Vandag, môre, nooit weer saam nie.

Nadat ek die finansiële kat uit die boom gekyk het, het ek besluit om my tjekrekening by ABSA ‘n vriendelike skop onder die anus te gee (hoe’s daai vir ‘n uitgebreide anglisisme?) en eerder hoofsaaklik by CAPITEC (waar ek nou al vir ‘n geruime tyd rekeninge het) te begin bank.

ABSA se bankkoste is bloot onregverdig hoog. As ek eers die prys van, sê, ‘n paar liter petrol per maand aan ‘n instansie moet betaal net om by my eie geld uit te kom, kan daardie instansie gerus ‘n grondboontjieplaas aanskaf en doppies begin kweek. (Sodat hulle dit kan blaas, natuurlik.)

CAPITEC se kliëntediens is stukke beter (navrae is 24 uur beskikbaar en daar is altyd iemand wat die telefoon antwoord). Hulle vereis nie ‘n ID-dokument vir elke knaende klein verandering wat jy aan enigiets wil aanbring nie (daar is webkameras by elke dienspunt). Hulle bankkoste is baie laer (onder andere is daar ‘n vaste fooi op alle OTM-onttrekkings – die bedrag raak nie groter hoe meer jy onttrek nie). Die personeel is vriendelik en professioneel. Die tegnologie wat hulle by takke gebruik, laat ABSA soos ‘n gepantserde grot lyk. Les bes: transaksies met debietkaarte by enige betaalpunt nasiewyd kos niks nie.

ABSA? Vandag, môre, nooit weer saam nie.

(Ja, pa was reg…)

19 Responses to “Vandag, môre, nooit weer saam nie.”

  1. Riaan Oosthuysen Says:

    Ek het regtig nie tyd vir banke nie. Dit is jammer dat mens nie ‘n besigheid kan bedryf sonder banke nie. Ek het onlangs ABSA suksesvol aangevat omdat hulle Boeterente by my wou steel. Sien my kommentaar op die volgende link: http://oosthuysenattorneys.blogspot.com/2008/05/absa-doen-afstand-van-90-dae-boeterente.html

  2. Ke Says:

    Ek het al telkemale (na aanleiding van daardie advertensie) wou vra: Hoeveel van julle gebruik internetbankdienste sonder klere in die bed? Ek het nog nooit die voorreg gehad nie.

    Kortom – ABSA suck. Enige bank wat nog dot matrix printers op grootmaat aanskaf en ‘n ekstra fooi vir internetbankdienste vra is baie vinnig oppad na die museum. Ek’s by FNB. Rasend gelukkig – geen schlepp of drama nie. Call centres wat werk en boonop kan jy alles elektronies doen. My bank ;-)

  3. Riaan Oosthuysen Says:

    Ek probeer weer. My vorige Comment het iewers in die kuberwêreld verlore geraak. Ek dink alle banke is maar dieselfde, maar ABSA is die ergste. Al ons rekeninge is tans by ABSA. Ek het onlangs ‘n eiendom verkoop en toe hef hulle my sommer Boeterente omdat die 90 dae kennis wat ek gegee het op hulle weergawe verval het.

    Jammer vir die link maar sien die inskrywing wat ek daaroor gedoen het.

    http://oosthuysenattorneys.blogspot.com/2008/05/absa-doen-afstand-van-90-dae-boeterente.html

    Dit sou vir my great gewees het as ek nie ‘n bank nodig gehad het nie.

  4. kaalvoetinireen Says:

    ABSAlute kak bank!

  5. PienkZuit Says:

    Capitec is oraait, maar hulle kort goeie internet banking (wat stadig besig is om te gebeur, ek weet. Maar te stadig). Kyk na GoBanking. Jy betaal NIKS om geld te trek by enige PicknPay till nie, hulle het ineternet en foonbankdiens, en meeste transaksies is verniet as jy meer as ‘n paar duisend in jou rekening het. As jy ‘n tak nodig het, is daar meer waarskynlik een naby as Capitec, siende dat PnP en Nebank hulle takke is. O, en hulle het ‘n kredietkaart ook, wat soms net handiger is as ‘n debietkaart.

  6. Johan Swarts Says:

    ek stem, dis die een ding wat hulle kan verbeter. gobanking is inderdaad baie nice. ek verkies tans egter capitec, omdat ek ‘n jaar of twee gelede ‘n bedrag by hulle belê het vir optimale rente. hulle rentekoerse is beter as gobanking s’n.

  7. Wipneus! Says:

    Absa gaan ook binnekort van my ontslae wees ;)

  8. johannes coetzee Says:

    Hulle is maar almal dieselfde…!

  9. Roer Says:

    Die bynaam is nie verniet BLAPSA nie.

  10. konfytbekkie Says:

    Dis vir my altyd interessant hoe ‘n tendens of ‘n “trend” ontstaan… Of hoe ons (of dalk net ek) dit net skielik agterkom…

    Ek mor nou al maande lank oor ABSA en het juis die afgelope maand begin om aktief na ‘n beter bank te soek. Dankie vir almal se opinies en dankie vir Twat wat die onderwerp opgebring (opgeblog?) het…

    ABSA.
    My bank.
    My ondergang.

  11. konfytbekkie Says:

    O en my “trend” aanmerking was eintlik ‘n gedagte wat moes lei na ‘n aanmerking dat ek nou besef die meerdrheid van my vriende die afgelope maand of twee ‘n skuif weg van ABSA (lees: skreeuend weghol) oorweeg.

    Ai ek’s moeg. Slaaptyd.

  12. PienkZuit Says:

    Vir die wat dit oorweeg om van bank te verander, lees hier.

  13. aventer Says:

    O hel…my kennis van die bankwese is minder as die aantal dodo’s wat nog bestaan…ek kry verseker ‘n FF daarvoor

    (vir beskaafdheids redes sal die simbool FF se betekenis geheim bly…)

  14. aventer Says:

    en kan ek net sê…al hierdie uhm…interessante mannetjies en gesiggies maak my senuwee agtig tot in my kleintoontjie…

  15. Johan Swarts Says:

    dis monstericons; hulle verskyn in die plek van mense wat nie by wordpress geregistreer is of ‘n gravatar het nie. jy kan hulle op jou blog ook gebruik. ek dink dit lyk oulik :-)

  16. Rustig Says:

    Ek is by FNB sonder probleme. Hulle bankkoste is net so bietjie buite beheer. Ek het barclays rekening in Engeland en zero bankkoste. Nou wonder ek hoe kan hulle geld maak sonder bankkoste en SA banke nie?

  17. Emil Says:

    Ek baklei al lank me ABSA oor bank koste. Hulle is eenvoudig by verre die duurste.

  18. maeree Says:

    nedbank se kredietkaart-masjiene wil nie my absa kredietkaart aanvaar nie.

  19. Melanie du Toit Says:

    “Oh, so that’s what happened!!”

Leave a Reply