Die keer toe ek ‘n gewoontemisdadiger was

‘n Universiteitstudentjie met ‘n graad of twee weet alles. Álles. Hy weet hoe om die wêreld ‘n beter plek te maak en gewigtige sake (soos hoe om in ‘n dameskoshuis se quad te piepie sonder om gevang te word) moeiteloos op te los met net die regte hoeveelheid bier. Hy’s vindingryker as Macgyver, slimmer as Einstein, welseggender as Cicero en begryp op ‘n haar wat die lewe behels. Tot hy sy meisie se ouers moet ontmoet.

Al die essays in die wêreld kan jou nie hiervoor voorberei nie. Jou kennis van letterkunde en filosofie (of miskien die vermoë om ingewikkelde integrale baas te raak) beteken weinig wanneer jy selfvoldaan jou hand uitsteek en sê:

“Hallo, Oom, ek is Johan”.

“Dawie Griessel.” Hy verdwyn by die kombuisdeur in.

Vervlaks. Jy moes jou van bygesê het. Jou woordeskat (wat pêrels soos “esbattement” en “estivasie” insluit) beteken nou minder as die vuur wat jy netnou nie aan die gang kon kry nie. Dalk is dit goed dat jy nie “Oom se dogter is in goeie hande,” bygevoeg het nie. Jy’t hulle dalk net verloor.

“Moenie worry nie,” stel sy jou vooraf gerus, “my pa is baie nice. Hy’s cool; hy kan ‘n grap vat. My ma is die kwaai een.” Maar sy is nie. Die tannie is die vredeliewendste mens op aarde. En die oom loer na jou asof jy ‘n gewoontemisdadiger is.

Dan een aand staan julle alleen om die etenstafel. Jy. En die oom. Alleen. En dan slyp hy twee groot messe teenmekaar asof dit vir die lamsboud op die tafel bedoel is. Jy sluk swaar en onthou skielik dat hy gewere het. Wanneer julle aansit, sit jy om die een of ander obskure rede die naaste aan hom.

In space, no one can hear you scream. Hulle woon buite Mosselbaai op ‘n heuwel. Hier’s baie spasie…

Terwyl julle buite by die vuur (die een wat jy nie kon maak nie) gesit het, het die oom die hoender verbrand. Jy probeer nie te veel daarvan inskep nie – netnou dink hulle jy is ‘n vraat. Na al die renonsies wat jy met jou meisie gehad het oor hoe jy soms eerder met jou hande eet en dit nie nodig is om alles in klein stukkies te sny nie, kerf jy elke liewe happie flenters. Vanaand het jy maniere.

Hy kyk vir jou!

O hel, wat nou? Komplimenteer die tannie. Sê vir haar die kos is lekker. “Die kos is heerlik, tannie!” Haar dogter se hand op jou been is lekkerder, maar dít kan jy ongelukkig nie sê nie. Dis aand. Niemand gaan die skote hoor nie.

Jy kyk na jou meisie. Sy glimlag:

“Ma, Johan het die hoender verbrand”.

Verraaier! Dink sy dis snaaks?! Jy sien al hoe dam die vredeliewende tannie jou by met ‘n kombuisimpliment. Xolisa! Pax Mosselbania! Senuagtig kerf jy die vleis in jou bord en loer na die oom. En wonder bo wonder – daar speel ‘n glimlag om sy mondhoeke. Die hand op jou been voel skielik gerusstellend. “My pa kan ‘n grap vat,” onthou jy.

Jy sny stadiger en glimlag. Maar nie te erg nie. Daar’s bokhael hier iewers…

27 Responses to “Die keer toe ek ‘n gewoontemisdadiger was”

  1. Roer Says:

    Bwahaha! Welgedaan. Jy’t oorleef om die storie te vertel (en dis ‘n baie snaakse storie). Onthou net, jy het sy kosbare besitting ‘kom steel’, so geduld. Heel moontlik gaan hy jou nog lank beloer.

  2. duskant Says:

    Lekker smile ekself nou…Nou moet ek vir jou vra: het sy broers? Want my slegste en wrangste ervaring met “skoonfamilie” was nie noodwendig met die “skoonpa” nie maar met die “skoonbroers”. Eiiiinaaa ;-)

    Voorspoed vir die jaar, soos gewoonlik is dit moer lekker om weer hier te kom rondsnuffel by die goeters wat jy skrywe! Tjeers

  3. Jasper Says:

    hehehe…. My innige simpatie
    Eerste keer toe ek skoonpa ontmoet het ek hom gese my keel is droog en dis warm…
    Meen hy toe hy is nie bekommerd oor sy dogter nie maar oor hoeveel keer hy my gaan moet bail uit die tronk vir kattekwaad….

  4. mykopop Says:

    Grind hom Oom, grind hom! (Ek speel net Johan, dit breek ‘n ou regtig af tot op jou fondamente. Maar magtig man, jy moet darem leer vuurmaak!)

  5. neykie Says:

    hoe kan enige meisie ‘n ou verseker dat “my pa kan ‘n grap vat”? met my ja maar nie met die man aan my sy nie….. maar welgedaan dat jy oorleef het

  6. Ke Says:

    Ga – jy het sopas my dag gemaak!

    Hier sit ek besig om “organisational values, strategy and trust in notions of complexity” te probeer verstaan en netdaar is die ironie genoeg dat ek vir ‘n goeie vyf minute sit en lag. (Let wel… met jou, nie vir jou nie ;-)

  7. Bernard Says:

    Lol nice. ‘haar ouers’ ontmoet is die beste. Daar’s min dinge so lekker soos ouers wat vir jou grappies lag, en so sleg soos ouers wat jou uithaal omdat jy nie ook rook nie…ek stem wel saam met duskant – die broers is erger as die ouers!

    Dink bietjie, though, hoe dit gaan wees die eerste keer wat daar ‘n snotkop – laaitie by jou dogter kom aanklop…jy weet mos nou wat in sy kop aangaan! mmm laat mens wonder of sy gewere nie dalk regverdigbaar is nie…

  8. Dellie Says:

    Hehe, ek het nou lekker gelag. Baie goeie inskrywing, volgende keer is dit makliker!

  9. wag-ʼn-bietjie Says:

    Jy skryf lekker.

    Sterkte.

  10. sonkind Says:

    Baie snaaks! :lol:

    Wees bly hy was nie soos my pa nie – die het sommer reguit vir ons kerels gese: “Ou seun, voor jy my dogter kan kry, moet jy eers ‘n gat deur ‘n ploegskaar pp (en hy het nie pp gese nie!)”

    En as my ouma by ons gekuier het en ‘n ou het ons kom uitneem, dan roep sy hom in, bekyk hom op en af en vertel hom: “Ek hoop jou ma het jou mooi geleer om jou broek toe te hou, ou seun!” :oops:

    Ek en my suster het later geleer om net die bittereinders huis toe te vat. Ja-nee, ouers is vreeslike goed, om van oumas nie eers te praat nie! :lol:

  11. izak Says:

    mooi skoot . pun intended . die storie is ‘n ware verhaal met ‘n baie mooi spanningslyn van begin to einde . is die ys uiteindelik toe wel gebreek soos wat hierdie leser bly hoop het ?

  12. George Maru Says:

    Johan, het jy vir Oom vertel jy rock die kitaar so? Ek dink hy moet jou nog maar vir eers uitcheck. Mens weet nooit met ‘n rocker nie.

  13. Johan Swarts Says:

    Duskant – Nee, gelukkig geen broers nie. Wel ‘n jonger sussie.

    Mykopop – Die hout was nat, ek sweer.

    wag-’n-bietjie – Dankie :-)

    Izak – Dit het ‘n bietjie gesmelt, ja. Ek hoop dit verheug die leser.

    George Maru – Ek het my akoestiese kitaar saamgeneem en psalms saam met haar in die sitkamer gespeel (sy swot musiek en speel o.a fluit). So ja, jy’s reg. Die oom weet nog nie ek’s ‘n rocker nie ;)

  14. die skatlam Says:

    aaaaah…siestog!laat weet my indien jy weer wil kom kuier sodat my pa sy gewere kan skoonmaak voor die tyd! :-)
    (my pa darem geglimlag toe hy dit lees…)

  15. mykopop Says:

    Isak, dis darem baie makliker om ‘n gat deur ‘n stuk ys te kry as deur ‘n ploegskaar.

  16. maeree Says:

    lol
    my pa versamel gewere
    en het die hoof van die huis afgeraai om met my te trou toe dié kom ouers vra.

  17. Da Mario Says:

    Whahahah…. ek het hierdie nou vreeslik geniet. Besef jy daai hout was dalk aspris effe nat?? :lol:
    Self het ek nie dogters nie, en toekomstige skoonseuns kan hulle sterre dank daarvoor, maar glo my dit raak net beter. Ek en vriende het al so af en toe laaities wat by hulle dogters kom kuier baie grief gegee. Mens leer dit met die ervaring wat jy optel as jy girls wat jy date se ouers ontmoet. Sommige Ooms kan nogal doodlik wees…
    Die “Jou dogter is in goeie hande” lyntjie …. whahahahah!! Sure… “Ja boet, sy is is nog in myne” gevolg deur ‘n veelseggende kyk sou jou mooi in die spore gestop het!

    Maar dit klink jy het goeie headway gemaak, mens wil maar net weet jou kinders is deurmekaar met ‘n nice ordentlike ou. En jy is mos. Next time, hoekom relax jy nie meer nie, jy hoief mos nie haar ouers te impress nie, jy wil haar net met respek behandel. En ouers is mos nie blind nie? As hulle sien hoe behandel jy hulle dogter met respek, deernis en liefde, hoe gaan hulle nie van jou hou nie. Hou in gedagte sy het dalk al met shaky karakters by die huis opgedaag… ;)

    Lol… voorspoed ou maat, ek dink jy is perfectly fine!

  18. 11 things Says:

    Pasop vir daardie ‘vredeliewenste’ mens op aarde. Always remember that she’s a woman – en moenie vergeet dat sy heel moontlik (99% certainty) ‘n ouer weergawe is van die extension van daai hand op jou been. Check haar maar goed uit. As jy reken jy sou met haar kon saamleef – then go for it! (‘coz die oom is dalk jy oor 25 jaar :)

  19. Zee Says:

    Thanks vir die tip daar by DM, maar verstaan nog nie mooi nie – kan jy my dalk mail met meer details om hoe om dit te gebruik ;)

  20. Johan Swarts Says:

    Sure, ek doen dit sommer nou.

  21. Platkuif Says:

    oulike storie.as ek eendag dogters het,gan daai nuwe boyfriends ’suffer’…;-)

  22. Cobus Says:

    jis ek ken daai situasie net te damn goed.. eish. ek sidder skoon. kan jy “intimidasie” spel.. ;) en eks nog ‘n flippen drummer ne, dis nog meer ‘n koël werd as kitaar..

  23. 23/23 (Liveblogging 1 / n) « Johan Swarts se bl0g Says:

    [...] Hierdie inskrywing via GPRS vanaf die gevreesde heuwel buite Mosselbaai. [...]

  24. Vars ink, ou nuus « Johan Swarts se bl0g Says:

    [...] hoe irrelevant sommige koerante as nuusdraers besig is om te raak. Elke aand voor ek my kop op die heuwel neergelê het, het ek eers via my selfoon besoek afgelê aan verskeie nuusorganisasies se [...]

  25. 23/23 (Liveblogging 1 / n) | Johan Swarts se bl0g Says:

    [...] inskrywing via GPRS vanaf die gevreesde heuwel buite Mosselbaai. ids.push(647);SHARETHIS.addEntry({ title: “23/23 (Liveblogging 1 / n)”, url: [...]

  26. Vars ink, ou nuus | Johan Swarts se bl0g Says:

    [...] hoe irrelevant sommige koerante as nuusdraers besig is om te raak. Elke aand voor ek my kop op die heuwel neergelê het, het ek eers via my selfoon besoek afgelê aan verskeie nuusorganisasies se [...]

  27. Loy18 Says:

    I like the concept of more good govt. ,

Leave a Reply