Die ongelooflike filosofiese paradoks 2.0

April 29, 2007

(Met apologie aan Nico.)

Ek kan nie kleinkry hoe iemand iets in skottelgoedwater kan was en dan direk daarna proklameer: “die water is vuil, tap nuwes in” nie. As die water vuil is, hoekom is die vorige stuk skottelgoed nog daarmee gewas?


Salige snuifie

April 25, 2007

Daar is min dinge wat so vreemd ruik soos ‘n koshuistoilet met nuutgeverfde mure.

Jacques het onlangs weerlig afgeneem. Kyk daarna en vertel vir hom hoe funky hy is.


Bab(b)el

April 23, 2007

Vyftien woorde wat ek die afgelope paar dae in digbundels raakgelees het wat vir my nuut, herontdek of sommer net weer mooi was:

twyf
pees
verlaas
puur
krakeel
skeen
keie
glooiinge
snyfie
stug
kaats
papel
digklap
presieuse
vlok
skig

(Die meeste hiervan natuurlik uit die windvanger)


Terloops: ‘n katarsis

April 22, 2007

(Chester Bennington is vir vyf jaar gemolesteer.)


5 dinge wat jy (dalk) nie van my geweet het nie

April 21, 2007

Beuls blaas is nie juis my gunsteling tydverdryf nie. (Al het ek trompet op skool gespeel.) Uno het egter onlangs binêre aan-aan met my gespeel – ek kan nie anders as om saam te speel nie. Hiermee dan 5 dinge wat jy moontlik nie van my geweet het nie:

  1. Ek het kitaar begin speel om meisies te beïndruk. Met een uitsondering het dit nooit gewerk nie, maar dis een van die beste oordeelsfoute wat ek in my lewe gemaak het.
  2. Die vreemdste plek waar ek iemand al gesoen het, was in die Universiteit van Stellenbosch se bibgat voor die JS Gericke Biblioteek.
  3. My bababroer is voor my oë dood toe ek 8 jaar oud was.
  4. Iewers in matriek het ek die melktert in die personeelkamer se yskas (wat bedoel was vir die beoordelaars van die eertydse DALRO-toneelkompetisie) gegaps terwyl ek na-ure aan die skoolkoerant gewerk het.
  5. Alhoewel ek telkens saam met die koshuis kaalnael na middernag, is ek nié ‘n oggendmens nie.

En nou tag ek elkeen op my blogroll en wie ook al hierdie post lees. Wat weet ons nie van jou nie?


Frisbees

April 18, 2007

o die blye tyding

April 17, 2007

Breyten Breytenbach se nuwe bundel, die windvanger, is gister bekendgestel. Koop dit. Koop nog een. Plaas ‘n kopie in jou aktetas / rugsak / skooltas / gatsak en ‘n kopie op jou toiletbak. Jubel. Herhaal.

42% van julle dink xilofone is cooler as aartappels. Is daar iemand wat nie weet wie Jan Afrika is nie?


Aan die twat met die vlag op sy t-hemp

April 15, 2007

Jy is nie 100% boer nie. ‘n Boer ploeg, beskik oor uitgebreide kennis van stropers en skape en hou weerpatrone dop. By tye saai hulle. Soms bid hulle vir reën en sukkel hulle met plaasmoorde.

Die enigste saad wat jy ooit saai, kleef aan jou Billabong-broek vas.

Sit neer jou bier, vergeet van die monumente wat jy nog nooit besigtig het nie, trek uit jou Crocs en gaan kry ‘n ander identiteit. Want die Vader (wat jy gereeld uit jou gatsak ruk om vloekwoorde om etenstafels mee te heilig) weet, ons het nie nog ‘n verstopte toilet nodig nie.


Kringe in ‘n Bos

April 13, 2007

Terwyl ek hierdie naweek op die akkerdorp swoeg om ‘n 15-bladsy opstel oor Vincent Pienaar se Kringfluit te voltooi, laat ek julle met die onvolledige, amptelike nie-amptelike kitaarkanon van vanjaar se KKNK. Click hier (of daar bo) vir ‘n verslag oor die bespelers van die enigste instrumente wat goeie kringfluite tot gevolg het.

As arme Maryna Bester dit maar net geweet het…


Willem Botha Plus Ster

April 10, 2007

Ek het dit toe goed gedink om verlede naweek agter onse Willem te poseer vir ‘n fototjie toe hy, vreeslik avant garde, van die verhoog in Die Burger se Tongelostent afgespring het, oor verskeie strooibale gehardloop en op ‘n tafel vir die gehoor gaan sing en dans het. Ek het ‘n donkerbril gedra, so ek dink nie hy’t my herken nie. Sjoe.

willem-botha-johan-swarts.jpg