Prost

January 30, 2008

Life is but a shadow – a poor player who struts and frets his hour upon the stage and then is heard no more. It is a tale told by an idiot, full of sound and fury, signifying nothing.

Só meen Shakespeare deur die larinks van die beroemde Macbeth – ons lewens is vlietend en beteken in wese niks nie. Mense is tegnologiese wonderwerke met ‘n sinnelose vervaldatum, soos die duur elektronika op guided missiles wat ontplof sodra hulle ‘n teiken bereik. Ons lewe sodat ons kan doodgaan.

Is Shakespeare reg? Ek weet nie. Ek is heeltemal te jonk om ‘n antwoord te verskaf (en ek dink nie enigiemand sal ooit oud genoeg wees om dit wel te kan doen nie.) Maar ek dwaal.

Ek het hierdie inskrywing begin skryf omdat ek Duskant se insiggewende metanarratief oor blogging gelees het. Onder andere haal hy ‘n greep uit Willem Anker se Siegfried (ook oor blogging) aan:

…Maak jou eie rimpel in die riool van die net. Skree ek is ook hier. En so aan [...] Elkeen gaan terug na dit wat hy self gister geskryf het. Is ek nog hier? Wie was ek gister? [...] Jy wil letsels los.

Dan skryf Duskant:

Is ons, hierdie “siele”, mense wat onsself dan met sleutelbord en muis indring in hierdie wond wat die wêreld is? Spreek ons ‘n eksistensiële krisis aan deur onsself te laat bestaan in die anonimiteit van WordPress?

Ek dink Willem Anker (of as ek my tong in my kies mag druk: Wanker) se analise is korrek. Deels. En Duskant se analise van Wanker s’n is selfs nog meer in die kol. Op ‘n metafiktiewe vlak het hulle ons albei (en hulleself) egter vieslik gefnuik.

(Is dit nie vreemd hoe Afrikaners in die blogosfeer eiename uit ander woordsoorte skep nie? Salige rus, Roer, Duskant, MyKop, Vokof – nie een is ‘n eienaam nie. Maar ons gebruik hulle so. Nes die Xhosas.)

Die drang om, soos Peter Snyders se straatveër, te sê: “Ek is oek important”, is beslis een van die hoofredes waarom mense blog. ‘n Blog is ‘n platform wat jou toelaat om op jou seepkissie te klim en ten hemele te skreeu dat jy ook hier is. Dat jy saakmaak. Want diep aan die binnekant voel almal soms ‘n onverklaarbare Niks – ‘n Niet so groot (en terselftertyd so klein) dat jy gelyktydig wens jy kan dit verklaar en jy kan dit verloor. ‘n Massiewe leemte wat jou die hardste insuig wanneer jy die hardste daaroor probeer dink. “Begrebet angest,” noem Kierkegaard dit. Eksistensiële angs.

Ons lewe in ‘n chaotiese wêreld. ‘n Waarmerk van ons menslikheid is juis dat ons die warboel indrukke om ons wil tem en klassifiseer. Ons wil graag hê dat die lewe meer beteken as Macbeth se irrelevante geroesemoes. Daarom het ons huisnommers, generiese name vir veranderlikes in C++, volkstrots, verkeersligte, ‘n alfabet, die Deweystelsel (hoe nutteloos sal ‘n biblioteek sonder getalle tog nie wees nie?), begrafplase, koerante, atlasse…die lys is eindeloos, want die chaos kry nooit end nie.

(In essensie is ons tog in elk geval chaoties. Jy, en nie iemand anders nie, lees hierdie woorde omdat ‘n klomp gene iewers in die verlede lukraak gemuteer het. Dit kon netsowel iemand anders wees.)

Die chaos pla ons. Prof Marlene van Niekerk, in ‘n baie insiggewende honneursklas oor Kreatiewe skryfkunde, het een keer dié eenvoudige woorde (of iets in der voege) kwytgeraak:

Hoekom skryf ons? Ons skryf omdat ons ‘n klein bietjie orde in ‘n chaotiese werklikheid om ons probeer skep.

(Rofweg geparafraseer.)

En sy is reg. Deur ons gedagtes neer te pen, kan ons onsself oortuig dat ons (soos die premoderne mense van ouds wat name vir weerlig en vuur gegee het) ‘n greep het op die uiters vreemde dinge wat deur ons uiters vreemde bewussyn spoel in die uiters vreemde kader van ‘n onverstaanbare ding genaamd “die lewe”.

Hoe fnuik Anker ons? Hy maak asof bloggers die enigste skrywers is wat op hulle seepkissies staan en skree. Hulle is nie. Ons blog omdat ons erkenning soek, ja, maar dis nie net ons nie. Enigiemand wat skryf, van Marlene van Niekerk en Willem Anker tot die puisiebelaaide tiener en die verveelde huisvrou, wil graag die heelal laat weet dat hulle bestaan. (“Luister” is ‘n geordende begrip. Jy kan nie die wêreld van jouself vertel as die wêreld nie kan luister nie.) Almal soek vashouplek aan die werklikheid, of hulle nou 50 000 eksemplare verkoop of 50 miljoen hits kry.

Ons skryf omdat ons nie wil doodgaan nie. Omdat ons mens is. Omdat ons gaan doodgaan. Omdat ons is.

Daarom, reken ek, moet ons ‘n glasie klink, besef dat die Prediker reg was toe hy geskryf het dat alles tot niks kom nie en verder skryf. Want ons kan. Dis oukei om ook hier te wees.

Prost.


Hoog[TYD]

January 27, 2008

tydskriflogo.jpgNa ‘n uitgerekte marathon van proeflopies, verdwene keurders en ander oulike probleempies (soos my selfoon se GPRS-sagteware wat nie met Vista wil werk nie) is die eerste uitgawe van [TYD]Skrif gereed vir besigtiging. Hoewel onekonomies, was die proses tot dusver uiters leersaam. http://www.tydskrif.co.za sal van môre af (dus vanaand om 00:00) inhoud wys.

‘n Opregte woord van dankie aan my kernredaksie (ja, regte mense) en keurders.

http://www.tydskrif.co.za

Want jy kan.


Aan die satansdrek…

January 23, 2008

…wat my Foto Na Dans CD saam met my cd-speler uit my kar gesteel het: ek hoop jou uterus vrot nukkerig soos ‘n lyk langs ‘n formalienfabriek. En dat, indien jy nie ‘n uterus het nie, jy sewentien sal groei.

Drel.

(Hierdie inskrywing met apologie aan Do Kwang.)



Manies

January 16, 2008

Die voordeel van ‘n massiewe skerm (of dan die magiese kombinasie van muur plus projektor) is dat jy Steve Hofmeyr se blog kan besoek in bonatuurlike resolusies. Jy kan dan soos ‘n klein seuntjie giggel terwyl Henno langs jou op die couch sit en ‘n tennisbal na sy pelvis gooi in ‘n poging om die…um…nedergedeeltes te tref.


GormenDIzer goes emo

January 15, 2008

Genugtig. Dis 3:41 op ‘n Dinsdagoggend en ek sit alleen op die negende verdieping van Helshoogte en staar na ‘n wit muur. Darem nie sonder rede nie – agter my kop is ‘n projektor besig om die lelieblank muur te ontsier met ‘n massiewe instansie van Firefox, wat die text box waarin ek hierdie inskrywing maak onheilspellend groot laat lyk. Om my (oor Henno se 5.1 Surround Sound-luidsprekers) speel ‘n gedeelte van die Helshoogte-Minerva Venstersklankbaan. Te veel desibels hier…te min Midrange frekwensies daar…such is the life of an aspiring producer:

screenie.jpg

Diegene van julle met skerp oge sal aflei dat ek tans na Explosions in the Sky luister. Dis mooi rustig en melankolies. Diegene van julle met ‘n skerp geheue sal besef dat ek normaalweg nie sulke musiek luister nie. Verbasend genoeg doen ek dit deesdae. (Ek verpes egter nog steeds Iron & Wine. ‘n Mens verstik in die rustigheid daarvan.) En die van julle wat werklik getrou hier kom inloer sal besef dat ek onsettend lanklaas ‘n inskrywing oor myself en my huidige emosionele toestand gemaak het.

Dis seker maar wat gebeur as jy afgesonder in ‘n groot baksteengebou op ‘n leë studentedorp sit en jou meisie mis. Nadat jy gedink het jy sal nooit weer iemand mis nie. En nou luister jy Explosions in the sky. Good grief.

Hierdie soort inskrywing gaan nie weer baie vinnig kom nie. Ek het vir lank ‘n ongesproke reël op hierdie blog gehad dat ek nie te veel oor myself wil skryf nie. Ek staan daarby – ek dink dis onbelangrike beunhasery. Maar soms is dit juis anomalieë wat die lewe spesiaal maak.

So hier is dit. ‘n Inskrywing oor myself. Twintig minute van my lewe waarin ek eintlik moes slaap of aanlynnavorsing vir my MA-tesis gedoen het. En eintlik ook nie.

Nag.


Skroef die dolfyne – red die uterus

January 10, 2008

first-for-women-die-jaar-van-die-vrou.jpgHare (soos die lewe, seker maar) kom en gaan. Advertensies ook. Ek lees nou die dag die linkerkantse advertensie raak en wonder toe – is 2008 régtig die jaar van die vrou? Die kopieskrywers is veilig, want hulle gebruik aanhalingstekens. Maar wat sê hulle nou eintlik? Moet ek ‘n brafabriek oopmaak?

‘n Bietjie navorsing wys dat 2008 nié die amptelike jaar van die vrou is nie. Dis die jaar van die aartappel en die padda (ek sweer – kyk hier en hier), maar dis omtrent so naby aan lewende wesens as wat dit kom.

Nie dat dit First for women (die versekeringsmaatskappy vir vroue wat agter die advertensie sit) keer om klante te lok nie.

Ek sukkel om agter te kom presies hoekom vrouens ‘n eksklusiewe versekeringsmaatskappy nodig het. Is hulle minderwaardig? Nee, hulle is beslis nie minderwaardig nie. Is hulle beter as mans? Nee, mans en vrouens is eweknieë. Het hulle spesiale behoeftes? Ja, maar dis irrelevant; mans het ook spesiale behoeftes.

Daar is vir my ‘n paradoks in First for women se korporatiewe identiteit – vroue is klaarblyklik spesiaal en misterieus genoeg om eiesoortige versekering te kry, maar is terselftertyd (volgens omtrent al First for women se advertensies) onkapabele poppies wat ween as hulle motors onklaar raak en behep is met hulle gewig. In beide gevalle is vroue óf superieur óf minderwaardig.

Wat beteken daar word teen alles met óf sonder ‘n uterus gediskrimineer. Arme goed.


Die keer toe ek ‘n gewoontemisdadiger was

January 7, 2008

‘n Universiteitstudentjie met ‘n graad of twee weet alles. Álles. Hy weet hoe om die wêreld ‘n beter plek te maak en gewigtige sake (soos hoe om in ‘n dameskoshuis se quad te piepie sonder om gevang te word) moeiteloos op te los met net die regte hoeveelheid bier. Hy’s vindingryker as Macgyver, slimmer as Einstein, welseggender as Cicero en begryp op ‘n haar wat die lewe behels. Tot hy sy meisie se ouers moet ontmoet.

Al die essays in die wêreld kan jou nie hiervoor voorberei nie. Jou kennis van letterkunde en filosofie (of miskien die vermoë om ingewikkelde integrale baas te raak) beteken weinig wanneer jy selfvoldaan jou hand uitsteek en sê:

“Hallo, Oom, ek is Johan”.

“Dawie Griessel.” Hy verdwyn by die kombuisdeur in.

Vervlaks. Jy moes jou van bygesê het. Jou woordeskat (wat pêrels soos “esbattement” en “estivasie” insluit) beteken nou minder as die vuur wat jy netnou nie aan die gang kon kry nie. Dalk is dit goed dat jy nie “Oom se dogter is in goeie hande,” bygevoeg het nie. Jy’t hulle dalk net verloor.

“Moenie worry nie,” stel sy jou vooraf gerus, “my pa is baie nice. Hy’s cool; hy kan ‘n grap vat. My ma is die kwaai een.” Maar sy is nie. Die tannie is die vredeliewendste mens op aarde. En die oom loer na jou asof jy ‘n gewoontemisdadiger is.

Dan een aand staan julle alleen om die etenstafel. Jy. En die oom. Alleen. En dan slyp hy twee groot messe teenmekaar asof dit vir die lamsboud op die tafel bedoel is. Jy sluk swaar en onthou skielik dat hy gewere het. Wanneer julle aansit, sit jy om die een of ander obskure rede die naaste aan hom.

In space, no one can hear you scream. Hulle woon buite Mosselbaai op ‘n heuwel. Hier’s baie spasie…

Terwyl julle buite by die vuur (die een wat jy nie kon maak nie) gesit het, het die oom die hoender verbrand. Jy probeer nie te veel daarvan inskep nie – netnou dink hulle jy is ‘n vraat. Na al die renonsies wat jy met jou meisie gehad het oor hoe jy soms eerder met jou hande eet en dit nie nodig is om alles in klein stukkies te sny nie, kerf jy elke liewe happie flenters. Vanaand het jy maniere.

Hy kyk vir jou!

O hel, wat nou? Komplimenteer die tannie. Sê vir haar die kos is lekker. “Die kos is heerlik, tannie!” Haar dogter se hand op jou been is lekkerder, maar dít kan jy ongelukkig nie sê nie. Dis aand. Niemand gaan die skote hoor nie.

Jy kyk na jou meisie. Sy glimlag:

“Ma, Johan het die hoender verbrand”.

Verraaier! Dink sy dis snaaks?! Jy sien al hoe dam die vredeliewende tannie jou by met ‘n kombuisimpliment. Xolisa! Pax Mosselbania! Senuagtig kerf jy die vleis in jou bord en loer na die oom. En wonder bo wonder – daar speel ‘n glimlag om sy mondhoeke. Die hand op jou been voel skielik gerusstellend. “My pa kan ‘n grap vat,” onthou jy.

Jy sny stadiger en glimlag. Maar nie te erg nie. Daar’s bokhael hier iewers…


Opprop

January 5, 2008

hokkie.jpgMy lewe bestaan tans uit luiwees (want dis na alle waarskynlikheid een van die laaste vakansies voordat ek in die sogenaamde grootmenswêreld invoeter) irritasies (want my Sony MainConcept lisensie het verval en ek kan nie my rou beeldmateriaal access en die babafilm klaarmaak nie) pret (ek speel weer Planescape Torment, seker een van die beste RPG’s wat nog ooit gemaak is – en dit dateer uit die vorige millenium) kopkrap (ek wil die [TYDSkrif] projek binne die volgende paar dae op die been kry, maar kan nie toegang tot ons webspace kry nie) beplanning (oor ‘n paar dae ry ek terug Stellenbosch toe om navorsing vir my MA-tesis te begin en ‘n klankbaan op te neem) ontdekking (ek het ‘n isiXhosa handboek gekoop) en nostalgie.

Ek het ‘n liedjie ontdek wat ek saam met Jacques in 2005 in my kamer opgeneem het. Dit was ‘n eenvoudige sessie – ons en ons kitare, goedkoop mikrofone, ‘n PA mixer en drade. Baie drade. Trou aan Wattage se erfenis is die liedjie geïmproviseer sonder voorafgaande beplanning. Woorde inkluis:

Daar is so baie dinge waaroor ek wil blog (die Skatlam het glad ‘n lysie gemaak), maar ek is lui. Mag ek nog ‘n paar dae lui wees?


Welkom

January 2, 2008

Welkom by 2008.

As jy numeries ‘n bietjie kroek, is hierdie my derde jaar van blogging. Tot dusver is dit ‘n uiters stimulerende ervaring en het dit só deel geraak van my lewe dat ek dit nie meer daarsonder kan verbeel nie. Dinge verander egter, ‘n mens raak groot (of ten minste groter) en goed wat jy oor jouself en die wêreld om jou geglo het – dinge waarvan jy vas oortuig was – lyk skielik nie meer so vas nie.

Hoewel hierdie blog nie ‘n verandering sal ondergaan nie (ek sal nog steeds net so manies soos vantevore blog, al is dit net sodat Pienk Zuit kan bly dink ek is ‘n internet psycho) het die blogger agter die skerm taamlik gemetamorfeer. Ek’s seker maar besig om groot te raak. Of iets.

Verwag dus dieselfde Johan Swarts se bl0g (dis ‘n nul daai in “bl0g”, nie ‘n groot O nie) met ‘n effense kopskuif. Maar moenie my vra wat dit is nie.

Ek kuier tans by die skatlam in Mosselbaai en ry die 5de Januarie terug heimat toe. Tot dan – was agter julle ore, help ou tannies oor snelweë en stick it to the man.

Doen dit vir jou land.