Ek verkneukel myself in die manier hoe nuuskanale die wêreld vir hulle lesers opdis. Neem die manier hoe vanoggend se onderskeidelike nuusbriewe van News24 en Die Burger opsommend oor die ANC-verkiesing berig. News24 se oorhoofse nuusbrief meen:
ANC delegates start voting
Voting has finally begun for the top six positions in the leadership of the ANC after delegates settled on a list of nominations.
Plein en simpel. Die (myns insiens relevante) nuus – die land se leidende politieke party het begin stem vir ‘n volgende leier. Goeie joernalistiek sonder oortollige emosie. Lees nou die Burger s’n:
ANC verskeur homself
‘n Politieke geveg sonder kompromis met mnr. Jacob Zuma as waarskynlike wenner, pres. Thabo Mbeki op die agtervoet en die ANC wat homself bloeddorstig verskeur, is besig om hom hier af te speel.
Niks oor die uiteindelike oorgaan na stemming word genoem nie. Eerder word die gebeure opgedis soos (so reken ek) Die Burger dink die Afrikaner dit wil hoor: Sowaar! Die swartes verskeur mekaar! (WTF?)
Adjektiewe is ook nie juis skaars nie- die politieke geveg is “sonder kompromis”, die huidige president is, soos ‘n veglustige dier, “op die agtervoet” en die politieke party is besig om homself “bloeddorstig” te verskeur. Bowenal word dit soos ‘n sepie opgedis wat “besig [is] om hier af te speel”. (Waar is hier?)
Die News24 artikel beskryf die prosesse wat gelei het tot stemming. Die Burger s’n beskryf bykomende gebeure asof dit die nuwe Huisgenoot probeer word, van iemand se kommentaar dat die sogenaamde Mbeki-poging “die laaste stuiptrekkings van ’n sterwende perd” is tot ‘n storie oor ‘n misverstand tussen beamptes en joernaliste wat hulle toerusting van die reën wou beskerm.
Wat sê dit vir jou? Die wit volkie hier in die Wes-Kaap (met sy Afrikaanse universiteit en sy welvarende wit woonbuurte) kry die gerusstellende sensasie wat hy soek in sy koerant. En wat sê dit vir jou? Transformasie en bemagtiging deur Afrikaans het dalk nog ‘n vervlakse lang pad om te loop.
Eish.
Die meer sensasionele aspekte van die verkiesing is natuurlik steeds nuus en verdien as sodanig seker om in een of ander vorm oorvertel te word. Wat my laat kopkrap, is die manier hoe dit in Die Burger vervleg word met ander gebeure as die mees relevante nuus. As jou teenreaksie is dat so iets (die ANC wat skeur) juis relevant is vir Afrikaanse lesers, moet ek jou ongelukkig meedeel dat jy ‘n rassis is.











December 18, 2007 at 11:37 am
Boycott Die Burger!
*sug*, ja, wat het geword van goeie joernalistiek, in die dae toe my ma nog joernalis was. Ek is so teleurgesteld in wat Die Burger vir ons gee die afgelope tyd. Soms moet ek die *hele* berig lees, en dan weet ek *nog steeds* nie waaroor dit gaan nie. Ek dag die wie/wat/waar/wanneer/waarom behoort alles in die eerste twee paragrawe te vinde te wees, en jy moet net verder hoef te lees indien jy meer detail wil hê?
So, sê my bietjie, waar kry mens deesdae goeie beriggewing in Suid Afrika? Ek waardeer nogals Google News, om die waarheid te sê.
December 18, 2007 at 3:00 pm
Die Burger
befaamde poniekoerant en dagblad vir fickle dorpsgangers
Dis net Peter Parker wat kort om vir Spiderman af te neem…..
December 18, 2007 at 3:20 pm
Vanoggend so 3h00 presies dieselfde gedagtes as hierbo bedink toe ek die verskillende berigte lees. En RSG loop nie ver agter met die sappige stukkies kommentaar nie. Dit klink vir my of ou Cobus hom verkneukel in die situasie. Maar dis maar net my afleiding
December 18, 2007 at 7:09 pm
dalk is die blankedom aan die suidpunt van afrika (die wat steeds so kan klou aan die materiele voorspoed wat hulle via apartheid bekom het) bekommerd oor ‘n zimbabwe-senario, wat gouer as later sal kom, en daarom is hulle verheug as dit lyk of die huidige regime dalk met verdeeldheid sukkel.
vergun dus asb. die valse gevoel van gerusstelling wat sulke soort mediaberigte opdis aan diegene in hul huidige gemak-zones.
en terloops, dit is mos net blankes wat as rassiste getipeer kan word as hulle bietjie trots durf wees op hulself ?
hoekom word blare so ingewikkeld – “#@S%S” gespel ?
December 18, 2007 at 11:10 pm
mmm….
Die Burger is nie verkeerd nie. Ek het die storie so met ‘n halwe oor op 702 gevolg. Media24 is ook nie verkeerd nie, want dis wat gebeur het.
Ek dink ook nie dit het enige iets met rasisme uit te waai nie.
Maar met een ding stem ek saam. Koerante is daar vir feite en nuus, nie menings en sensasie nie. Soos jy sê, dis vir die Huisgenoot.
December 19, 2007 at 1:07 am
dit pla my nie dat daar berig word oor wat gebeur het nie. as iemand so objektief en onemosioneel moontlik kan berig oor ‘n katgeveg, so be it.
daar’s egter ‘n massiewe verskil tussen objektiewe (ek besef dis ‘n relatiewe term) joernalistiek en sensasiegedrewe waarde-oordele. ‘n politieke geveg waar die anc homself “bloeddorstig verskeur” is nie die feite nie – dis ‘n uiters subjektiewe interpretasie van wat regtig gebeur het. daar is immers ‘n groot verskil tussen ‘n “ongeluk op die N2″ (viz. enige goeie koerant) en ‘n “gru-ongeluk wat die land geruk en aan die gons het” (viz. die huisgenoot). eersgenoemde is verslaggewing, laasgenoemde sensasie. eersgenoemde is falsifiseerbaar en dus verifiëerbaar, laasgenoemde nie.
‘n mens kan nie verslag lewer oor iets wat jy nie kan bewys nie.
December 19, 2007 at 1:20 am
(izak – ek hoor jou. jy’t ‘n punt beet. maar wat is valse gerusstelling tog op die lange duur werd?)
((my blare is maar deur die blare
))
December 19, 2007 at 8:57 am
Hey Johan
Ek groet net gou want ek vertrek bietjie Vic Baai toe vir vakansie.
Geseende kersfees en voorspoed vir die nuwe jaar vir jou en jou bloggers!
December 19, 2007 at 9:46 am
Ek stem volkome saam, Die Burger gaan verseker agteruit, dis hoekom ek dit nooit sal koop nie. Die E-pos nuusbrief wat hulle my vroegoggend stuur is al klaar vir my een te veel.
Verder tot die verkiesing en uitslae, waar het hulle daai vrou uitgegrawe wat die uitslae gelees het. Ek moes eintlik getel het hoeveel keer sy die woord “comrades” gesê het, superfrustrerend. G’n wonder die mense het so geraas nie, dit het haar eeue gevat om die aankondigings te maak. Verder kon ek nie help om te wonder wat fout was met Debra Patta nie. Die vrou het nie lekker gelyk nie, die ogies het erg gehang.
December 19, 2007 at 11:12 am
Johan, ek dink jy wys goed uit dat Die Burger as koerant en herleier van nuus al lank in die tand is. Ek dink egter jy fouteer dalk met die rede agter die sensasionaliteit van hierdie spesifieke berig. Die Burger volg hierdie sensasionele inslag, ongeag groepe, onderwerpe ens. (let maar op hulle beriggewing oor die Lotz-saak, Jake White-sage ens, ens.) Ek glo nie dit het enigiets met rassisme re doen nie – ek dink net dis Die Burger se (swak) styl. En dan moet mens ook onthou dat die meerderheid Burger-lesers nie meer blank is nie…
December 19, 2007 at 11:55 am
Dis wanneer die slang sy eie stert begin raakbyt ..
minwetende dat ‘n totaal nuwe regering 2011 die lig gaan sien
December 19, 2007 at 4:15 pm
Ek stem saam dat die land bloedweinig goeie verslaggewing het. Naspers bly maar Naspers. Maar ek dink dis belangrik om te besef dat Die Burger se berig en News24 s’n amper ‘n halwe dag uit mekaar geskryf is. News24 s’n is seker kort na 9:00 gisteroggend geskryf, terwyl Die Burger s’n die vorige aand al betyds vir saktyd klaar moes wees. News24 is “breaking news” terwyl Die Burger ‘n gevoel oor die hele vorige dag probeer weergee het. Tog is “bloeddorstig(e)” berigte sekerlik nie die oplossing vir dagblaaie se stryd teen die vinnige internet en radio nie.
Op ‘n ander noot… Die Burger is in die Media24-stal, terwyl News24 deel is van die internet-afdeling. (http://www.naspers.co.za/images/ar_struc.jpg). Dis dus nie Die Burger vs Media24 nie, maar Die Burger vs News24.
December 19, 2007 at 5:40 pm
jy’s heeltemal reg, ek het die twee per abuis omgeruil. dankie vir die uitwys – ek fix dit dadelik.
December 19, 2007 at 11:36 pm
Hierdie is die mees oppervlakkige post wat ek nog ooit gelees het. Daar is ‘n verskil tussen koerante, radio en internet, hulle berig op verskillende maniere, en enigiemand wat nog dink Die Burger verkwansel die swart gevaar, lees gewoon nie Die Burger nie. Weet jy wie werk by Die Burger? Weet jy wat Die Burger se beleid is? Check jou feite voordat jy skryf magtag.
December 19, 2007 at 11:39 pm
gwot, ek moet my inhou, maar begin daarby deur vas te stel dat news24 en die burger se stories deur dieselfde mens geskryf is.
jeez
December 19, 2007 at 11:45 pm
dude, hokaai. ek het niks teen die burger nie. hierdie post gaan oor twee nuusberigte, dis nie die afskiet van ‘n koerant nie. en ek dink geensins die burger verkwansel “die swart gevaar” nie.
December 20, 2007 at 12:52 am
Jou mail het nie by my uitgekom nie. Ek is 12346624 by sun punt ac punt za
December 20, 2007 at 11:09 am
Intussen het ek besluit kalm gemoedere moet seevier. Ek het hierbo geoorreageer. Jy weet nie hoe die media werk nie, en my respons op jou onkunde behoort opvoeding eerder as berisping te wees. Dus:
Die Burger en News24 is nie net verskillende publikasies nie, dis verskillende media. 20 jaar gelede sou mense nog die koerante gelees het om dinge uit te vind, want daar was nie internet, TV of Cape Talk/702 nie. Dit het verander. Gegewe die tyd wat drukwerk en verspreiding neem, verskyn koerante minstens 8 ure nadat die nuus gebeur het – meestal egter tussen 12 en 24 ure later. Om dan bloot die feite te stel wat almal dan reeds weet, sal nutteloos wees. Mense kry hul eerste orde nuus van die internet of die radio, die koerant se taak is om dit die volgende dag op te volg met analise, indiepte-opvolg en konteks. Dit is dan ook wat Die Burger se bovermelde storie so goed maak – dit verskyn op ‘n tyd wat almal reeds weet wat gebeur het, maar dit se^ vir ons wat die implikasies daarvan vir die ANC is, wat verder verwag kan word, ens.
December 20, 2007 at 11:25 am
Dan leer ek met ‘n oop gemoed. Dankie.
Bygesê, dis dalk ‘n goeie ding jy bied meer insae in hoe sake werk. Die meeste van die mense wat hier gecomment het, blyk dieselfde sentimente te hê as ek tydens die oorspronklike post. (Hoewel hulle ‘n hele koerant betrek.)
March 25, 2008 at 11:02 pm
[...] Burger just isn’t what it should be. The articles disappoint too often. In fact, sometimes, Die Burger simply sucks. But the By is [...]