Rock bly ‘n kuns. ‘n Goeie rocklied saam met ‘n goeie musiekvideo is netsoveel werd soos bekroonde literatuur of skilderye in gallerye. Die fout wat mense gereeld maak, is om rockmusiek as ‘n laer musiekvorm te beskou deur dit te vergelyk met iets soos ‘n simfonie. Myns insiens mis hulle die punt. Nes jy nie ‘n gedig en ‘n balletvertoning op dieselfde meriete kan beoordeel nie, so kan jy nie rock (wat ontstaan uit ‘n unieke sameflansing van tegnologie, konteks, liriek en musiek) oor dieselfde kam as ander musiekvorme skeer nie. En andersom, natuurlik.
Daar is dilettansie daarbuite. Daar is (en sal seker altyd wees) baie onvaardige instrumentaliste wat nie veel meer as powerchords kan speel nie en verwag die gepeupel moet hulle aanbid asof hulle Satch self is. (Van die os op die jas: Satch het ‘n nuwe album uitgebring.) Hulle verdien ‘n plekkie onder die son. Ook is daar lirici wat steeds geykte temas op geykte maniere omskryf. Selfs hulle verdien ‘n plekkie onder die son. Daar is egter dié wat hulle instrumente toenemend bemeester en uitbuit om nuwe klanke te skep, nuwe harmonieë by woorde te voeg en ‘n atmosfeer op te tower wat in geen ander genre geskep kan word nie. Hulle verdien meer plek.
Is dit die geval in Afrikaans? Is Afrikaanse rock deurgaans innoverend en relevant? Behalwe vir ‘n paar uitsonderings is ek nie so seker hieroor nie. Meer daaroor later. Vir nou, geniet Fightstar:











April 29, 2008 at 1:57 pm
Na my mening is daar op die oomblik relatief min binne die Afrikaanse Rock genre wat werklik authentic is (’n probleem in die groter Afrikaanse musiektoneel sou ek sê) mense kan net nie deur daardie grens van generics breek nie…
April 29, 2008 at 4:09 pm
Ek stem tot ‘n mate saam. Hoe waar is dit om te sê rock is besig om vinnig net so kommersiëel te raak soos die “pop” wat hulle “haat”?
April 29, 2008 at 5:29 pm
Jis, nice song. My tipe musiek
April 30, 2008 at 12:12 pm
alles goed en wel johan. ek stem saam dat rockmusiek nie noodwendig oor dieselfde kam geskeer kan word as kunsmusiek nie. ek beskou die een wel as meer intellektueel en hier mag jy dalk van my verskil.
die punt is, rockmusiek is reeds gevestig en dus behoort daar nie ‘n probleem te wees wanneer dit krities benader word nie, maak nou nie saak met wat en hoe daar vergelykings getref word nie. dit is veronderstel om nou al selfstandig genoeg te wees sodat dit onafhanklik teenoor ‘n goeie genre soos klassieke musiek kan staan sonder om so “sensitief” voor te kom. ek wil net weet waarom dit juis klassieke musiek is wat gebruik word in advertensies van luukse motors / sukses? en indien rockmusiek enigsins intellektueel sou wees, waarom meeste van die rockers nie die moeite doen om hul kitare te tune nie? Weet hulle nie hoe nie? Of blend dit net mooi met die vals note wat tydens live vertonings voorkom?
Net om een ding duidelik te maak, ek skiet nie rockmusiek af nie. Ek is baie bly dat Afrikaanse rock tans so goed doen!
April 30, 2008 at 12:28 pm
Hehe, ek verskil reeds van jou wanneer jy sê dat rockmusiek nie kunsmusiek is nie. Sommige rockmusiek is, en sommige is beslis nie.
‘n Kritiese benadering teenoor rock is inderdaad nodig. Dit is inderdaad moontlik (ek wil myself amper “weerspreek” en sê noodsaaklik) om dit met klassieke musiek te vergelyk. Die probleem kom in wanneer dit nét as sodanig vergelyk word, want daar is meer elemente aan rock album as slegs die blote note. Rock is, soos opera, ‘n “interdissiplinêre” musiekvorm. Daar is nie slegs musiek ter sprake nie, maar ook vorme van teatraliteit, poësie en vervaardiging.
Advertensies werk met stereotipies. ‘n stereotipe van klassieke musiek is dat dit superieur is. (Wat dit beslis is op ‘n sekere vlak.)
Rockers met ongestemde kitare is slapgat. Punt. Ek gaan nie eers van jou probeer verskil daar nie