Kyk: nog ‘n twat wat dink Afrikaanse bloggers is so kommin soos gras. (Gee jouself ‘n klop op die skouer as jy die vorige sin kon dekonstrueer.) Debbie Smit skryf oor die Afrikaanse blogosfeer: “Blogging in Afrikaans beats walking the dog to exercise the mind”. Voorts is haar raad aan ‘n Afrikaanse blogger: “the web is about being inclusive, not exclusive.”
Terselftertyd verskaf sy ‘n lys van eksklusiewe webtuistes wat vir haar eksemplaries van Afrikaans op die internet is. Laasgenoemde sluit Dieknoop.co.za, Steve se Spoegblok (daai een met die onooglike layout) en Poes.co.za in.
…en ‘n man met longkanker daag by jou restaurant op en dring daarop aan dat een van sy eie longe vir hom voorgesit word (medium to rare) – sal jy hom bedien?
Tale, soos mense, sterf almal een of ander tyd uit. Dit was die lot van Chicomuceltec, !Xam, Akkadies en ‘n swetterjoel ander waarvan ek die name nie eers kan begin uitspreek of vertaal nie. Voorafgenoemde tongknopers het elk ‘n lepel in die leksikon gesteek omdat hulle deur primitiewe beskawings gepraat is en ruïnes nie oor stembande beskik nie. (Ek sou kon dink dat, as Maja’s rekenaars of die drukpers ontdek het, hulle taal dalk langer gepreserveer sou kon word. Dis ongelukkig te laat om te probeer.)
Ons 11 amptelike landstale is natuurlik nie ‘n uitsondering nie. Ek gee hulle ‘n maksimum van 500 jaar voor hulle óf gedeeltelik verdwyn óf begin kreoliseer (suiwer taal is in elk geval ‘n nasionalistiese mite) óf saam met die kontinent uitgewis word in ‘n grootskaalse kernoorlog.
Die beste teenvoeter vir die uitsterwing van ‘n taal is, ironies genoeg, oorlog en kolonialisme. Dis hoe Engels (dink Amerika en Australië), Frans (dink Kanada, Chad en Kameroen), Spaans en Portugees (dink Suid-Amerika) en Latyn (dink al die tale in hierdie sin) uitgebrei het.
“Hoe dan nou gemaak met onse Trots?” hoor ek die hoeders van Orania se lingua franca vra, onderwyl hulle petisies teen MXit na Jannie Pelser stuur. Die oplossing is voor die handliggend. Ek sou myself beduidend hard skop omdat ek dit nie uitgedink het nie, maar ek het (en daarom gaan ek myself nie skop nie):
Koop Kanada. Verklaar oorlog teen Amerika. Wen. Dwing hulle kinders om soos ons s’n te vloek en siedaar – nog ‘n paar honderd jaar vir Opperman en Krog.
Al die oorlogkunde, militêre opleiding en marteltegnieke in hierdie wêreld is oorbodig. Skraap net ‘n mikroskopiese metaalhakie in iemand se oorkanaal sodat ongewenste elemente teen die oordrom skuur en siedaar: pyn. Harde pyn. (Pun intended.)
Vriendinne wat medies swot is die wonderlikste mense op aarde, aangesien hulle aanhou luister as jy hulle vertel van die puin wat uit jou oor gekom het.
‘n Nagklub vol nikotienwalms is nie ‘n goeie plek om in te wees as jou kop vir drie dae nie naby water mag kom nie.
Op skool was ek in ‘n band. Wattage. My kitaar was nie my vingers se beste maatjie nie en die baskitaarspeler het nooit ‘n baskitaar besit nie. Wanneer ons geoefen het, het dit gewoonlik in chaos ontaard. Ek was ‘n Creed- en Three Doors Down aanhanger, Pierre (tromspeler) het gehou van NOFX, Jacques (hoofsanger) het al ‘n aanbod na ‘n boeremusiek-orkes gehad en Marsanne (wat tegnies nie baskitaar gespeel het nie) het klassieke musiek en Afrikaanse danstreffers verkies.
Nodeloos om te sê kon ons oor niks saamstem nie:
Tog, vanweë ons uiteenlopende invloede was dit een van die produktiefste tye van niksdoen in my lewe. Lirieke is meestal in die hitte van die oomblik geïmproviseer. Musiek ook. Vir twee ure elke week het ons meer gelag as ‘n literator vir Penseel. Sorgeloos.
Uit die opnames wat ons met my rekenaar en die kerk se klankstelsel gemaak het, het ek en Jacques later vir almal die berugte Wattage CD gemaak. Dit was die somtotaal van ons kreatiwiteit: vier selfgesnyde laserskywe met ‘n ingekleurde potloodskets op die voorkant.
Jacques was die Hoërskool Bellville se eerste spotprenttekenaar, is gelukkig getroud en maak tans kweelgeluidjies vir sy babadogtertjie. Marsanne swot Musiek. Pierre het ‘n klankingenieur geword. Karlien Husselman (wat een aand by die kerk opgetree en ons naam verkeerdelik uitgespreek het as “die What’s Up band“) het vanjaar by die KKNK opgetree saam met ‘n kitaarspeler en ‘n backtrack. Die bottel Smirnoff Twist op my lessenaar noop my om hierdie inskrywing kort te knip en Gorter se Sonetten klaar te lees.
Ek het nog altyd ‘n voorliefde vir elektriese kitare gehad. (Veral as die sein geclip of buite proporsie geblaas is met distortion pedals.) Op skool het die fyn nuanse van die instrument my egter ontglip – al wat toe getel het, was volume, volume en nogmaals volume. En ‘n powerchord of twee. Vandag nog is dit my wysvinger, ringvinger en pinkie se gunsteling ontsnapping van die werklikheid:
Nie dat daar enigiets skort met volume nie. Intussen het ek wel besef dat distortion nooit ‘n verskoning vir slordige kitaarspel mag wees nie. (Die botone wat daarmee saamgaan, verbloem te maklik tegniese beunhasery.) Tog, steeds: once a rocker, always a rocker.
Afrikaans misluk soms liederlik wanneer dit vertaalekwivalente vir Engelse begrippe moet verskaf en 68% van julle is n00bs op Vrydae. Moet alles vertaal word?
Waar is daar dus werk vir taalstudente, broers en susters? Daar waar daar tekste is, natuurlik. Maar waar kom hierdie tekste voor, liewe gemeente?
Hulle is daar as jy die televisie aanskakel of graanvlokkies uit ‘n kartondoos werp. Hulle wag vir jou op die Viagra-pamflet in jou onderlaai en die waarskuwing op jou sigaretboksie, skuil onder Coke-doppies, op etikette en in jou gunsteling Jurie Els-treffer. Hulle is orals. Hulle is alles. Kortom – hulle is jy.
Op ‘n Stellenbosse wintersaand in 2005 het ek en Cobus Potgieter (drummer extraordiare) oor capture the flag, musiek en die sin van die lewe gesels. Ek laat glip toe dat ek ‘n paar dae gelede vir die grap daarvan ‘n weergawe van Finale 2005 afgelaai het, daarmee rondgespeel en ‘n eenvoudige klavierstukkie gekomponeer het. Hy noem toe heel terloops dat hy kan beatmix. One thing led to another en my note is amptelik gefunkify:
(click om te speel)
Nadat ons gister weer gepraat het (dié keer op GoogleTalk) het ek skielik al die klanke wat ek in matriek en die eerste paar maande van my eerstejaar vervaardig het, herontdek. Dis vol static en dilettantiese kitaarspel, maar dis ‘n stukkie van myself waarvoor ek lief is en wat ek nooit wil verloor nie. Skaf solank oorpluisies aan – vandeesweek sal hier daagliks treffers uit my prille jeug vrygestel word vir loutere luistergenot oraloor.