Roadtrip

March 30, 2007

Nadat ek en drie koshuisbuddies vanmiddag láát petrolgeld buite Stellenbosch gaan bedel het in snaakse klere, is ons oppad KKNK toe. Ons het net onder R400 in ‘n halfuur gemaak (mense gee graag geld as jy met ‘n kitaar in die middel van die pad staan en nonsens sing) en vertrek môre skuins na middagete in die algemene rigting van Oudtshoorn. I’ll keep you posted.

Terwyl ek weg is, staan almal natuurlik weer die kans om die magiese R50 te wen. Click HIER vir besonderhede.


Soms lyk ek anime

March 28, 2007

huisfondsdans-2007-020.jpg


Avhatakali all over

March 27, 2007

‘n Goeie vriendin vra my vanoggend hoekom ek so perky is. Ek verstaan nie, trek my gesig op ‘n plooi en staar effe benulloos na haar. Bedonderd, sê sy. Hoekom is ek so bedonderd. Sy was sarkasties.

Klaarblyklik is ek bedonderd.

‘n Man het homself en twee baba’s hierdie naweek vol petrol gegooi en aan die brand gesteek. Die man wou sterf en het die vlamme vanselfsprekend nie probeer keer nie. Die baba’s se gunsteling tydverdryf was seker ook nie om te brand nie, maar dis moeilik om ‘n kardeur uit te pluis as jy vyftien maande oud is. Toe verkool hulle maar.

Ek is nie bedonderd nie, Dawid. Regtig. Ek is die fokken magtelose moer in.


Se gat

March 23, 2007

Rikku Latti skryf toe mos ‘n tydjie gelede dat backtracks Afrikaans se swart gat is. Ek vind dit uiters vreemd en wil graag drie dinge uitlig:

1. Backtracks as sulks is nie noodwendig boos nie. Op die ou einde van die dag is ‘n vervaardigde liedjie ‘n konglomeraat gemanipuleerde klanke, elkeen gebed in die digitale loopgrawe van Audition, Cubase of wat jy ook al gebruik om dit mee vas te vang. (Notepad as jy die Übermensch is.) Om backtracks te verwerdig, is deels om die menslike stem superieur te ag bo die res van hierdie geluide.

Dis natuurlik so ver van die waarheid af as wat kan kom. ‘n Stem kan nie die polifoniese harmonieë van ‘n Chapman Stick of die asemrowende spoed van ‘n viool of ‘n elektriese kitaar troef nie. Dit kan ook nie gebruik word om mense mee te slaan nie en klink afgryslik wanneer dit distort (wat dit natuurlik, na my baie subjektiewe mening, besonder vervelig maak).

‘n Backtrack is nie ‘n minderwaardige supplement tot ‘n paar stembande nie, want op ‘n suiwer tegniese vlak is die menslike stem nie juis die wonderbaarlikste instrument wat bestaan nie. (As iemand vorendag kan kom met ‘n tenoor wat al 24 van Paganini se capriccios op tempo kan sing, sal ek van mening verander.) Latti kan gerus eerder stemme afkraak, in welke geval hy homself ook sal moet beledig.

2. Latti begryp moontlik nie dat digitale musiek (trance jumps to mind) oor iterasie eerder as variasie gaan nie. Dat dit soms oor buitensporige volumes gaan wat jy nie net moet hoor nie, maar moet voel. Dis ‘n oerding. Infected Mushroom se werk is ‘n goeie voorbeeld van die soort genialiteit wat aan die dag gelê kan word met samplers en sagteware. Die afwesigheid van snare maak nie noodwendig iets so kommin soos gras nie.

3. “Karaoke-sangers” het backtracks, Latti speel kitaar – dis asof hy daarna skimp dat backtracks minderwaardig is teenoor die instrumente wat hy tydens vertonings gebruik. Vreemd. Want Latti benut nie werklik sy eie instrumente ten volle nie. Die dag wat hy soos Yngwie Malmsteen kan speel – die dag wat hy Paganini kan naboots sonder om ‘n oog te knip – eers dan kan hy ander vermaakkunstenaars en hulle begeleidende backtracks afkraak. Tot dan moet hy eerder swyg.

Kyk dan net hoe mooi doen oom Yngwie dit:

27% van hierdie bl0g se lesers is Atilla die Hun. Hou jy van xilofone?


Bedlam/en/tasies

March 22, 2007

Lank lewe Joe

March 20, 2007

Jy weet jy is ‘n kitaarspeler wanneer jy die hope klere, papiere, eetgerei, boeke, leggers, sakke en ander lukrake items in jou chaotiese kamer ignoreer wanneer jy dit betree met die bedoeling om op te ruim – en eers vir ‘n uur of wat rustig op ‘n akoestiese kitaar sit en tokkel.

Ek het dit vanmiddag gedoen tussen ‘n oggendklas en my diensbeurt as assistent by die Departement. Die begin en einde van Circles (deur Joe Satriani) is nou my vingers se nuwe vriende. Eendag as ek groot is, sal ek die middelste deel ook kan speel, maar vir eers verlustig ek myself in die bedrieglik eenvoudige gedeeltes van hierdie genie se musiek:


Jou ma se Texas

March 19, 2007

Ek vind dit onsettend irriterend as mense my konfronteer oor vloekwoorde op ‘n Sondag en dan sê dat hulle dit veral nie op die Sabbat wil hoor nie. So asof die dag ‘n verskil maak aan die intensiteit van my taalgebruik. Ek kan seker baie terugsê, maar verkies om my repliek aan almal wat kla oor my idiolek oor te laat aan die paralinguistiese taal van ons gerespekteerde vriend, Oom Bos:

Ruzelda het onlangs weer haar kasblom natgelei en Melanie het ‘n blog begin. Ondersteun hulle – dis die regte ding om te doen.


Toe praat Antjie…

March 19, 2007

Afrikaanse studente is ook darem nie heeltemal apaties teenoor die land se digters nie. Antjie Krog het Vrydagmiddag ‘n lesing oor De La Ray in die Letteregebou kom lewer en daar was nie plek vir ‘n muis nie. Die meerderheid van die gehoor was studente. Antjie het, soos gewoonlik, meer sin gepraat as die meeste ander geraasmakers wat so sanik oor ‘n snit waarin die elektriese kitare heeltemal te sag is. (Wie ook al daardie liedjie gemix het, moet asseblief nooit rockmusiek probeer vervaardig nie. Groot asseblief.) De La Ray, het sy gemeen, moet geïnterpreteer word as ‘n mitiese figuur, selfs al is hy ‘n historiese een. Onder die vaandel van hierdie karakter moet volke herenig en bymekaarbring word en nie, soos aweregse Afrikaners soms meen, tot die een of ander rewolusie geroep word nie. Sy’t Levi-Straus aangehaal en baie handgebare gebruik. Ek het Macdonalds geëet.


Voorskou #4

March 15, 2007

‘n Gekke man het eendag vir my gesê ek en my kussing rafel uit en hoort onder ‘n groen dak. Om meer spesifiek te wees, het hy gesê, hoort ons in een van daardie kamertjies met die baie kussings teen die mure. Dit het vir my al te aangenaam geklink, maar my kussing was nie in akkoord nie. Ek sal te veel met die ander kussings flankeer, het sy nors geflap-flap: sy weet mos ek is ‘n man en ‘n man is nie ‘n klip nie. Klippe hou nie van kussings nie, het ek haar mooi reggehelp, maar sy wou nie hoor nie. Ek het nie geweet wat om te doen nie, toe voeter ek haar maar teen die gek se nek.

Sy was woedend en het weggeloop saam met ‘n lesbiese bedpoot.


Blus

March 14, 2007

Dit was 2001. Christiaan Brand, dastrekker van formaat, wou nog altyd ‘n brandblusser leegspuit. Dit was sy droom. Toe, een fatale pouse, was Walter Cloete op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.

…En die namiddag het room geword.

n824320511_148973_517.jpg

(Die oorspronklike foto is iewers tussen niewers.)