Karwag dons xenofoob op

May 29, 2008

Dié ware verhaal het my vanaand breed laat glimlag. Daar is tog, blyk dit, glimmers hoop tussen die chaos wat ons die afgelope tyd oorrompel het:

‘n Karwag buite ‘n kuierplek in Bellville is onlangs gewaar toe hy ‘n man met sy knuppel bygekom het – soveel so dat laasgenoemde op die grond gelê en spartel het. ‘n Ooggetuie wat hulle gewaar het, loop toe nader om ondersoek in te stel en wil by die karwag weet hoekom hy die arme vent so voeter. Het hy by ‘n kar probeer inbreek?

Nee. Hy wat karwag is, is ‘n immigrant. Die man wat nou op die grond lê, wou hom oomblikke gelede “verwyder”.

Toe veg hy maar terug.


Die wonder van konteks

May 28, 2008


Dit gaan nie oor slag nie

May 26, 2008

Bertus! het my voorgespring. Lees hier wat hy te sê het.

Soms kry ek die gevoel mense verstaan my verkeerd (om enige vorm van emo’geit te verhoed, is laasgenoemde die laaste sin van sy soort vir hierdie inskrywing). As ek skryf LitNet se blogsisteem suig balle, is dit nie omdat ek LitNet haat nie, maar omdat hulle blogsisteem balle suig. As ek skryf Frank Botha skiet spek oor sy trefslae, is dit nie omdat ek ‘n probleem met Frank Botha het nie, maar omdat hy spek skiet oor sy trefslae. As ek skryf Choo Thomas en Peter Popoff lieg, beteken dit nie die Christendom is outomaties ‘n liegspul nie. Dit beteken Thomas en Popoff lieg. Net so: as ek insinueer dat Angus Buchan of Richard Dawkins verkeerd is oor ‘n sekere saak, beteken dit nie ek het ‘n vendetta teen enigeen van die twee nie. Dit beteken bloot ek dink hulle was verkeerd.

Neem Buchan. Behalwe dat sy uitspraak ontoetsbaar is (dis tog onredelik om bloot te wag tot sake weer goed gaan in Suid-Afrika en dan skielik te sê – righto, dit was nou God), is dit nie ‘n baie verantwoordelike een nie, as ‘n mens so kyk na die noodtoestand wat tans aan die broei is. Buitelanders in plakkerskampe word voor die voet vermoor, die ekonomie sal oor die volgende paar jaar ‘n hele paar terugslae beleef en daar is ‘n kragtekort wat moontlik eers oor meer as ‘n dekade opgelos sal word. Die land ervaar probleme wat nie korttermyn oplossings het of kan hê nie. Meer belangrik: die land ervaar probleme wat Buchan se teikengroep heel duidelik nie vinnig gaan oplos nie. Die soort mans, magtig of nie, wat genoeg geld bymekaar kan skraap om tot by Greytown of Nuweland te kom, is in die minderheid. Sestigduisend klink baie, maar dis in werklikheid maar ‘n druppel in die Suid-Afrikaanse see van meer as vier en veertig miljoen.

Is Buchan se boodskap heeltemal vrot? Natuurlik nie. Hoewel sy uitsluiting van vroue amper irriterend is, is daar beslis meriete in sy pleidooi vir mans om meer verantwoordelik teenoor die samelewing te begin leef. Maak sy uitspraak oor Suid-Afrika se redding egter heeltemal sin? Nee. Die laerklas – die armstes van die armes – wat duidelik ook sy boodskap ter harte moet neem, sal dit nooit hoor nie. Almal verstaan nie Engels nie. Hoe gaan God die land red met ‘n oorgrote meerderheid wat nie weet hulle moet dit red nie? Dis ‘n onsinnige uitspraak. Dit beteken egter nie God gaan nooit red nie, of dat God nie bestaan nie, of dat Suid-Afrika nooit gered kan word nie – dit beteken bloot dat Buchan die kat effens aan die stert beet had. Dis al. Buchan. Kat. Stert.

Dieselfde geld vir Dawkins – in die lig van Suid-Afrika (tewens, die wêreld) se huidige toestand, lyk sy verskeie uitsprake prematuur en ondeurdag. ‘n Mens kan nie help om te lag vir die bravade van ‘n vrydenker wat meen die wêreld se probleme gaan saam met godsdiens verdwyn nie. Die gepeupel wat tans ons townships terroriseer, doen dit nie vir twee en sewentig maagde in ‘n hiernamaals nie; geen rower steel en verkrag omdat sy kerk dit vereis nie. Insgelyks het niemand gebid vir Tsjernobil om te ontplof nie, geen sekte het New Orleans onder water gedompel en die tektoniese plate onder China gaan skuif nie – en dis nie asof Vesuvius uitbars elke keer as iets ‘n wolkekrabber tref nie.

Beteken dit Dawkins is ‘n idioot? Nee. Beteken dit Buchan is ‘n idioot? Nee. Dit beteken maar net hulle was verkeerd. En hier raak dit vreemd. Lig ‘n mens dit uit, begin mense om die mond skuim, want Dawkins en Buchan verteenwoordig vir hulle onaantasbare bronne van gesag. Heilige koeie. In plaas daarvan dat mense kompartementaliseer en fokus daarop om die verkeerde uitsprake te kelder, is daar eerder ‘n algehele sentiment dat, as Buchan gekritiseer word, die hele Christendom sommer skielik onder die spervuur gekom het. Word Dawkins se foute uitgewys, is die kritiek op soortgelyke wyse kwansuis ‘n onredelike en irrasionele aanval op Rede. Hoe, wil beide partye weet, durf jy hulle koeie slag?

Hoekom is dit altyd alles of niks? Niemand het van slag gepraat nie. Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor die samelewing om alle heilige koeie onder ‘n vergrootglas te plaas. Die hele koei hoef nie noodwendig van kant gemaak te word nie, maar as daar ‘n verstopte blindederm is (verskoon tog die beeldspraak, ek kan nie aan ‘n beter metafoor dink nie), moet dit verwyder word. Anders vrek die koei. Buchan en Dawkins se uitsprake is (myns insiens) daai verstopte blindederms. Om dit weg te sny, beteken nie skielik hulle is drelle en alle ateïste en / of Christene is droesem nie. Dit versterk (of temper) bloot beide se boodskappe en maak die mensdom hopelik ‘n klein bietjie beter.

Dit gaan nie oor slag nie.


Religious men?

May 24, 2008

Religion is the world’s most divisive label of group identity and hostility. – Richard Dawkins


Mighty Men?

May 24, 2008

Xenofobie

“Jul stres, jul depressies en jul sonde gaan saam met julle trek. Bely dit liewer [...] God gaan Suid-Afrika red…”Angus Buchan.


On behalf of the fool

May 23, 2008

Met apologie aan Gaunilo

Mag ons nooit vergeet dat die bylswaaiers in die huidige xenofobiese aanvalle mense is nie. Mag ons hulle nooit met vae begrippe soos “boos”, “monster” of “ondier” brandmerk en die situasie betreur as die handewerk van ongesofistikeerde primate nie. Mag ons altyd onthou dat daar mense agter die kap van die byl sit en mag ons nooit vergeet dat hulle trots het nie – dat ook hulle nie daarvan hou om honger, gefrustreerd en werkloos te wees nie. Al moor en plunder hulle ook hoé, mag ons altyd onthou dat hulle mense met ‘n eie taal, ‘n eie kultuur en ‘n eie verlede is.

Want as ons dit vergeet, gooi ons hulle blaam by die venster uit.


Die paneel op die horison

May 21, 2008

Dis opwindend om na my eie webspasie te migreer, maar ek moet bieg – ek sluk swaar aan die gedagte om hierdie blog agter te laat. My grootste referrer tot op hede is byvoorbeeld niemand anders as die WordPress Dashboard nie, waar 1,076 verwysings al vandaan gekom het. Ek gaan dié klas verkeer van die WordPress.com gemeenskap nogal mis. (Moenie my verkeerd verstaan nie – ek gaan nêrens heen nie. Ek verhuis net na ‘n plek waar minder mense weet by watter venster hulle moet inkyk om my te kan vind.) Dit beteken ek sal mense van vooraf bewus moet maak van my blog en Google weer mooi moet touwys kry.


Vaarwel, Bertus!

May 21, 2008

Bertus! is onlangs saam met ‘n vriend en ‘n pizzaskyf buite die Swart Bul gewaar, waar hy Strafbare Manslag op sy eentjie gehelp het om gemesselde kallers in koeponvorm te verdien. Dit was dalk die laaste keer wat Bertus! sy erudisie sou uitbyt in die land van melk en xenofobie en daarom was dit ‘n heuglike dog weemoedige aand.

Gaan jou goed, Do Kwang. Stuur ‘n poskaart.


LitNet blogs – terug na die tekenbord

May 20, 2008

LitNet se blogs laat my tans dink aan die eerste drie reëls van Lit se “Miserable”:

You make me come.
You make me complete.
You make me completely miserable.

Die vergelyking is vanselfsprekend. Vir diegene sonder ‘n blog lyk ‘n LitNet-blog dalk aanloklik – dis immers ‘n geleentheid vir “normale outjies” (soos Die Gestorwe Soldaat dit stel) om ‘n “bietjie skouers te skuur met die meningsvormers waarmee ons elke naweek in Rapport verveel en vermaak word”. Jy, Joan Hambidge en daai anonieme omie wat kwaad is vir die kerk kan nou ‘n webtuiste deel. Inderdaad revolusionêr. Tik hier, kliek daar en siedaar: ‘n orgasme des aansiens. (Die insentief om te blog is natuurlik ook nie te versmaai nie – kontantpryse van R1000, R500 en R300 word aangebied vir blogs met die meeste trefslae.)

Gaan dit hou? Met die opstelling wat LitNet tans gebruik, nee. Ek raai LitNet bloggers gaan “completely miserable” à la Lit raak. Die maandelikse R1000 sal nie vreeslik lank werk as insentief nie (hoe meer mense begin blog, hoe kleiner raak die kans immers dat jy die prysgeld losslaan), die opwelling van visueel identiese blogs gaan veroorsaak dat internetgebruikers vinnig belangstelling gaan verloor en die minimale funksionaliteit van die News24-platform gaan bloggers vinnig begin irriteer.

LitNet het regte verkry om News24 se blogplatform te gebruik. In ‘n neutedop beteken dit dat jy nie eintlik data by LitNet stoor nie, maar op News24 se bedieners. Jou data is nie joune nie. ‘n News24 blog bied nie veel meer funksionaliteit as ‘n .plan nie – daar is geen manier om die blog se uitleg te verander nie, blogrolls is beperk tot ander News24 blogs, jou blogspasie word gebruik as advertensiespasie waarvoor jy geen remunerasie ontvang nie, text widgets is buite die kwessie, permalinks is skoonveld, jy kan nie kommentaar (die lewensbloed van ‘n blog) los as jy nie by News24 geregistreer is nie en niks wat jy geskryf het, is uitwisbaar nie. Galg toe met jou as jy ‘n spelfout maak. As jy LitNet se weergawe gebruik, mag jy boonop nie anoniem blog sonder toestemming nie.

In ‘n neutedop – LitNet bied gebruikers blogs wat lyk soos Zimbabwe en presteer soos ‘n lobotomie.

Dis nie ‘n baie volhoubare konsep nie. Die vervelige uitleg gaan lesers op die lange duur wegdryf. As die prysgeld eers begin kwyn, gaan daar nie meer ‘n insentief wees om te blog nie (of, in die geval van die verskeie bloggers met reeds bestaande blogs, ‘n ekstra blog te onderhou nie). Die minimale funksionaliteit behoort bloggers so te frustreer dat hulle na ‘n tyd tog na iets beters sal verhuis. Is dit regtig nodig om eers ingeteken op News24 te wees voor jy enige kommentaar kan los? Maak dit sin om jou gedagtes gratis aan te bied sodat iemand anders geld daaruit kan kry?

Lit se liriek behoort teen die tyd nou al so hard in jou agterkop te weergalm, dat jy dit met ‘n piksteel daar wil uitvoeter. ‘n Sisteem wat saai en opeengehoop lyk, frustrerend min funksies bied en gebruikers inperk eerder as vryheid gee, grawe vanuit die staanspoor vir homself ‘n graf. Dit laat gebruikers “completely miserable”. As jy eers súlke gebruikersvoorwaardes wil voorskryf vir die internet, dan moet jy nie kla as sake op die lange duur platval nie:

Skakels na die webblaaie van ander persone is slegs toelaatbaar vir inligtingsdoeleindes. Dit is jou plig om seker te maak dat jou skakel voldoen aan die webblad waarheen die skakel wys se gebruiksvoorwaardes.

Dis. Die. Internet. Skakels. Is. Goed.

Dit alles gesê is dit vir my ‘n riem onder die hart dat LitNet blogging onder Afrikaanssprekendes probeer bevorder. In beginsel dink ek die idee is goed – veral omdat daar die reeds genoemde simbiose kan ontstaan tussen diegene wat tradisioneel in die gevestigde media publiseer en die’s wat hulle gedagtes hoofsaaklik op die internet plaas.

LitNet: skrik asseblief wakker. Kry WordPress, Movable Type of Joomla en slaan iets beter aanmekaar. Julle idee is prysenswaardig, maar julle uitvoering daarvan grens aan burlesk. Dis ‘n klap in die gesig van enigiemand wat al geblog het en ‘n belediging vir Afrikaners se intelligensie in die breë. Doen ons almal ‘n guns en gaan voort met hierdie projek, maar (en dis ‘n baie groot maar) keer asseblief eers terug na die tekenbord. Julle het dit dringend nodig.


Berugte berigte en dansmetaal

May 16, 2008

In “Ich Will” (ek wil) speel Rammstein die rol van bankrowers wat deur die media opgehemel word. Die video (‘n puik stukkie kinematografie) toon aan hoe hulle ‘n bank binnestorm, gewelddadig beset en dan na buite gaan voor Christian “Flake” Lorenz (keyboardspeler) selfmoord pleeg en die bank in sy peetjie blaas met ‘n eksotiese bom wat aan sy borskas vasgebind is. Buite word hulle nie net gekonfronteer met ‘n massa polisiemanne nie, maar staar hulle ook, nogal kordaat, ‘n see van kameras en mikrofone in die gesig.

This,” meen Richard Kruspe (kitaarspeler) shows…the attention through the robbery…that you became the “darling” of the media – through manipulation of course – because all the media wants is to show those pictures, this is kinda absurd, decadent, fucked up in the end…that you’ll be rewarded…”

Ek dink dis op ‘n siek manier waar van Suid-Afrika ook. Neem die Lotz-sage: was dit regtig nodig vir koerante om daagliks elke miniskule detail daarvan te volg? Was die enigste werklike nuus nie maar die uitspraak van die regter nie? Daar is 101 items in Die Burger se argiewe met die tag “Fred van der Vyver” – 90 hiervan is nuusberigte. Wat op aarde was die punt daarvan? Maak dit nie veel meer sin om bloot drie artikels te publiseer nie? Lotz is vermoor. Fred is aangekla. Fred is onskuldig bewys. Klaar.

Nee. Dis winsgewend om 90 berigte oor Fred van der Vyfer te skryf. Dis ook winsgewend om berigte oor rooftogte en moord en verkragtings te skryf. Maar is dit eties? Is dit die reg om misdaad te gebruik om sirkulasiesyfers deur die dak te laat skiet? (Kom ons wees nou maar eerlik – enigiets meer as ‘n paar feitelike artikels is sensasiemasturbasie.)

Kyk gerus ‘n bietjie na Rammstein. (As jy nie die musiek kan waardeer nie, loer ten minste na die beeldmateriaal – dis net so goed vervaardig.) Watter parallelle is daar met Suid-Afrika?