“Die woord het mens geword”

Baie mense dink die sogenaamde Evangelical Pentacostal kerke is die kluts kwyt. ‘n Karikatuur van hierdie kerke se deursnee gemeentelid is iemand wat nie vir hulleself kan dink nie – ‘n skaap in ‘n kolossale kraal vol skerms en ultramoderne klanktoerusting wat aan die neus rondgelei word deur predikers met fut en duur karre. Glossolalie, die vermoë om in tale te praat, is nagenoeg eie aan hierdie gemeentes. ‘n Besoeker aan so ‘n kerk kan hoogs emosionele, gillende – soms wriemelende – gemeentelede te wagte wees. Die begrippe “emosionele oorversadiging” en “euforie” jumps to mind.

Nou bid jou die volgende aan: ‘n neuro-sielkundige studie van 2006 toon aan dat mense wat in tale spreek so waar as wragtig nié dink nie. Letterlik. Navorsers Newberg, Wintering en Morgan het bevind dat breinaktiwiteit tydens die beoefening van glossolalie (vreemde woord, ek weet) daal:

We observed decreased activity in the prefrontal cortices during the glossolalia state. This finding was clearly distinct from our previous study of meditation using the same imaging technique [...] Neuroimaging studies have also shown increased frontal lobe activity during attention-focusing tasks [...] It is interesting that the frontal lobes showed decreased perfusion during glossolalia, but this is consistent with the subjects’ description of a lack of intentional control over the performance of glossolalia.

(Newberg et al. 2006: 70)

Newberg en kie is die eerste navorsers wat breinaktiwiteit tydens ‘n sogenaamde geestelike ervaring probeer meet – in hulle akademiese data-arsenaal is daar ook ‘n studie oor meditasie. Berig die New York Times: “The new findings contrasted sharply with images taken of other spiritually inspired mental states like meditation, which is often a highly focused mental exercise, activating the frontal lobes.”

In die verlede het ek gedink dis effens ongeskik om sommer te sê iemand kan nie vir hulleself dink nie. Tot my spyt moet ek bieg dat ek dit ook van tyd tot tyd doen. Twee van my gunsteling bloggers, Carien en Pienk Zuit, het ook al soortgelyke opmerkings gemaak en selfs die sagmoedige Bertus! het ‘n indrukwekkende reeks ad hominem-argumente teen kreasioniste geloods. Nou, ironies genoeg, begin ek wonder of die afwesigheid van denke die basis vir ‘n belediging kan wees om mee te begin. Ek het ook gedink tale spreek is niks meer as opgemaakte, fonemiese parafrases nie (lees: snert). Nou begin ek wonder.

(Ek sê geensins met hierdie inskrywing dat charismatiese Christene dom is nie.)

19 Responses to ““Die woord het mens geword””

  1. Hugo Says:

    Hmm… maar… kyk eerder vir die goed daarin.

    Hier is die vraag: is dit nie dalk gesond, op ‘n manier, voordelig op ‘n manier, om vir ‘n ruk lank jou brein te “rus” nie? Dis ‘n *ander* soort meditasie…

    Wat wel bietjie ironies is, is hoe hulle mens waarsku teen “oosterse meditasie”. Hulle sê dikwels met oosterse meditasie maak jy jou kop leeg, wat toelaat dat demone dit kan in vaar. Mens wonder of daardie soort waarskuwing nie vir glossolalia dan ook behoort te geld nie? ;-)

    In ieder geval, ‘n “religious experience” kan beslis “inspirerend” wees. Die vraag is egter wat jy daarmee doen. Meet die waarde daarvan aan die vrugte wat dit dra…

  2. johannes_11 Says:

    Johan

    Die charismatiese kerkbeweging word deurgaans geassosieer met die feit dat God nog met die mensdom kan kommunikeer deur drome, visioene, vreemde tale, en profetiese uitsprake. Hulle is nie met die Woord van God (die Bybel) tevrede nie, maar soek daardie persoonlike ontmoeting en ervaring met God. Die Satan is maar alte gewillig om gehoor te gee aan diegene met hierdie begeertes…..!

    Hierdie beweging is daarom nie afkomstig van God nie maar direk van Satan. Op die 21ste Mei 1988 het God met die totale kerkstruktuur as voertuig waardeur Hy die wereld sou evangelieseer “klaargemaak” en het Hy met Sy oordeel begin.

    Dit is die begin van die tyd wat die Bybel identifiseer as die tyd van Groot Verdrukking. Wat kan groter verdrukking beteken as die kerke dink dat God nog deur hul prediking en leringe dink dat God nog mense red, maar dat geen redding meer deur hul bedieninge meer moontlik is nie. Satan wat hom as ‘n engel van die lig voordoen is daarom maar alte gewillig om die plek van die Heilige Gees in te neem en weer (soos in die dae van Jesus) deur die dienaars van geregtigheid te werk sonder dat hulle dit agter kom(soos in die dae van Jesus het hierdie kerkleiers hardnekkig volgehou dat Jesus nie die Seun van God is nie.

    Dit topunt van die kragtige werking van die Satan se werking in kerke is die sogenaamde “slain in the spirit” verskynsel. Hierdie “val in die gees” verskynsel is maar net ‘n vervulling van dit wat die Bybel in “geskrywe” staan….

    (Openb 13:13) Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.

    Die hartseer verhaal is dat die meer Woordgetroue kerke nou agter die charismatiese beweging aan hardloop in ‘n poging om te verhoed dat hulle hul gemeentelede verloor…. ook maar bloot omdat hulle nie tevrede is met die Woord van God alleen nie.

    Die beginsel wat deurgans in die charismatiese beweging geld is “FAKE IT TILL YOU MAKE IT”

  3. sonkind Says:

    “wriemelende” gemeentelede? vreemde ‘image’ wat in my kop opkom.

    Johan, die oorgrote meerderheid van die mensdom dink nie vir huleself nie, hulle volg net die massas. Punt.

  4. mykopop Says:

    Ek self behoort aan ‘n tradisionele kerk, die een waarin ek grootgeword het en is nie baie lief vir “charismaties” nie. As ek in die kerk instap moet die orrel saggies speel, mense moet hulle “stigtelik” gedra. Dan voel dit vir my soos kerk. Maar mense verskil, dus dink ek die sleutelwoorde is “wedersydse respek.” As Newberg en kie wetenskaplik wil wees, sal hulle seker in my tipe kerk ook toetse moet doen – hoop net hulle bly weg van my af, anders vind die dominee dalk uit die banke slaap lekker!

  5. carien Says:

    Dis nogal interessant. Maar om regtig iets te sê hieroor (jammer, ek het nou nie die hele artikel gaan lees nie) moet hulle die eksperiment anders uitvoer.

    Verminderende breinaktiwiteit tydens die beoefening van glossolalie? Ek sou voel om regtig ‘n punt te maak, moet die spesifieke tipe breinaktiwiteit gemonitor word tydens ‘n wye reeks aktiwiteite – fietsry, slaap, lees, flieks kyk, Playstation speel, op die strand lê (tentopslaan??), belastingvorms invul, rugby speel, volksliedere sing, ens. Breinaktiwiteitsvlakke moet dan vergelyk word met dié tydens glossolalie. Ek sou dan meer in die resultate belangstel…

  6. Rustig Says:

    Johan hoe is dit as die mens nie iets kan verklaar nie, dan moet ons die slimmes vra vir antwoord op die onverklaarbare. Ek self is nie charmismaties nie en voel maar ontuis in hulle omgewing. Die enigste mense wat ek ken wat nie vir hulle self kan dink nie, sit in die SA parlement. Van brein afskakel weet ek nie so mooi nie. Ek glo dan die brein moet gedurig geoefen word anders verander dit in jellie.

  7. rightsaidreverend Says:

    Daar is ook mense wat meen dat enige godsdienstige aktiwiteit die optrede is van mense wat breinloos is.

    Ek, ek skaar my by Carien se voorstel. Eers as die genoemde navorsers hul bevindings kan vergelyk, sal ek dit met groter erns opneem.

    Moet egter sê: Ek is uiters ongemaklik met enige aktiwiteit wat die indruk mag laat dat mens in ‘n beswyming is.

  8. Johan Swarts Says:

    carien- ek hou van hoe jy dink.

    rustig – die slimmes het doodeenvoudig ‘n beter kans om ‘n korrekte antwoord te verskaf. as ek iets van die ou testament wil weet, nader ek veel eerder vir Bertus! of ‘n proffie hier by die US as (met alle liefde gesê) ‘n bergie wat visioene in sy spaartyd sien.

    rightsaidreverend – ek ook. ek kan nie verstaan hoe mense soms beheer wil verloor oor hulle motoriese funksies nie. i mean hoeveel kneusplekke kan ‘n mens nou eintlik opdoen as jy oor die grond wriemel. bygesê, nie almal van hulle wriemel nie, maar by ‘n paar kerke waar ek nou al besoek afgelê het, was daar beslis ‘n mate van grondgebondenheid.

  9. Pienk Zuit Says:

    Die wriemelende lidmate laat my dink aan my gunsteling advertensie op TV, die nuwe Coca Cola ad.

    “Brrrrrrrrrrrrrrr!”

  10. maeree Says:

    jy’s nie een vir kontroversie nie, is jy?
    interessant dat meditasie breinaktiwiteit verhoog. dit ondersteun diegene wat sê dat stilte harde werk is.

    ek het rumour gehoor dat jy nou vir altyd en altyd klaar ge-eksamen is.
    /me dans in opgewonde sirkeltjies

    ek weet sommer dat jy nooit sal ophou swot nie, al is die eksamens verby.

  11. Johan Swarts Says:

    nooit nie. ek belowe.

  12. Naweek (i) « Vrypostig Says:

    [...] Dan is daar ook die donkergroen gemoedsrus wat die Breederivier jou siel kan bied. Kom loer eerder dan hoe die bloed deur my lobbe vloei… [...]

  13. attie Says:

    My stuiwer in hierdie armbeurs. Ek was al self teenwoordig waar “vloer-gebondenheid” hoog op die agenda was. Ek kon nie anders as om elke keer daar uit te stap met die gevoel dat hier ‘n stuk manipulasie was nie. Oor die spreek in tale wile k ook sê dat as ek nog my studies reg onthou moet daar mos vergelykende studies wees waar (soos Carien sê) die breinaktiwiteit tydens ander tye ook gemeet word. Sover oor die studie, maar ek sou versigtig wees om spreek in tale sommer net af te skryf. Ek ken ook ‘n hele paar mense sê dat hulle die gawe het, maar dit nooit in die openbaar gebruik nie omdat hulle dit reserveer vir hulle tyd alleen met die Here. Het iemand êrens iets gesê van wedersydse respek?

  14. johannes_11 Says:

    Johan

    Hier is ‘n baie goeie verduideliking totwaar hierdie verskynsel se “wortels” strek http://www.familyradio.com/graphical/literature/tongues.html

    Nog nooit het die kerk dit vir ons so straightforward verduidelik nie. Wie dit ookal sou waag sou baie vinnig die deur gewys word…!

  15. Bertus! Says:

    Hierdie post teen dat jy eintlik ‘n baie goedhartige mens is. Jy gaan uit jou pad uit om die voor die hand liggende kritiek teen die pentakostaliste te temper, en dit spreek van groothartige toleransie asook ‘n wyse en volwasse liberale lewensbenadering. Die pentakostaliste kan wens hulle het nog opponente soos jy gehad.

  16. prayerweb Says:

    Ek is ‘n Christen en behoort aan ‘n charismatiese kerk. Toe ek Jesus aangeneem het as my Verlosser en ek sy genade aanvaar het, is ek met die Heilige Gees gedoop. Terselfdertyd het ek die gawe van tale ontvang. Vir meer duidelikheid oor die gebruik en die doel van tale beveel ek die lees van Handelinge and Korintiers aan. Om te kom by die breinaktiwiteit. Is interessant en baie korrek dat die breinaktiwiteit afneem – om in tale te bid of te spreek is nie ‘n brein funksie nie, maar ‘n geestesfunksie. Daarom sal die breinfunksie afneem. Jy dink maw nie – die Heilige Gees waarmee jy vervul is ondersoek jou gees en spreek deur jou direk met God – dit is jou privaat geestestaal met God.
    So maklik om te ervaar – daar vir enigeen – neem Jesus ten volle aan as jou Verlosser en gee jouself aan Hom. Mag julle almal hirdeie wonder ervaar. Mooi Loop.

  17. Johan Swarts Says:

    prayerweb – dis alles goed en wel, maar ek kan eenvoudig net nie die punt daarvan insien om in tale te spreek nie. dalk is dit die calvinis hier iewers in my wat teen die sinneloosheid daarvan skop, maar wat anders is dit nou eintlik as emosionele (of dan nou spirituele) masturbasie? hoekom wil die Heilige Gees direk tot God spreek? ek dog Hy IS God? Hoekom in ‘n baie duur beswyming wees as jy kan uitgaan en die wêreld ‘n beter plek maak?

  18. johannes_11 Says:

    prayerweb

    waarom wil jy “meer” beleef en ervaar as alleen dit wat in die Bybel geskrywe staan…? Deur die Woord met die Woord te vergelyk is jy besig om geestelike dinge met geestelike dinge te vergelyk en wel ooreenkomstig juis dit wat die Woord ons leer.

    (1Co 2:12) Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.

    (1Co 2:13) Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

    (1Co 2:14) Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

    (1Co 2:15) Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

    (1Co 2:16) Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

    Die Heilige Gees is juis werksaam wanneer ons die Woord van God (die Bybel) lees. Hy is die Een wat ons in Gees en in Waarheid lei.

    Die spreek in tale soos ons dit vandag sien manifesteer in kerke het sy oorsprong van die Vyand van God af. Dit het een doel en dit is om die mens (wat meer soek as wat “geskrywe staan”) van die Woord van God af weg te hou…. en dus in die vangstrik van die Satan gevange te hou.

  19. prayerweb Says:

    Spreek van tale – soos in Bybelse tye asook nou, is nie bedoel om in kerke te manifesteer nie, maar is vir jou as individu te bemagtig om meer intiem met God te kommunikeer. Ja, die Heilige Gees is altyd by ons en lei ons in die Waarheid, onderrig en vertroos ons. Maar, is jy vervul met die Heilige Gees en wedergebore in die Gees? Indien wel, dan is die moontlikheid baie groot dat jy wel die gawe van tale, profesie, genesing, uitleg van drome en tale ontvang het of enige van die gawes. Johan, daar is nikes duur aan nie – dit is vir jou binnekamertyd. En nee, om in tale te praat is nie om in ‘n beswyming te gaan nie, jy het beheer daaroor en kan kies wanneer om joiu gawe te gebruik. Jy het egter nie beheer oor die taal of die woorde wat uit jou mond kom nie.
    Soos gese, meng die menslike emosies en verstand (interpretasies) in met ons gebede – dit is nie verkeerd om nie in die geestestaal te bid nie, maar die geestestaal is ‘n “skoon taal” wat nie beinvloed word deur jou emosies of interpretasies van mense en gebeure nie. Jou gees praat direk met God – soos geinsoireerd deur die Heilige Gees waarmee jy vervul is.

Leave a Reply