LitNet se blogs laat my tans dink aan die eerste drie reëls van Lit se “Miserable”:
You make me come.
You make me complete.
You make me completely miserable.
Die vergelyking is vanselfsprekend. Vir diegene sonder ‘n blog lyk ‘n LitNet-blog dalk aanloklik – dis immers ‘n geleentheid vir “normale outjies” (soos Die Gestorwe Soldaat dit stel) om ‘n “bietjie skouers te skuur met die meningsvormers waarmee ons elke naweek in Rapport verveel en vermaak word”. Jy, Joan Hambidge en daai anonieme omie wat kwaad is vir die kerk kan nou ‘n webtuiste deel. Inderdaad revolusionêr. Tik hier, kliek daar en siedaar: ‘n orgasme des aansiens. (Die insentief om te blog is natuurlik ook nie te versmaai nie – kontantpryse van R1000, R500 en R300 word aangebied vir blogs met die meeste trefslae.)
Gaan dit hou? Met die opstelling wat LitNet tans gebruik, nee. Ek raai LitNet bloggers gaan “completely miserable” à la Lit raak. Die maandelikse R1000 sal nie vreeslik lank werk as insentief nie (hoe meer mense begin blog, hoe kleiner raak die kans immers dat jy die prysgeld losslaan), die opwelling van visueel identiese blogs gaan veroorsaak dat internetgebruikers vinnig belangstelling gaan verloor en die minimale funksionaliteit van die News24-platform gaan bloggers vinnig begin irriteer.
LitNet het regte verkry om News24 se blogplatform te gebruik. In ‘n neutedop beteken dit dat jy nie eintlik data by LitNet stoor nie, maar op News24 se bedieners. Jou data is nie joune nie. ‘n News24 blog bied nie veel meer funksionaliteit as ‘n .plan nie – daar is geen manier om die blog se uitleg te verander nie, blogrolls is beperk tot ander News24 blogs, jou blogspasie word gebruik as advertensiespasie waarvoor jy geen remunerasie ontvang nie, text widgets is buite die kwessie, permalinks is skoonveld, jy kan nie kommentaar (die lewensbloed van ‘n blog) los as jy nie by News24 geregistreer is nie en niks wat jy geskryf het, is uitwisbaar nie. Galg toe met jou as jy ‘n spelfout maak. As jy LitNet se weergawe gebruik, mag jy boonop nie anoniem blog sonder toestemming nie.
In ‘n neutedop – LitNet bied gebruikers blogs wat lyk soos Zimbabwe en presteer soos ‘n lobotomie.
Dis nie ‘n baie volhoubare konsep nie. Die vervelige uitleg gaan lesers op die lange duur wegdryf. As die prysgeld eers begin kwyn, gaan daar nie meer ‘n insentief wees om te blog nie (of, in die geval van die verskeie bloggers met reeds bestaande blogs, ‘n ekstra blog te onderhou nie). Die minimale funksionaliteit behoort bloggers so te frustreer dat hulle na ‘n tyd tog na iets beters sal verhuis. Is dit regtig nodig om eers ingeteken op News24 te wees voor jy enige kommentaar kan los? Maak dit sin om jou gedagtes gratis aan te bied sodat iemand anders geld daaruit kan kry?
Lit se liriek behoort teen die tyd nou al so hard in jou agterkop te weergalm, dat jy dit met ‘n piksteel daar wil uitvoeter. ‘n Sisteem wat saai en opeengehoop lyk, frustrerend min funksies bied en gebruikers inperk eerder as vryheid gee, grawe vanuit die staanspoor vir homself ‘n graf. Dit laat gebruikers “completely miserable”. As jy eers súlke gebruikersvoorwaardes wil voorskryf vir die internet, dan moet jy nie kla as sake op die lange duur platval nie:
Skakels na die webblaaie van ander persone is slegs toelaatbaar vir inligtingsdoeleindes. Dit is jou plig om seker te maak dat jou skakel voldoen aan die webblad waarheen die skakel wys se gebruiksvoorwaardes.
Dis. Die. Internet. Skakels. Is. Goed.
Dit alles gesê is dit vir my ‘n riem onder die hart dat LitNet blogging onder Afrikaanssprekendes probeer bevorder. In beginsel dink ek die idee is goed – veral omdat daar die reeds genoemde simbiose kan ontstaan tussen diegene wat tradisioneel in die gevestigde media publiseer en die’s wat hulle gedagtes hoofsaaklik op die internet plaas.
LitNet: skrik asseblief wakker. Kry WordPress, Movable Type of Joomla en slaan iets beter aanmekaar. Julle idee is prysenswaardig, maar julle uitvoering daarvan grens aan burlesk. Dis ‘n klap in die gesig van enigiemand wat al geblog het en ‘n belediging vir Afrikaners se intelligensie in die breë. Doen ons almal ‘n guns en gaan voort met hierdie projek, maar (en dis ‘n baie groot maar) keer asseblief eers terug na die tekenbord. Julle het dit dringend nodig.