Dis nou reeds ’n geruime tyd ná die dwelmklopjagte op Stellenbosch. Na aanleiding van die baie klagtes, uitroepe van verontwaardiging en ’n optog op die Rooiplein, sou ’n mens ’n ongekende vasberadenheid onder studente verwag om misdieners van die gereg aan die pen te laat ry. So wat het hiervan geword?
Klaarblyklik nie veel nie. Dis asof studente net daarvan vergeet het. Sien jy mense op pad na Bohemia, mag terugflitse van lae kwaliteit flash video à la Die Burger-webtuiste en rillings in jou rugstring dalk voorkom; staan ’n polisieman voor jou in die ry by Pick & Pay mag jy dalk ’n entjie wegstaan. Dis ’n natuurlike oorlewingsmeganisme – niemand wil fisieke skade opdoen as dit verhoed kan word nie. Dankie, evolusie.
But I digress. Ons godvresende studentedorpie is nou ook skytpoliesbang (sê dit vinnig, dit klink cool), maar wat het van die verontwaardiging oorgebly? Van vasberade Maties wat petisies vir menseregte teken en na die Rooiplein stroom om die SR-voorsitter aan te hoor? Het daar enigiets gekom van die klagtes wat by die polisie ingedien is? Of het hierdie hele situasie maar net tussen studente-apatie en liters bier verdwyn? Die optrede van die polisie was ongetwyfeld ongevraagd. Dis ou nuus. Tog is daar iets anders van hierdie situasie wat bly pla.
Ek en ’n vriendin sit onlangs (op die stoep van ’n gebou wat nié ’n dranklisensie het nie) en gesels oor die klopjagte, en sy maak toe ’n baie geldige punt: Daar is soveel misdaad en ekonomiese ongelykheid op en om Stellenbosch, maar ons steur onsself klaarblyklik nie daaraan nie. Ja, hier en daar ry bussies vol studente tydens JOOL na voorheen benadeelde gebiede en gaan bou ’n groentetuin of verf ’n muur, maar in die breë lyk dit nie juis of studente bekommerd is oor die heropbou van ’n verdeelde en soms misdaadgeteisterde samelewing nie.
“It takes a few rich white kids being slapped around for us to mobilise around anything,” meen my vriendin oor die optog. En sy het ’n punt beet. Hoeveel optogte is gehou vir die verkragtings verlede jaar? Vir ’n dronk student wat in 2007 wéér uit Helshoogte geval het? Die Wilgenhoffers wat meisies destyds met ’n windbuks geskiet het? Die diefstal van potplante en padtekens? Of die naglewe in klubs wat steeds grotendeels gesegregeerd is? Krap dit studente nie eers ’n bietjie om dat beurse vir voorheen benadeeldes soms nie eers hul verblyf dek nie?
Die antwoord is eenvoudig (en hartseer): nee. Want dit traak ons nie. Daarom sal ons ook nie weet van die krisis in Darfoer, die situasie in Burma of die resessie in Amerika nie – laat staan nog enige plaaslike probleme. Te oordeel na die reaksies van studente is die grootste probleem die miskenning van óns menseregte. Óns wou kuier in óns klubs, óns is hardhandig behandel, daarom sal óns kapsie maak en ’n optog reël.
Dis tog o so onregverdig om rondgeruk te word met ’n shot nog halfpad in jou keel af. Maar laat een arme bergie nou net een keer aangerand word op die sypaadjie langs Bohemia, dan kyk ons anderpad, teug ons aan ons drankie en wens ons stilweg hulle kan net verdwyn. Dan is die einste menseregte en menswaardigheid waaroor daar so selfversekerd betoog is, skielik nie meer so dringend nie. Dan, op die godvresende dorpie met die skytpoliesbangerige inwoners en die omringende reste van apartheid, resoneer studente-apatie soos ’n Fokofpolisiekartreffer: “Daar’s nog baie bier / om te drink / en kak om te praat / voor ons die wêreld begin regmaak.”
Wat gaan uit die petisies en die verontwaardigde optog spruit?
Niks nie. Ons het mos nog bier.
(Ook hier beskikbaar)











April 10, 2008 at 7:23 pm
Johan, hierdie is net mooi ‘n baie kort samevatting van hoekom ons land lyk soos wat hy lyk. Die misdaad, die korrupsie en ook destyds die apartheids ongeregtighede.
Solank dit my nie raak nie, dan pla dit my ook nie. Ek druk my kop in die sand en glo net iemand sal nie my gat raak ry nie. En as dit my op ‘n dag raak, dan verhuis ek na Kanada, Nieu-Zeeland of Australië, sodat ek daarvandaan kan kla, want ek wil nie die effort aangaan om deel van die oplossing te wees nie.
En ek weet ek steek nou my kop ver uit om afgebyt te word deur die ex-Suid-Afrikaners. Sorry mense, maar dis my opinie en ek het die hardkoppige neiging om te staan en te val vir dit waarin ek glo.
April 10, 2008 at 8:35 pm
Hoor, hoor!
April 10, 2008 at 9:00 pm
Slaan die spyker op sy kop. As dit ons nie raak nie, is dit iemand anders se probleem. Het my altyd laat dink dat tydens Jool samel hulle geld in vir een of ander organisasie wat mense help rehabliteer van alkoholisme. Is maar werelds siening. As hulle more olie in Zim ontdek is Amerika eerste daar en Bob en “homies” sit in Den Haag; verhoor afwagtend vir mensereg skending.
April 10, 2008 at 9:01 pm
Sonkind: Ek is ook oppad na Kanada, al sewe jaar in Ierland, voor dit vier jaar in Oostenryk. Ek is van die “trek volk” van Namakwaland.
April 11, 2008 at 4:04 am
Uitstekend gestel. Baie waar woorde. Tyd sal leer, maar ek hoop van harte ons kan die situasie soos jy dit geskets het omkeer.
April 11, 2008 at 12:37 pm
amen!
preach brother preach!
skink nog ‘n bier.
April 11, 2008 at 2:14 pm
Ware ware woorde!
Nog altyd eienaardig vir my gewees hoe baie mense erg polariseer wanneer proaktiewe “naaste-diens” ter sprake kom…of jy gee ‘n vlieënde f*k vir jou medemens en die se lot om, of jy is ‘n irrasionele filantroop wat glo dat ‘n lewe gewy aan die melaatses van Kalkutta jou ‘n beter mense gaan maak. Beide met ‘n tikkie van daardie eie -en argwaan waarvan jy hierbo praat.
Ek wonder partykeer hoe lank en hard ons in SA nog gaan moet sufffer voor ons gaan besef dat ons mekaar nodig het…en daarin dan uitreik na mekaar op een of ander gelyke gedeelde middelgrond…
April 11, 2008 at 2:27 pm
Johan,
Die beurse wat deur die instelling waarvoor ek werk beskikbaar gemaak word (uitsluitlik aan voorheen benadeeldes), ook aan die US, dek nie alleen alle studiegeld, boekgelde, eksamengelde, verblyf, alle etes en so nie, dit sluit selfs R2000 per maand in vir spending money.
Die beurse word ongelooflik gekritiseer deur Universiteits owerhede want hulle wys daarop dat studente wat a.g.v. hierdie beurse absoluut geen uitgawes het nie, hierdie geld normaalweg net uit party. Van die studente spaar natuurlik hierdie geld of ontvang dit a.g.v. die spesifieke betrokke universiteit in ‘n lump sum van R24000.
Dus, darem nie alle beurse cover skaars verblyf nie…
Oor die punt wat jy eintlik maak, ek het ‘n gevoel dat die meeste mense en nie net studente nie nogal voel soos daai Fokofpolisiekar lirieke. Daar sal nie regtig ooit enige iets uit sulke protesoptogte spruit nie, dis makliker om bloot in ontkenning te leef.
April 11, 2008 at 3:23 pm
Dit lyk my Suid-Afrikaners gaan nooit kan wegkom vanaf die ras-demoon nie. Die voorval in STB (ek was toevallig in SA toe dit plaasgevind het) moet veroordeel word ongeag die ras van die persone ter sprake (en ditto die Kovsies-voorval). En net so moet enige onregverdige voorvalle teen enigiemand (bergies inkluis) veroordeel word. Naasteliefde is ‘n Christelike konsep (vir my) en geensins gekoppel aan ras nie. Ek glo dat Afrikaners egter ook maar bietjie hulle skuldlas kan los. Ek het nog min Afrikane in opstand sien kom as ‘n Afrikaan ‘n blanke gesin bv. martel en vermoor. Die skaal swaai dus 2 kante toe en is ‘n simptoom van ‘n histories gepluraliseerde samelewing.
Laastens dink ek die nihilistiese gevoel van “Fuck the World” is ‘n internasionale tendens onder veral die jonger geslag en mens behoort dit nie aan ‘n sekere ras of volk te koppel nie. Hier in Korea kuier die studente hulleself ook stukkend (hier is ‘n universiteit naby my) en ek is nie bewus van enige spesiale sosiale gewete of uitreik-aksies teenoor minder welgesteldes (al is daar min) nie.
April 12, 2008 at 9:21 am
Ons is gatvol…dis hoekom
Die jeug is gatvol vir “black empowerment”. Tot die swartjeug is nou al moeg daarvoor.
Die ding is, ons leef tussen volwassenes (40+) wat ‘n grudge hou teen die mense van die Apartheidsjare…dit is so…
Die jeug het kamaraadskap (comeradeship) verloor, ons staan nie saam nie ons staan vir onsself, ons sê nie wat ons pla nie, ons leef ons gevoelens uit.
Meeste jeugdiges is so gepla met “image”..dis amper asof daar ‘n houding is van, no one gives a sh*t. Dit maak my kwaad. Dis elkeen vir homself. Dit hoort nie so nie, as ons nie saamstaan nie gaan ons niks uitrig nie.
Uit die mond van die suigeling…ons is te bang om ons bekke oop te maak en ons sê te sê. Hoekom? Want dis nou ewe skielik te veel moeite…
April 12, 2008 at 12:49 pm
Vanoggend ‘n cool muurkuns boodskap op ons kampus raakgeloop…
http://duskant.wordpress.com/2008/04/12/in-rooi/
April 13, 2008 at 10:13 am
Johan mens is geskok deur die onthulling van Da Mario. Net ‘n vraag: In ‘n nie-sosialistiese land soos ons s’n – wel veronderstel om te wees – moet daar mense wees wat net sit en wag ek krepeer, vir iemand anders om uit te reik? Moet ons nie elkeen maar uitspring en werk om vir onsself ‘n lewe te maak nie?
April 13, 2008 at 10:36 am
Da Mario – Yes, ek’s bewus van sulke beurse. (En dis werklik wonderlik). Ek praat van sommige van die beurse wat die universiteit self beskikbaar stel. Daar is letterlik gevalle van studente met US-beurse wat gaan squat het in Khayamandi, omdat hulle nie verblyf kon bekostig nie. Die feit van die saak bly staan – swot kos geld. Maar as ‘n instansie iemand lok met ‘n beurs en die beurs is dan nie eers genoeg om vir ‘n jaar se verblyf te betaal nie, dan skort iets.
Ewenwel, ek het dit deur die grapevine dat die US dit begin opvolg en fix (die beurse is obviously nie aspris klein nie).
mykopop – Ek is ‘n sterk teenstaander van bedelary. Begging demeans both the begger and the giver. Ek stem tot ‘n groot mate met jou saam, want dit gaan beslis nie hier vir my om ryk mense wat insolvente mense sonder meer net moet onderhou nie. Maar sosialisme is nie eintlik die punt hier nie
April 15, 2008 at 1:51 am
Dis alles goed en wel om alles te blameer op mense wat nie mekaar wil help nie, maar wat van hierdie idee: Wat van mense HELP HULLESELF. Hierdie “dis alles selfsugtigheid se skuld” is sommer onsin. Hoekom moet EK betaal vir iemand wat nie werk nie? Hoekom moet EK my geld en kos gee vir iemand wat nie dit verdien het nie?
Johan, ek wil net gou hoor, jy kla omdat beurse te klein is? Van wanneer af is beurse ‘n reg? Van wanneer af is opvoeding ‘n reg, en nie iets waarvoor jy moet werk nie? Meer as dit, van wanneer af is opvoeding by ‘n super-duur instansie soos Stellenbosch ‘n reg? Jy kan mos enige tyd by Unisa gaan swot vir ‘n fraksie van die koste van Stellenbosch. Ek self is baie spyt ek het nie. But I digress.
Mykopop – Surprise, ons land word beskou as ‘n sosialistiese land. Hoekom? Want daar is arbitrêre “restrictions” op die ekonomie (wat natuurlik dit verswak, soos die politikuste[spelling?] en ekonome goed weet, maar die mense stem vir sosialisme want dit klink goed in speeches["Ons gee vir julle ALLES!" klink beter as "Julle moet werk vir alles!"]). Voorbeeld: Behuisingsprojek wat vir die arm mense vir ridiculously lae pryse huise bou. Voorbeeld: BEE.
Maar nouja, terwyl niemand iets weet van ekonomie nie, sal ons nog altyd die vertraagde konsepte van sosialisme, kommunisme en “almal help mekaar” mentaliteit kry. Oja, en spaar my die retoriek van “kapitalisme lei tot monopolie”, dit doen nie, voorbeeld: Amerika, voorbeeld: alle groot besighede enige plek wat ook maar net tydelik market share hou. En ek sweer, as ek Marx hoor, dan gaan ek persoonlik die persoon wat daardie [voer kragwoord hier in] aanhaal kom onthoof.
Ok, ek is nou sommer opgewerk.
April 15, 2008 at 2:28 am
Ek wil net noem dat ek verskriklik sterk voel oor hierdie saak, want ek sien oor en oor dat mense argumenteer om vir mense rede te gee om NIE te werk nie. Dit maak my oud.