June 26, 2008
Atlete vir Christus (waarin ek ‘n kitaar slaan) vertrek vanaand vir hulle drie en dertigste jaarlikse toer deur die land. As jy op die volgende dorpies op die volgende datums is, kom groet gerus:
Toerroete
Ma 30 Jun Kimberley Ritchie Koffiefontein
Di 1 Julie Koffiefontein Petrusville De Aar
Wo 2 Julie De Aar Britstown Victoria-Wes
Do 3 Julie Victoria-Wes Loxton Carnarvon
Vr 4 Julie Carnarvon Sterling Williston
Sa 5 Julie Williston Calvinia
Ma 7 Julie Calvinia Loeriesfontein Nieuwoudtville
Di 8 Julie Nieuwoudtville Lutzville Vredendal
Wo 9 Julie Vredendal Clanwilliam Piketberg
Do 10 Julie Piketberg Velddrif Langebaan
Vr 11 Julie Langebaan Yzerfontein Malmesbury
Sa 12 Julie Malmesbury Bloubergstrand
Optredes vind 19:00 plaas op dorpe met vetgedrukte name – gewoonlik in die plaaslike NG-kerk of kerksaal. Plakkate met die nodige inligting is by elke dorp opgesit.
As ek weer hier skryf is dit op ‘n vlakte via GPRS. Wederom!
16 Comments |
1 | Tagged: atlete vir christus |
Permalink
Posted by Johan Swarts
June 25, 2008
Die afgelope paar dae (ek is vir ‘n dag of wat terug in voorstedelike beskawing) het ek opnuut besef hoe irrelevant sommige koerante as nuusdraers besig is om te raak. Elke aand voor ek my kop op die heuwel neergelê het, het ek eers via my selfoon besoek afgelê aan verskeie nuusorganisasies se webtuistes, in ‘n poging om tred te hou met die wêreld se nuutste nuus. Later eers sou ek dieselfde stories op die voorblaaie van verskeie koerante sien.
Ek is doodeenvoudig nie meer bereid om ‘n koerant te koop nie, want vir die prys wat ek vir een moet betaal, kan ek netsowel twintig ander aanlyn lees in die gemak van my eie bed – direk nadat die nuus bekend geraak het. (Op die lange duur het dit natuurlik etiese implikasies, aangesien dit slegte nuus vir bergies en slaptjipswinkels is.)
As jy ‘n selfoonliefhebber is en WordPress.com gebruik, kan jy gerus na http://m.wordpress.com gaan. Met jou selfoon, natuurlik.
12 Comments |
1 |
Permalink
Posted by Johan Swarts
June 24, 2008
“One is not born, but becomes a woman” – Simoné de Beauvior
Pienk. Die dogtertjie voor SPAR se speelgoedrak is pienk aangetrek van kop tot tone. Haar vlegsels vleël. Sy soek die pop op die boonste rak en sy soek dit noú, anders strooi sy haar ragfyn self reg oor die vloer en saai Zimbabwe op aarde. (Platformskoene inkluis.)
Mamma slaan die affêre gade en retaliëer: dit betaam ‘n dametjie nie om so te kere te gaan nie. Jy is ‘n ordentlike meisie. Stof jouself af, trek jou rokkie reg en swyg. Die pop kan jy kry as jy soet is.
Sy’t ‘n pienk koek vir haar verjaardag gekry.
14 Comments |
gender |
Permalink
Posted by Johan Swarts
June 24, 2008
Panarottis se “eat as much as you can”-aanbieding is eintlik maar ‘n klug. ‘n Normale Panarottis pizza word in agt snye gesny, terwyl kelners tydens die spesiale aanbod heimlik ‘n paar snye op ‘n keer vir ‘n tafel vol mense aandra. Om waarde vir jou geld te kry, moet jy dus ten minste agt keer hiervoor wag – anders het jy die prys van ‘n goedkoop pizza vir ‘n paar skywe betaal. Drankies (veral bier en gaskoeldrank) help natuurlik nie hiermee nie, aangesien dit die maag vinniger vul en die lus vir oorvloedige pizzaskywe demp.
Briljante retoriek, ‘n minder as briljante produk – dis seker maar wat ‘n mens goeie bemarking noem?
6 Comments |
eat as much as you can, panarottis, pizza, retoriek |
Permalink
Posted by Johan Swarts
June 23, 2008
Die Skatlam is vandag 23 jaar oud – op die 23ste. Ek self is nie so gelukkig nie, aangesien ek reeds 1 jaar oud geraak het op die 1ste Maart.
Hierdie inskrywing via GPRS vanaf die gevreesde heuwel buite Mosselbaai.
3 Comments |
Lusern, getalle, verjaardag |
Permalink
Posted by Johan Swarts
June 20, 2008
In ‘n rubriek getiteld “Stamkultuur vernietig Suid-Afrika” skryf Vlad du Plessis oor die Afrikaan:
Die Afrikaan moet sosiaal-sielkundig as stamkultuurmens verstaan word. By die Westerling lê die morele lokus van kontrole, normaalweg, by die individu self. By die stamverbonde mens lyk dit anders. In die stamverband verskuif die lokus meer na die kollektiewe bewussyn en selfs na die stamhoof.
Desnieteenstaande sy versuim om te omskryf wat hy met “Afrikaan” bedoel, maak Du Plessis dit baie implisiet wie hy dink die Afrikaan is:
Indien die blote verwydering van die eksterne lokus van kontrole [...] geskied en nie onmiddellik deur ‘n interne lokus van kontrole vervang word nie, sal die premoderne mens vir seker in ‘n morele krisis verkeer. Verklaar dit waarom swart verstedeliking en misdaad onlosmaaklik verbind te blyk? [...] My gevoel is dat die antwoord op die voorafgaande [vraag] ‘n onbetwisbare “Ja” is.
Dit blyk die swartman te wees, aldus Du Plessis. En nie net dit nie – dis volgens hom die primitiewe, swart stamlid wat nog nie die wonderbaarlike Weste in al haar oorvloed kon ontvang nie (en, as ‘n mens so ‘n bietjie rondlees op Praag, ook nooit sal ontvang nie).
Twee dinge het gebeur terwyl ek Du Plessis se woorde gelees het. Ek het gewonder wat my swart, sagmoedige vriend (wat ‘n paar deure van my af in die koshuis woon, Sportwetenskap studeer en daarvan droom om vir Maties se eerste XV op die veld te draf) daarvan sal dink. En daar het flitsbeelde uit my geheue gekruip.
Beelde van rugbyondersteuners met geverfde gesigte wat volhard in die geloof dat hul span die beste in die Weste is, van wit kinders op ‘n voorstedelike skoolpawiljoen wat “na na na, ons is die beste” herhaal en koshuisinwoners wat mekaar poedelkaal op die primitiefste maniere moontlik doop. Ek het ‘n predikant gesien wat ‘n formulier voorlees en ‘n gemeente wat dit dreunend, soos een stam, beaam; ek het Die Stem gehoor, weer besef hoe hoog die Voortrekkermonument van die senotaaf se kant af lyk en ‘n Afrikanerseun onthou wat “die donderse soutie” wat hom in die 100-meter geklop het, binnensmonds vloek.
Du Plessis het ‘n punt beet: daar is ongetwyfeld talle Suid-Afrikaners wat binne stamverband fungeer. Tog jammer vir hom baie van hulle is wit.
16 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans | Tagged: herinneringe, maties, praag, stamkultuur, Vlad du Plessis |
Permalink
Posted by Johan Swarts
June 17, 2008
Die Vatikaan het die verfilming van Angels and Demons (‘n Dan Brown-roman) in die Vatikaanstad verbied op grond van die bewering dat die roman ‘n belediging vir God is. Meen aartsbiskop Velasio De Paolis:
It would be unacceptable to transform churches into film sets so that his blasphemous novels can be made into films in the name of business. [Brown's work] wounds common religious feelings.
Alles goed en wel – dis hulle goeie reg om enige aktiwiteit binne hulle stadsmure af te keur en te verbied. Dis egter jammer vader Marco Fibbi het hierby gevoeg: “Normally we read the script but this time it was not necessary. The name Dan Brown was enough.”
Sy kommentaar herinner aan die Deon Maas en The Golden Compass debakels, waartydens sommige Suid-Afrikaners mekaar via e-pos en SMS versoek het om onderskeidelik Rapport en Ster-Kinekor te boikot. In beide gevalle het die meeste senders duidelik nie die betrokke teks(te) in die spervuur self onder oë gehad nie, want sou hulle dit doen, sou dit vinnig blyk dat die waarskuwings nie korrelleer met die inhoud van die rubriek of die film nie. Dit was ‘n klassieke geval van heksejagte gegrond op niks.
Het koerantlesers en teatergangers geleer uit hulle foute, of gaan ons in 2009 weer sulke boodskappe sien?
(Bronne: The Times, Catholic News Agency)
31 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans, Film, Godsdiens | Tagged: angels and demons, deon maas, the golden compass, vatikaan |
Permalink
Posted by Johan Swarts
June 16, 2008
The Offspring se agtste album, Rise and Fall, Rage and Grace, is vandag (16 Junie) landswyd beskikbaar in Suid-Afrikaanse musiekwinkels – soos oudergewoonte met kritiese, weldeurdagte lirieke. In “Hammerhead” is ‘n spreker byvoorbeeld aan die woord wat eers ‘n soldaat blyk te wees wat veg vir volk en vaderland, tot die einde van die lied aantoon hoe hy in werklikheid ‘n leerlingskieter is. “Hammerhead” integreer ‘n fragment van Psalm 23 toepaslik om ‘n uiters ironiese nadraai aan die liriek te verleen.
Afrikaanse rockers kan baie leer by hierdie ouens – hulle is al vir 24 jaar aan die gang en bly steeds sosiaal relevant (jy kan immers net soveel keer sing oor hoe die middelklas jou bedrieg het voor jy afgesaag raak).
Luister hier na die album.
Opera 9.5 is vier dae gelede (12 Junie) beskikbaar gestel. Die sogenaamde “fastest browser on earth” bied ‘n indrukwekkende aantal funksies, insluitende innoverende navigeringsfunksies vir die muis (gestures), ingeboude ondersteuning vir BitTorrent (Whoohoo!) en voice support wat blindes in staat stel om die web te gebruik. FireFox 3 het ‘n stewige heuwel om te klim as dit voor wil bly in die webbladwedren. (As daar ooit so iets is, bygesê. Ek hou eintlik net van die woord.)
Laai dit hier af.
(Amper vergeet ek om melding te maak van Internet Explorer. Dit suier steeds voort.)
5 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans | Tagged: offspring, opera, psalm 23, rise and fall rage and grace |
Permalink
Posted by Johan Swarts