Life is but a shadow – a poor player who struts and frets his hour upon the stage and then is heard no more. It is a tale told by an idiot, full of sound and fury, signifying nothing.
Só meen Shakespeare deur die larinks van die beroemde Macbeth – ons lewens is vlietend en beteken in wese niks nie. Mense is tegnologiese wonderwerke met ‘n sinnelose vervaldatum, soos die duur elektronika op guided missiles wat ontplof sodra hulle ‘n teiken bereik. Ons lewe sodat ons kan doodgaan.
Is Shakespeare reg? Ek weet nie. Ek is heeltemal te jonk om ‘n antwoord te verskaf (en ek dink nie enigiemand sal ooit oud genoeg wees om dit wel te kan doen nie.) Maar ek dwaal.
Ek het hierdie inskrywing begin skryf omdat ek Duskant se insiggewende metanarratief oor blogging gelees het. Onder andere haal hy ‘n greep uit Willem Anker se Siegfried (ook oor blogging) aan:
…Maak jou eie rimpel in die riool van die net. Skree ek is ook hier. En so aan [...] Elkeen gaan terug na dit wat hy self gister geskryf het. Is ek nog hier? Wie was ek gister? [...] Jy wil letsels los.
Dan skryf Duskant:
Is ons, hierdie “siele”, mense wat onsself dan met sleutelbord en muis indring in hierdie wond wat die wêreld is? Spreek ons ‘n eksistensiële krisis aan deur onsself te laat bestaan in die anonimiteit van WordPress?
Ek dink Willem Anker (of as ek my tong in my kies mag druk: Wanker) se analise is korrek. Deels. En Duskant se analise van Wanker s’n is selfs nog meer in die kol. Op ‘n metafiktiewe vlak het hulle ons albei (en hulleself) egter vieslik gefnuik.
Die drang om, soos Peter Snyders se straatveër, te sê: “Ek is oek important”, is beslis een van die hoofredes waarom mense blog. ‘n Blog is ‘n platform wat jou toelaat om op jou seepkissie te klim en ten hemele te skreeu dat jy ook hier is. Dat jy saakmaak. Want diep aan die binnekant voel almal soms ‘n onverklaarbare Niks – ‘n Niet so groot (en terselftertyd so klein) dat jy gelyktydig wens jy kan dit verklaar en jy kan dit verloor. ‘n Massiewe leemte wat jou die hardste insuig wanneer jy die hardste daaroor probeer dink. “Begrebet angest,” noem Kierkegaard dit. Eksistensiële angs.
Ons lewe in ‘n chaotiese wêreld. ‘n Waarmerk van ons menslikheid is juis dat ons die warboel indrukke om ons wil tem en klassifiseer. Ons wil graag hê dat die lewe meer beteken as Macbeth se irrelevante geroesemoes. Daarom het ons huisnommers, generiese name vir veranderlikes in C++, volkstrots, verkeersligte, ‘n alfabet, die Deweystelsel (hoe nutteloos sal ‘n biblioteek sonder getalle tog nie wees nie?), begrafplase, koerante, atlasse…die lys is eindeloos, want die chaos kry nooit end nie.
(In essensie is ons tog in elk geval chaoties. Jy, en nie iemand anders nie, lees hierdie woorde omdat ‘n klomp gene iewers in die verlede lukraak gemuteer het. Dit kon netsowel iemand anders wees.)
Die chaos pla ons. Prof Marlene van Niekerk, in ‘n baie insiggewende honneursklas oor Kreatiewe skryfkunde, het een keer dié eenvoudige woorde (of iets in der voege) kwytgeraak:
Hoekom skryf ons? Ons skryf omdat ons ‘n klein bietjie orde in ‘n chaotiese werklikheid om ons probeer skep.
En sy is reg. Deur ons gedagtes neer te pen, kan ons onsself oortuig dat ons (soos die premoderne mense van ouds wat name vir weerlig en vuur gegee het) ‘n greep het op die uiters vreemde dinge wat deur ons uiters vreemde bewussyn spoel in die uiters vreemde kader van ‘n onverstaanbare ding genaamd “die lewe”.
Hoe fnuik Anker ons? Hy maak asof bloggers die enigste skrywers is wat op hulle seepkissies staan en skree. Hulle is nie. Ons blog omdat ons erkenning soek, ja, maar dis nie net ons nie. Enigiemand wat skryf, van Marlene van Niekerk en Willem Anker tot die puisiebelaaide tiener en die verveelde huisvrou, wil graag die heelal laat weet dat hulle bestaan. (“Luister” is ‘n geordende begrip. Jy kan nie die wêreld van jouself vertel as die wêreld nie kan luister nie.) Almal soek vashouplek aan die werklikheid, of hulle nou 50 000 eksemplare verkoop of 50 miljoen hits kry.
Ons skryf omdat ons nie wil doodgaan nie. Omdat ons mens is. Omdat ons gaan doodgaan. Omdat ons is.
Daarom, reken ek, moet ons ‘n glasie klink, besef dat die Prediker reg was toe hy geskryf het dat alles tot niks kom nie en verder skryf. Want ons kan. Dis oukei om ook hier te wees.
Prost.
Posted by Johan Swarts
Na ‘n uitgerekte marathon van proeflopies, verdwene keurders en ander oulike probleempies (soos my selfoon se GPRS-sagteware wat nie met Vista wil werk nie) is die eerste uitgawe van [TYD]Skrif gereed vir besigtiging. Hoewel onekonomies, was die proses tot dusver uiters leersaam.
Posted by Johan Swarts
Posted by Johan Swarts 



My lewe bestaan tans uit luiwees (want dis na alle waarskynlikheid een van die laaste vakansies voordat ek in die sogenaamde grootmenswêreld invoeter) irritasies (want my Sony MainConcept lisensie het verval en ek kan nie my rou beeldmateriaal access en die babafilm klaarmaak nie) pret (ek speel weer Planescape Torment, seker een van die beste RPG’s wat nog ooit gemaak is – en dit dateer uit die vorige millenium) kopkrap (ek wil die [TYDSkrif] projek binne die volgende paar dae op die been kry, maar kan nie toegang tot ons webspace kry nie) beplanning (oor ‘n paar dae ry ek terug Stellenbosch toe om navorsing vir my MA-tesis te begin en ‘n klankbaan op te neem) ontdekking (ek het ‘n isiXhosa handboek gekoop) en nostalgie.
Welkom by 2008.









