Die ongelooflike resolusie-eksperiment

April 30, 2008

Oeps…ek besef vandag ek is besig om ‘n tema vir gormendizer.co.za te ontwikkel met ‘n minimum skermresolusie van 1024×768, maar ek weet nie wat julle hoofsaaklike resolusies is om mee te nie begin nie. Dis natuurlik ‘n probleem. Ek kan nie voortgaan met die ontwerp voor ek weet wat julle skermresolusies is nie, so hier is ‘n klein eksperimentjie waaraan almal kan deelneem:

Stap 1: Click asseblief hier. Dis ‘n direkte skakel na my webspasie met ingebedde Javascript van Sitemeter. Die kode tel onder andere op wat jou skermresolusie is en stel ‘n netjiese grafiek met die ingesamelde data op.

Stap 2: Verlustig jouself in die resultate, beskikbaar by: http://sitemeter.com/?a=s&s=s47gormendizer&r=73.

Watter resolusies gebruik julle? Ek eet my hoed op as 640×480 kop uitsteek.


Wat is in sy oor?

April 29, 2008

‘n Paar inskrywings gelede het ek melding gemaak van ‘n sekere Peter Popoff. Popoff, vir die wat nie weet nie, is ‘n televangelis (spel ek dit reg?) wat in die tagtigerjare uitgevang is met bedrog tydens kerkdienste. Hy was bekend daarvoor dat hy “op die inspraak van die Heilige Gees” kerkgangers met skete en kwale op die mees onmoontlike maniere kon identifiseer en hulle sommer daar en dan gesond bid. ‘n Tipiese situasie in een van sy eredienste sou rofweg as volg lyk:

Popoff Ek voel…ja…ek voel Jeeeeesus sê vir my dat ‘Ant Santie Pretorius van Wilgerlaan 17 hier in die voorste ry…

‘Ant Santie (aside) Maar…dis dan ek!

Popoff …ly aan hewige hoofpyne en ‘n loperige maag…

‘Ant Santie (luidrugtig) Halleluja, dis ekke daai! Dis ekke!

Popoff …wat Jeeeesus vir haar wil genees vanaand!

‘Ant Santie (buite haarself) Dis ek, pastoor Popoff! Hier is ek!

Popoff Ja, daar is sy, nes die Gees my voorgesê het. In ry twee, reg voor die kansel.

‘Ant Santie (huil)

Popoff (Lê ‘Ant Santie die hande op) In die naam van Jeeeeesus beveel ek hierdie hoofpyn en loopmaag en enige ander kwale om te verdwyn. Wyk, Satan! Wyk!

‘Ant Santie (val vlou)

*’n Hipotetiese vertaling

Hoe kon hy immers weet ‘Ant Santie woon in Wilgerlaan 17? Kerkgangers het gewoonlik in verwondering gestaan oor Popoff se direkte telefoonlyn na God. Tot James Randi eendag besef het dis te goed om waar te wees en kon bewys dis toe al die tyd Popoff se vrou wat gebedsversoekkaartjies via radio vir hom voorlees.

Popoff het homself dadelik bankrot verklaar, maar jare daarna weer sy verskyning met dieselfde bedrogspul gemaak. ‘n Vinnige loer na sy webtuiste wys dat hy steeds die blye boodskap prostituteer met uiters onverantwoordelike welsynsteologie. En dis hier waar ek begin wonder. Popoff en kie (daar is baie nes hy daarbuite) teer letterlik op mense se emosies en maak staat op manipulasie om aan die lewe te bly. Vir jare nou al. En dit blyk asof dit ‘n wêreldwye fenomeen is.

Is daar Suid-Afrikaanse ekwivalente vir Popoff?

As jy aan ‘n kerk behoort waar soortgelyke genesingsrites plaasvind, wil ek graag by jou weet (met die grootste respek en uit pure nuuskierigheid):

Dra jou pastoor ‘n oorstuk?


Vernuftig oor die klippertjies

April 29, 2008

Rock bly ‘n kuns. ‘n Goeie rocklied saam met ‘n goeie musiekvideo is netsoveel werd soos bekroonde literatuur of skilderye in gallerye. Die fout wat mense gereeld maak, is om rockmusiek as ‘n laer musiekvorm te beskou deur dit te vergelyk met iets soos ‘n simfonie. Myns insiens mis hulle die punt. Nes jy nie ‘n gedig en ‘n balletvertoning op dieselfde meriete kan beoordeel nie, so kan jy nie rock (wat ontstaan uit ‘n unieke sameflansing van tegnologie, konteks, liriek en musiek) oor dieselfde kam as ander musiekvorme skeer nie. En andersom, natuurlik.

Daar is dilettansie daarbuite. Daar is (en sal seker altyd wees) baie onvaardige instrumentaliste wat nie veel meer as powerchords kan speel nie en verwag die gepeupel moet hulle aanbid asof hulle Satch self is. (Van die os op die jas: Satch het ‘n nuwe album uitgebring.) Hulle verdien ‘n plekkie onder die son. Ook is daar lirici wat steeds geykte temas op geykte maniere omskryf. Selfs hulle verdien ‘n plekkie onder die son. Daar is egter dié wat hulle instrumente toenemend bemeester en uitbuit om nuwe klanke te skep, nuwe harmonieë by woorde te voeg en ‘n atmosfeer op te tower wat in geen ander genre geskep kan word nie. Hulle verdien meer plek.

Is dit die geval in Afrikaans? Is Afrikaanse rock deurgaans innoverend en relevant? Behalwe vir ‘n paar uitsonderings is ek nie so seker hieroor nie. Meer daaroor later. Vir nou, geniet Fightstar:


Die onvergeetlike inskrywing

April 29, 2008

Vergeet gou van hierdie sin. Dink baie hard daaraan, draai drie keer in die rondte en vergeet dit. Laat dit heeltemal gaan.

Moeilik, né?

Die woordjie “vergeet” is een van die vreemdste verbums in Afrikaans (of enige ander taal, wat dit aanbetref). Dit word geklassifiseer as ‘n werkwoord, maar tree nie heeltemal so op nie. Daar is nie sprake van enige handeling nie – niks word uitgevoer of teweeggebring nie. Inteendeel, daar is ‘n absolute afwesigheid van enige aksie hoegenaamd. Anders as meeste ander verbums (dink aan “retireer”, “fnuik”, “voeter”, “slier”) dui “vergeet” nie op aksie nie. Dis ‘n verlies aan die funksies van werkwoorde soos “onthou” of “byval”. Dis nie handeling nie, maar die afwesigheid van handeling.

Jy kon nie die heel eerste sin van hierdie inskrywing vergeet nie, want om iets te vergeet, vereis dat jy nie daaraan dink nie (of ‘n hou teen die kop). Om iets te lees is tog om daaraan te dink. Dis onjuis om iets bewustelik te probeer vergeet, want “vergeet” is ‘n onwillekeurige proses, sonder intensie of bybedoelings.

Dus: huiswerk. Vergeet van hierdie inskrywing. Sodra jy dit regkry, kom terug en vertel ons daarvan.

(Ek raai “vergeet” tree meer op soos “wees” of “bestaan”, wat eerder ‘n toestand as ‘n aksie aandui. Dit word egter nie soos laasgenoemdes gebruik nie en pas in elk geval beter saam met naamwoorde soos “mitose” of “kondensasie”, wat op prosesse dui.)


Miljoene jare gelede

April 26, 2008

Verskoon tog hierde een as jy moeg is om oor Frank Botha te lees, maar dié juweeltjie is net te goed om te verswyg:

Frank Botha laat my dink aan die oorlogsveterane in Zimbabwe. Daai wat nog skaars gebore was tydens die oorlog. In “God vs. Evolusie: my persoonlike mening. DDInhoud” skryf hy:

Kyk, ek baklei dekades lank al tèèn konvensionele denke omdat iemand destyds iewers so mèt ons voorouers se koppe gesmokkel hèt, dat nageslagte almal dieselfde fobias, duimsuig-stront glo (dis mos tradisie). [My klem]

Neem ‘n rukkie en verteer dit. Dekades lank. Dekades. Dekaaaaaaaaaaades.

Frank is 29.


Is dit eties om vir welstand te bid?

April 24, 2008

Kom ons wees nou eerlik: die lewe was nog nooit ‘n eenvoudige saak nie. Swart is dikwels grys en grys soms gryser. Ek praat byvoorbeeld onlangs met ‘n vriend oor misdaad, prostitusie en kapitalisme (geen verwantskappe nie). Hy is sterk gekant teen die wettiging van prostitusie, dink misdaad is ‘n absolute euwel en kapitalisme die grootste klomp snert sedert Peter Popoff se kruistogte in die tagtigs.

As daar geen misdaad is nie, speel ek duiwelsadvokaat, gaan baie maatskappye in hierdie land baie vinnig in duie stort. Talle mense gaan werkloos wees – maatskappye wat diefwering vervaardig en alarms installeer, versekeringsmaatskappye, die polisie, sekuriteitswagte, lyfwagte, bouers, etcetera. Die geld wat die land via BTW van hierdie maatskappye alleen sal verloor, sal ‘n verbluffende getalletjie behels.

Dieselfde geld vir die gemors wat op televisie en in apteke gesmous word. Dis ongelukkig ‘n feit soos ‘n koei: die pil met die spitsvondige naam gaan jou nie régtig in staat stel om dinge soos ‘n smulpaap te mastikeer en nié oorgewig te raak nie. Die kruie-in-magiese-pilvorm in die homeopatiese afdeling van die apteek gaan jou nie régtig jonger maaK nie. Peter Popoff se Miracle Manna is niks minder as massavervaardigde beskuitjies nie. (En die sangoma gaan jou nie ‘n groter penis gee nie. Jammer.)

Is dit dan nie oneties om met mense se emosies te speel tot hulle al hul vir jou geld gee nie?

Ek sou “ja” wou antwoord. Tog, iewers het ‘n gefrustreerde filmmaker die goedkoop infomercials vir gewigverliespille en Popoff se vals manna gemaak. ‘n Beligtingspan het stukke polistireen vasgehou om lig te deflekteer, akteurs het woorde geleer en dit afgerammel, skoonmakers het ateljees skoongemaak, petroljoggies het brandstof aan voertuie verskaf om pille en brood en kameras te vervoer, stiliste en grimeerkunstenaars het kwassies rondgeswaai, ‘n webontwikkelaar het die beeldmateriaal omgesit na flash video, ‘n pizzamaatskappy het kos verskaf aan die eienaars van ‘n web hosting company…

Dit kan vir ewig so aangaan, want swart en wit is weinig te vinde. Die wettigmaking van prostitusie, aborsie, genadedood, stamselnavorsing met stamselle wat nié van naelstringe geskraap word nie, armoede, ryk mense wat ryker raak en armes wat toenemend sterf van die honger – al hierdie kwessies is uiters ambivalent. Verstaan mooi, ek dink ook misdaad moet hand en tand beveg word. Ek dink ook idiote soos Popoff wat arm mense emosioneel manipuleer om self ryk te word, moet aan die kaak gestel word.

Ons bestaan as homo sapiens saal ons egter op met die probleem van oorsaak en gevolg – die spreekwoordelike poep wat ‘n donderstorm raak. ‘n Land se ekonomie is byvoorbeeld ‘n ingewikkelde spinnerak. Pluk aan sy een kant, dan voeter die vlieë aan die ander kant af. Verwilder boere van hulle plase om jong oorlogveterane gelukkig te hou en die land sal honger raak. Bou groot stadions vir 2010 en mense sal daarin beroof word. Bou die Gautrein en berei jouself voor vir bergies. Gee gratis huise en elektrisiteit vir die gepeupel, maar wees bedag daarop dat jy oor ‘n paar jaar te min elektrisiteit vir die res van die land sal hê.

Dis so met omtrent enigiets in ‘n kapitalistiese bestel. Die hele spul is ‘n grys area. Reg en verkeerd raak irrelevant, of ten minste baie moeilik om uit klinkklaar te verklaar. Dis nie meer iets wat aan ‘n standaard gemeet kan word (‘n Platoniese pie in the sky) nie. Dis iets wat elkeen vir homself moet uitklaar.

(Is dit?)

Wat my uiteindelik by die opskrif van hierdie sporadiese inskrywing uitbring. Met hierdie ingewikkelde web van kousaliteit in ag geneem, hoe kan ‘n mens ooit bid vir geld, grond, reën, gesondheid, parkeerplekke, krag of enigiets anders sonder om nie ten volle daarvan oortuig te wees dat – indien dit werk – iemand elders nie skade gaan opdoen nie? Beteken ‘n verhoorde gebed nie dalk ook dat iemand ‘n paar dae later bankkrot verklaar sal word of deur ‘n veerpyltjie getref sal word nie? Is dit eties om te bid vir welstand en vooruitgang as daar altyd ‘n kans is dat iemand iewers daardeur benadeel sal word?

Hel, is dit eties om enigiets te doen? Gaan ‘n monnik in Tibet oor twee jaar sy toon stamp omdat jy hierdie sin lees?


Die opsies van ‘n Yank in ballingskap

April 22, 2008

Met apologie aan Boer in Ballingskap.

Wat dink julle hiervan? Die tema van gormendizer.co.za is steeds oorwegend blou. As jy ‘n onskuldige Googleäar was, sou jy van so ‘n header gehou het?

Kritiek word opreg waardeer.

Die fokus het van “blog” na “Johan Swarts” geskuif, omdat ek NewsPress probeer reverse engineer (wat is dit in Afrikaans? Tru-ontwerp?) met Options. “Blog” het eenvoudig net nie genoeg letters om iets met kleur uit te rig nie. Options, terloops, is werklik ‘n meesterlike stukkie werk. Die kode is netjies en skoon met verskeie bekommentariëerde reëls PHP en CSS, wat dit aansienlik makliker maak om jou blog te pimp.

Die skrywer, Justin Tadlock, het ‘n graad in Engels en hou tans skool in Korea.


Drievier

April 22, 2008

Gistermiddag loop ek oor die rooiplein, deur Die Neelsie en verby die publieke aansteekborde (waarvan die glas kort-kort vervang moet word). Voor die aansteekborde, versteek teen die gesoute mure van die departement Chemie en Polimeerwetenskap, sit ‘n bergie. Hy knik vir my. Ek knik terug. In die verbystap hoor ek hoe sing hy “ôôônnir lê drie piiiikkaaawynaaaa…maar die maarrrralstaaa eeeeen…is mynaaa”. Elke woord trots uit volle bors – vir die vier meisies wat in ‘n ry agter my stap en verontwaardig vinniger begin loop.

Hy’t my dag gemaak.


Magtig mens

April 21, 2008

Kopiereg Martin WaughIs dit nie vreemd hoe tegnologie die wêreld omvorm nie? Neem iets eenvoudig soos ‘n glas. Dis eintlik maar net ‘n ongestandardiseerde volume-eenheid, want jy drink mos nie net “genoeg” water op ‘n dag nie. Daar is ‘n voorgeskrewe ses tot agt glase wat by jou keel moet afgaan voor jy “genoeg” gedrink het.

Dit was nie altyd so nie. Ek sien in my geestesoog hoe ‘n oermens iewers in ‘n oerwoud langs ‘n stroompie hurk en soveel water drink as wat nodig is. Vandag het vloeistowwe vir talle mense iets heeltemal anders geraak – iets wat in houers kom. In glase. Blikkies. Bottels. Plastieksakkies. Papierkoppies. Wasbakke. “Genoeg” het “Genoeg glase” geraak.

Glase is een van verskeie tegnologiese ontwikkelinge wat ons ‘n oergegewe – water wat deel is van ‘n lewensonderhoudende siklus – onbewustelik laat vergeet het. Ons (en ons Aardrykskunde-onderwysers) het kennis daarvan, maar ons lééf dit nie. As dit reën is ons instinktiewe reaksie vir eeue lank al nie: “sjoe, hier kom druppels wat ek kan drink” nie. Ons plas eerder nors rond (die strate “afgeslag en glyerig”, as ek by Breytenbach mag leen), verwens die weer en koop koffie by winkeltjies met vuilgetrapte vloere. Ons het glase ontwerp om die lewe te vergemaklik, toe tem ons sommer een van die hoofbestandele vir lewe in ‘n paar kubieke sentimeters. Magtig mens, ons.

Ten minste tot ons verdrink.


Prop dit in

April 19, 2008

Die aantal funksies wat WordPress 2.5 bied vir iets so “eenvoudig” soos ‘n blog, is imposant. Met genoegsame kennis van PHP en CSS kan ‘n mens nagenoeg enigiets doen, met jou verbeelding as die spreekwoordelike beperking. (Dit help natuurlik ook baie dat daar tonne gratis plugins beskikbaar is.) So, byvoorbeeld, sal gormendizer.co.za leesbaar wees op Apple I-phones, Nintendo WII’s, DS-Lite’s en Playstation Portables. En na ‘n rondkrapsessie in Uno se argiewe het ek geleer dat WordPress.com blogs die brokkie kode rel=”noFollow” bevat, wat beteken dat comments nie jou Google pagerank verhoog nie. Ek speel tans met die idee om ‘n plugin te installeer wat, as jy op die nuwe blog comment, outomaties jou google pagerank verhoog. (Met ander woorde – hoe meer jy by my comment, hoe groter raak die kans dat mense jou sal raakGoogle) As Akismet die bykomende spam kan hanteer, sal ek dit met graagte gebruik.