“Die woord het mens geword”

October 31, 2007

Baie mense dink die sogenaamde Evangelical Pentacostal kerke is die kluts kwyt. ‘n Karikatuur van hierdie kerke se deursnee gemeentelid is iemand wat nie vir hulleself kan dink nie – ‘n skaap in ‘n kolossale kraal vol skerms en ultramoderne klanktoerusting wat aan die neus rondgelei word deur predikers met fut en duur karre. Glossolalie, die vermoë om in tale te praat, is nagenoeg eie aan hierdie gemeentes. ‘n Besoeker aan so ‘n kerk kan hoogs emosionele, gillende – soms wriemelende – gemeentelede te wagte wees. Die begrippe “emosionele oorversadiging” en “euforie” jumps to mind.

Nou bid jou die volgende aan: ‘n neuro-sielkundige studie van 2006 toon aan dat mense wat in tale spreek so waar as wragtig nié dink nie. Letterlik. Navorsers Newberg, Wintering en Morgan het bevind dat breinaktiwiteit tydens die beoefening van glossolalie (vreemde woord, ek weet) daal:

We observed decreased activity in the prefrontal cortices during the glossolalia state. This finding was clearly distinct from our previous study of meditation using the same imaging technique [...] Neuroimaging studies have also shown increased frontal lobe activity during attention-focusing tasks [...] It is interesting that the frontal lobes showed decreased perfusion during glossolalia, but this is consistent with the subjects’ description of a lack of intentional control over the performance of glossolalia.

(Newberg et al. 2006: 70)

Newberg en kie is die eerste navorsers wat breinaktiwiteit tydens ‘n sogenaamde geestelike ervaring probeer meet – in hulle akademiese data-arsenaal is daar ook ‘n studie oor meditasie. Berig die New York Times: “The new findings contrasted sharply with images taken of other spiritually inspired mental states like meditation, which is often a highly focused mental exercise, activating the frontal lobes.”

In die verlede het ek gedink dis effens ongeskik om sommer te sê iemand kan nie vir hulleself dink nie. Tot my spyt moet ek bieg dat ek dit ook van tyd tot tyd doen. Twee van my gunsteling bloggers, Carien en Pienk Zuit, het ook al soortgelyke opmerkings gemaak en selfs die sagmoedige Bertus! het ‘n indrukwekkende reeks ad hominem-argumente teen kreasioniste geloods. Nou, ironies genoeg, begin ek wonder of die afwesigheid van denke die basis vir ‘n belediging kan wees om mee te begin. Ek het ook gedink tale spreek is niks meer as opgemaakte, fonemiese parafrases nie (lees: snert). Nou begin ek wonder.

(Ek sê geensins met hierdie inskrywing dat charismatiese Christene dom is nie.)


Hoekom vegetariërs verkeerd is

October 30, 2007

Kan mense walvistaal praat? Natuurlik kan ons. Al wat ons moet doen is om die kolosse se soniese gedrag te analiseer totdat ons genoeg grammatiese en semantiese data het ten einde ‘n verstaanbare taal te konstrueer. Ek kan nou al sien hoe die eerste duiker in ‘n walvispak die duisternis insink om interspesie performance poetry slams te hou.

Oukei, mybie not.

Maar dis belangrik om te besef dat diere wel kan kommunikeer. Nie net met mekaar nie, maar ook met ons (wat in elk geval ook maar net koolstofgebaseerde lewensvorme is) . By ons viervoetige vriende is daar ‘n mate van prosodie te bespeur: skop ‘n hond en hy tjank – skop hom harder en hy tjank (of grom) harder.

Hierdie aanhaling, van ene R. B. Pragwat, slaan my dus dronk:

Vegetarianism is a voice for the voiceless. The voiceless are those who cannot speak for themselves, because they are meek and dumb. There are none less than our nearest and dearest brethren belonging to the animal kingdom. The Law of Providence has provided them with a very poor capacity for self-expression. [My klem]

(15th World Vegetarian Congress 1957)

Studies oor menslike kommunikasie deur Albert Mehrabian, ‘n sielkundige van UCLA, toon aan dat gesproke woorde slegs verantwoordelik is vir sewe persent van kommunikatiewe betekenis. Tot vyf en vyftig persent van betekenis is nie-verbaal van oorsprong. Dit is daarom nie net wat jy sê nie, maar ook hoe jy iets sê, wat sin oordra. Volgens Mehrabian* lyk die anatomie van ‘n (emosionele) boodskap so:

Anatomie van ‘n boodskap

Die nie-verbale (paralinguistiese) faktore waarvan Mehrabian praat, is natuurlik lyftaal. Hoewel sy studie op mense van toepassing is, is parallelle met diere ooglopend. Diere ween, toon pyn of tevredenheid, stuur paringseine uit, is soms paniekerig, iesegrimmig of omgekrap. Elke tjank, pyngedrewe spasma of stert-tussen-die-bene op die vlug slaan van ‘n dier is ‘n uiters duidelike boodskap:

“Los my uit. Dis nie lekker as jy my slag nie. Ek wil nie in jou ongemaklike stukkies lap voor ‘n skoupaneel paradeer nie. Jy het my tande uitgesny, nou pyn dit. Jou ossewa is swaar. Dis nie lekker om in ‘n loopgraaf te val nie. Die sirkushoepel se vlamme brand. LOS MY F$#%$ BALEIN.”

Wat bedoel vegetariërs wanneer hulle sê hulle praat vir dié wat nie kan nie? Dat diere, wat teoreties tot 93% so effektief soos mense oor basiese behoeftes kan kommunikeer, nie hulle eie pyn en lyding kan bekendmaak nie? Is woorde nodig om te sê iets is nie lekker nie? (Het ‘n krygsgevangene ‘n tolk nodig om te bewys marteltegnieke maak seer?)

Miskien moet die fokus eerder skuif na mense se skynbare onwilligheid om ag te slaan op eenvoudige, woordelose boodskappe. En dit bring ons by ‘n heel nuwe punt in die diskoers oor dieremishandeling, want die onvermoë om eenvoudige, kommunikatiewe seine verkeerd te verstaan of mis te kyk is so oud soos die mensdom self. Kan jy “oorlog” sê?

* Mehrabian, A. (1971). Silent messages. Wadsworth, Belmont, California.

(Ek weet – die kop van hierdie inskrywing is ietwat misleidend. Noem my ‘n statshoer.)


Pasteie en die sin van Afrikaanse blogging

October 28, 2007

‘n Bietjie navorsing toon aan dat die ou Suid-Afrikaanse landsleuse, Ex unitate vires (Eendrag maak mag), nie vreeslik oorspronklik was nie. Vir jare reeds is dit die trotse motto van ‘n drietalige België, wat “Eendracht maakt macht” (Nederlands), “Einigkeit macht stark” (Duits), en “L’union fait la force” (Frans) heet. Dis ook die leuse van Pembrokeshire, ‘n graafskap aan die Suid-Westelike kus van Wallis. Het dit ons voorouers gekeer het om dit as volkstrots te assimileer?

Identiteit is ‘n smerige besigheid – vir elke afbakening van ‘n subjektiewe self is daar gewoonlik nog een wat dit problematiseer. (Dink aan die Xhosameisie wat ‘n Indiese skoonheidskompetisie gewen het.) Politici teer op volkstrots; nasionalisme is so abitrêr soos die landsgrense wat dit omskryf.

Hierdie blog het natuurlik geen politieke affiliasies nie. (Hoera! hoor ek jou sê.) ‘n Klompie lesers het destyds hier stem dikgemaak oor hulle eie identiteit. Die poësie van Johannes_11 tersyde, sien die resultate as volg daaruit:

 

Die oorgrote meerderheid (86%), expat of nie, beskou hulleself as Suid-Afrikaners. Effens minder (71%) is Afrikaners en selfs nog minder (52%) reken hulle is Afrikane. Oor laasgenoemde kwessie heers daar effense onsekerheid: 10% weet nie mooi wat hulle is nie.

Wat maak ‘n mens met so ‘n steekproef? Seker niks nie. Kennis is mag en Bacon is lekker, maar die data is uiters beperk (ouderdom, ligging en sosio-ekonomiese status is byvoorbeeld nie in ag geneem nie).

Hoekom is die Afrikaner dan so gemoeid met sy identiteit? Heidegger meen die mens is die enigste spesie wat homself bemoei met gedagtes oor sy eie bestaan. “Alleen die mens”, skryf Opperman ook, “tref in sy swerwe / tussen hede, toekoms en verlede / die spleet tot grotte / van die rede” (Vuurbees). Is ons mense? Yup, ons is deur die bank gepla met die sin van ons eie bestaan. Swerwers? Ons emigreer vandag nog na die uithoeke van die aarde. Die eenvoudige antwoord is dan seker: ons is gepla met ons identiteit, omdat ons mense is.

Dis natuurlik veel meer ingewikkeld as dit. Toe die Afrikaner sy politieke mag verloor het, het hy tot ‘n mate ook die eendrag verloor wat in sy landsleuse vervat was. Ons is so gefragmenteerd soos kanonfodder in ‘n parskuip en dit maak ons, ironies genoeg, uniek. Iets ontbreek en ons soek dit terug.

Wat het dit met blogs uit te waai? My hipotese (tentatief ook die navorsingshipotese van my MA-tesis – steel dit en voel die toorn van my kitaar) is dat blogging die gemarginaliseerde Afrikaner ‘n geleentheid bied om, binne die veilige ruimte van die internet, weer ‘n stem te ontwikkel. Insgelyks bied dit Afrikaners wat deur hulle volksgenote gemarginaliseer word die geleentheid om onderdrukking teen te staan en hulleself sodoende te emansipeer. Op die internet is almal gelyk.


Mynhardtfletter

October 25, 2007

“WAT DE FOK”

Ek tree terug, gly amper op die matjie in my koshuiskamer en voel hoe my hart paniekerig teen my borskas begin fletter. Patrick Maynhardt is dood en daar lê ‘n generiese News24-doodsberig in my inbox.

Hoekom is dit vir my so erg?


50 / 50 se moses

October 24, 2007

Die onderstaande filmpie is die resultaat van die eerste verfilmingsprojek wat ek en Stephan Marais onafhanklik aangepak het. Dit was ‘n uiters leersame ervaring. Brandpunte waaraan daar nog aandag gegee kan word (maar waaraan ek myself net nie meer gaan steur nie weens ‘n verlies aan tyd) sluit in audio wat clip, kontinuïteitsfoute en jerky video. R50 e-mali vir die een wat die meeste diskrepansies kan uitwys. Kyk dit, toe – dis vir liefdadigheid. En daar’s kwaito in:

Volgende op die lys: babas.

In ander nuus: Die kernredaksie van [TYDskrif] mag moontlik agtergekom het dat korrespondensie vir ‘n wyle spoorloos verdwyn het. Die rede hiervoor is tweeledig: enersyds het ek die afgelope tyd gesukkel om tyd in te ruim vir breedvoerige e-posse, andersyds het ek my hardeskyf geformatteer, so al my netjies gestoorde e-posse lê tans iewers en wag in gerugsteunde .dbx’s. Belangrik, egter: [TYDskrif] (of wat ons ook al op die ou einde besluit om dit te noem) gaan sonder twyfel realiseer. Moenie ophou inskrywings voorlê nie en moet veral nie bang wees om jou eie inskrywings in te stuur nie.


Uitdaging

October 23, 2007

Soms kom Afrikaans net nie die mas op met tegnologiese verwikkelinge nie. Ek daag enigiemand uit om vir my ‘n gangbare vertaling van cluster grenades te gee met ‘n reguit gesig. As beloning sal ek, Idiwidi-styl, jou lof daagliks besing vir sewe (7) dae.

“Trosgrenate” tel nie.


Soms stort ek

October 20, 2007

Want dis lekker.

Statisties gesproke het ek drie russiese lesers. Stort jy?


Genialiteit

October 19, 2007

(sorrie Breyten)

Dames en here, vergun my om u voor te stel aan Cobus Potgieter, slagwerker en filmvervaardiger extraordinaire. Hy mik en voeter om vir u ‘n ritme te produseer, soos byvoorbeeld:


“Kom lewendig hier uit”

October 17, 2007

Om na Fokofpolisiekar te luister, is vir my ‘n spirituele ervaring.

Nou verstaan mooi, dis nie asof ek die groot rockgod in die lug se vingers oor my kopvel kan voel streel of ‘n verhoogde vlak van bewustheid of eenheid met die niet bereik nie. Ek het nie ‘n vergeelde foto van Francois van Coke in die hoek van my kamer met kersies en mirre nie en die enigste taal waarin ek brabbel wanneer sy stem deur my harsings dryf, is Afrikaans. Dis niks mistiek of messiaans nie. Dis bloot dit:

Ek kan my oë toemaak en deur nagklubs en oor voorstedelike Bellville klief. Ek kan die halfgeboude brûe in Kaapstad verby my kop sien vlieg. Op Tygerberg kan ek neerstort soos ‘n vliegtuig. Saans, as die maan helder skyn, kan ek koud en verward onder ‘n straatlig voor iemand se voordeur staan, met asem wat soos sigaretrook om my dwarrel. Ek kan langs Tafelberg afry terwyl die son sak, hoofkantore soos ereksies deur die “fyn wolkvlies van die horisonlyn” sien skeur en hemel op die platteland beleef sonder moflammers. My geld kan ek spandeer, my vingers kan ek geel kontempleer.

Soms sien ek vir NP Van Wyk Louw.

Wat Fokofpolisiekar reggekry het in die afgelope paar jaar, is monumentaal. Akademici besef nog nie lekker die omvang van hulle lirieke, die sosiale impak wat hulle op ‘n verwarde generasie gemaak het of die wending wat hulle in Afrikaanse musiek teweeggebring het nie.

As jy hulle nog nie gehoor het nie, click hier. Draai jou luidsprekers wyd oop. Sluit jou oë. Vlieg.


Kar

October 15, 2007

‘n elegie

die tweeduisend sewehonderd agt en twintig
halwe brode op sy oë glinster
nutteloos in die sekelmaan; traag om sy
strot swaai ‘n bottervat.

verby die nedersetting jaag hy,
mieliemeel flonkerend in sy kieste
verby die Kaap wat steeds Hollands is
(elke hektaar oorbevolk) verby sinkfraktalle
en gratis elektrisiteit en stof.

niksnutte

dink hy en speel met die geslypte
beesderms om sy kneukels, sy sitvlak knus
in ‘n waterkan. niksnutte, brom hy
en stuur liters loodvrye lampolie van
stapel. ledige, oproerige niksnutte!

in ‘n sloot langs die N2
lê Uyinyani en staar hom agterna. totsiens
mieliemeel, mompel sy, totsiens
brood en vleis en water. sy
draai haar rug op die grond,
vryf haar maag
en sien ‘n kar in die sterre.

© Johan Swarts 2007