Om saans na die sterre te kyk is om die wrede kant van die lewe te besef. Die groot grap van dit alles. Die tans onmeetbare (skynbaar ewige) heelal en alles wat daarin pols weet nie dat dit bestaan nie, maar ons, sterflik en kwesbaar, het ‘n bewussyn. Ons weet ons is hier. En ons worstel daarmee.
Om saans na die sterre te kyk is ook om te besef dat jy nie antwoorde vir alles op Wikipedia kan vind nie. Dis om te besef dat ekologie egoïsties is. (Geen homo sapiens, geen kwellinge oor aardverhitting en kusdorpies nie. Ons wil hierdie rotsbol bewaar omdat ons dit wil benut.) En dis om goeie rockmusiek te maak:
“Sny keelaf wat nog lewe”, skryf Boerneef in sy bekende gedig oor die Karoo. Dekades later onthoof ‘n man sy hond met ‘n petrolaangedrewe kettingsaag. Die Burger plaas grafiese beskrywings van die dier se dood, diereliefhebbers teken (niksseggende) digitale petisies en vir ‘n wyle is Inge Lotz en die res van Afrika se ontslape kinders iets van die verlede.
Tog fassinerend, dié ophef. Hoekom kla niemand dan oor ‘n mot wat deur ‘n gloeilamp geëlektrifiseer word nie? Hoekom stel niemand petisies op teen karre wat springhase of torre tot drel en spatsel reduseer nie? Teen jagseisoene nie? Visserspermitte? Slagplase? Zulu First Fruits Festivals? Hoeveel van die verontwaardigdes begaan ‘n estetiese ophemeling van Boerneef se gedig oor die lyding van ‘n skaap en peusel biltong?
Die heftige reaksie teen Phillip Matthysen se ligte vonnis bewys drie dinge:
Ons is kleinlik. Ons sukkel om die ander kant van sake in te sien. (Die “moord” is nie sonder rede gepleeg nie: Wagter was tewens taamlik stout.)
Ons is primitiewer as wat ons dink ons is, want om te hoop iemand boet onmenslik erg vir ‘n gruweldaad is om self gruwelik en dierlik te wees.
Suid-Afrika is in ontkenning oor ‘n misdaadpandemie wat buite beheer is. As ons kan kwaad raak oor die onregverdige behandeling van ‘n dier, trek dit ons aandag van die regte probleme daarbuite af. Hondeslagters sê sorrie, rowers skiet terug.
Ons is moflammers wat blêr vir krimpvarkies. En die jakkals hou jolyt.
Die absurditeit daarvan om water (en meer spesifiek: ys) aan te koop het my pas weer getref toe ek by my kamervenster uitgeleun het om na die reën te kyk. Helshoogte se klub het ys bestel – ‘n afleweringswa het voor die koshuis kom staan en ‘n paar ouens was besig om blouerige sakke af te laai in die reën.
Onderweg na die klooster op Graaff-Reinet stamp Nothnagel sy toon teen ‘n klip. Hy sweet om nie te swets nie – soveel so dat hy bietjies-bietjies in sy eie mond begin opgooi. Hy dink aan die meisie op Koos se rug. “Ek sal haar dy in my abdy kan verdra,” mymer hy en stamp weer sy toon.
“My fok man!” roep die bergie.
Nothnagel kyk verbaas ondertoe en steier van die stank. Voor hom lê ‘n lyf, half verdrink langs ‘n papsak. “Doos…” dink Nothnagel: “…dooswyn…” en wonder of hy dit in grootmaat kan opspoor vir sy abdy. Met die nuutingestelde taverne- en bordeelbelastingsakte raak nagmaal al hoe ingewikkelder. Transfigurasie is nie perde koop nie.
eers: die triomfantelike flakker van vlerke
swierig in die maanlig, gepantser en geveer
omgeef met membraan en eksoskelet
stip, soos die Horlosiemaker blindelings dikteer.
dan: paniek in die voelers. flitsbeelde
van dop en mandibel, spigtig
asof kreet uit aar en spier opwel
wyl harsings stuif en vliese grif
in fletsrooi vleis op glas. ‘n laaste adem
stol. soos gevriesde mukus meng ryp
met spatsel op ‘n ruit; onderlangs
brom ontbranding soos metaal silinders slyp.
het tor na Eva aan die heilsvrug gevreet?
of was hy perdalks tevergeefs ‘n askeet?
Ek maak hierdie inskrywing op ‘n plaas buite Trompsburg met ‘n 33.6k modem. My oë val oor my voete. Ek is moeg. Kwaad ook. My bagasie is vanoggend vroeg in Bloemfontein onder my neus uitgesteel. Ek het die afgelope week in ‘n badkamer op Orkney gaan huil, Scheizer-Reneke se brakwater (waarvan die waterbron onder hulle begrafplaas loop) geproe, poedelnaak op die Vrystaatse vlakte vir ‘n foto geposeer saam met ‘n klomp herkouende koeie en op uiteenlopende plekke kitaargespeel. Op damwalle. Voor bejaardes met Altzheimer’s. In ‘n Wimpy en ruïnes onder vriespunt.
Klein seuntjies laat my aan my oorlede broer dink. Gesprekke met medestudente laat my toenemend besef dat ateïsme nie naastenby ‘n bevredigende antwoord oor my hierwees op ‘n oorbevolkte rotsbol in die middel van niewers verskaf nie. Ek slaap te min. Charismatiese kerke en welvaartsteologie irriteer my meer as ooit tevore. Ek het steeds ‘n hekel aan godsdienstige fundamentalisme. Op Boshof het ek ‘n preek gebunk en ‘n grys omie in die kerk se toilette ontmoet wat my vertel het van sy seun en Satanisme. Ek het gedink hy’s die spoor byster, maar my bek gehou en geluister. (En hom toe beter verstaan aan die einde van sy sigaretstompie.)
Wanneer ek weer ‘n internetverbinding gaan raakloop, weet ek nie. Tot dan: borsel jou tande. Was agter jou ore. Help ou tannies oor snelweë. Môre ry ons Colesberg toe. Ek besit nou die klere aan my lyf, ‘n akoestiese kitaar en ‘n selfoon. Wanneer ek volgende week terugkom wag daar ‘n 15 bladsye opstel en die DigBy poësieslypskool (waarvoor ek voor die 13de Julie drie gedigte uit ‘n hoed moet trek) op my.