aan die aantal oefening wat ‘n mens insit. As jy klaar geoefen het aan die gr. 1 musiek, moenie die instrument bêre nie. Speel op jou eie daarmee rond. Probeer om verby die bladmusiek en jou onderwyser se spesifieke vingerpatrone te kyk en eerder die instrument self te ontdek. Vind uit waar sit elke liewe noot. Vind uit waar sit dieselfde note op verskillende snare. Speel rond met die note. Sit jou gunsteling CD op en probeer ‘n eenvoudige wysie daarmee saamspeel. Try derdes bysit. Leer hoe om elke toonleer te speel in 1, 2 en 3 oktawe. Mors rond. En mors dan nog rond
Dis een ding om bladmusiek tot perfeksie te kan speel. Dis ‘n ander ding om die instrument te ken.
Sterkte!
September 18, 2007 at 3:53 pm |
heya Johan, ja dit is klassieke kitaar wat ek so dapper is om aan te durf. Ek het Meimand begin en is klaar met die graad 1 werk. Nie gedink ek gaan dit haal nie. Wie sou nou kon dink dat 1 noot twee verskillende name kan hê? Speel ook rond met ander bladmusiek. Dit help nogal. My pa is ‘n konsertinaspeler en het my sus se seun van 14 geleer toe hy 12 jaar oud was. Die knaap speel ook klassieke kitaar, viool, banjo, baskitaar, ritmekitaar. Hy is deel van die Monnas Boereorkes en gaan die jaar by die aardklop optree! ek wens jy kan sien hoe die mannetjie met ‘n musiekinstrument kan toor. Van klassiek, na boeremusiek, na rock! Groetnis Marlien
September 18, 2007 at 8:53 pm |
Knap gedaan
Ek sal hom moet hoor. Pos vir my ‘n kaartjie, ag toooooeeeee?
March 6, 2008 at 12:03 pm |
Hallo Johan
Ek het jou resensie waardeer oor ‘Kabous’ Danie Wessels van K2, ek het dit vir hom uitgedruk, goeie en slegte terugvoering is goed omdat jy nie vir jouself kyk soos die mense voor die verhoog nie. Ek nooi jou uit om weer by KKNK 2008 by een van K2 se vertonings te gaan inloer. Daai outjie is nou KOOKWATER!!!
PS: Jou blog is puik!!!
Groete
March 6, 2008 at 12:27 pm |
Poppiekind – ek is bly julle kon baatvind hierby. Ek sal beslis vanjaar weer loer
October 4, 2008 at 10:17 pm |
[...] laat ek julle met die onvolledige, amptelike nie-amptelike kitaarkanon van vanjaar se KKNK. Click hier (of daar bo) vir ‘n verslag oor die bespelers van die enigste instrumente wat goeie [...]
October 14, 2008 at 12:41 pm |
jan blohm jy rock!!!!!!!!!!!mwa