January 31, 2007
Tussendeur die skaafwerk aan die klankbaan en beeldmateriaal vir Vensters, is ek besig om Foto Na Dans se nuwe kortspeler vir Die Matie te resenseer. (Ek het ook belowe om ‘n nuwe boek oor die Voëlvrybeweging te resenseer, maar het dit nog nie gelees nie. Hierdie keer gaan ek egter nie maak soos die keer op skool toe ek die eerste Harry Potter-film vir die skoolkoerant geresenseer het sonder om daarna te kyk nie.)
Ek sukkel om agter te kom of Nel en kie se lirieke goedbeplande, semantiese landmyne of grammatikale aborsies is. (Ek hou van die laasgenoemde sin. Dalk moet ek dit net so gebruik.) ‘n Liriek soos…
Ek sal jou neerlê op skrif, sodat ons kan
onthou
Sodat ek in ink mag rus
…het potensiaal. Dan is daar egter weer uitdrukkings wat onsettend passé daaruit sien:
My siel is verkrag
Dit pla my dat die trompetsolos soms te sag is. Tyd (en 200 repeats met WinAmp) sal seker help. Dalk groei die musiek nog op my. Een ding is egter seker – hierdie ouens se musiek verdien meer aandag as ‘n Kurt Darren-treffer. Ek gaan dit vir hulle gee.
(My kinderdae is nie so uniek soos wat ek gedink het nie. Soek jy aandag?)
3 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans, Gee terug my flits, Universiteit Stellenbosch |
Permalink
Posted by Johan Swarts
January 29, 2007
Ilza Roggebrand het ‘n maand of wat gelede die volgende (aan Riku Lätti) op LitNet geskryf:
Riku, jy en ek glo enige kunstenaar wil graag voor ’n uitgepakte saal/tent/venue sing. Wanneer Huisgenoot – ek neem aan die meeste van jou kritiek is op ons gerig – kunstenaars soos Kurt en Robbie Wessels en Nicholis Louw op ons verhoog by kunstefeeste sit, sit ons hulle daar omdat ons weet wat die mense wil hê. Ons wil boude op stoele hê en daardie kunstenaars doen dit vir ons. Maar ek weet ook dat Laurika en Chris Chameleon en Jannie Moolman ook ons tent volmaak, en jou teorie dat ons net in “karaoke-sangers” belangstel, is dus ’n bietjie wankelrig. En niks gee my meer plesier om ’n kunstenaar soos Abel Kraamsaal of Gian Groen tussen kunstenaars soos Kurt en Nicholis op die verhoog te sit en te sien dat daar so hier en daar ’n ander wêreld vir mense oopgaan nie.
(Van Voëlvry tot Idols)
Behalwe dat Roggebrand nie skroom om woordoortolligheid te pleeg nie (sy besef klaarblyklik nie dat sale en tente venues ís nie) gebruik sy ‘n baie geykte woordjie om na sangers te verwys.
Kunstenaars.
Dit sal seker arrogant wees om daarop aan te dring dat sekere sangers nie kunstenaars is nie (alhoewel ek voet by stuk hou dat Paris Hilton hel toe moet gaan vir die liedjies wat sy sing). Tog kan ek nie help om te sidder wanneer ek dit hoor nie. Hoekom? ‘n Kunstenaar is iemand wat iets skep. In die wêreld waaroor Roggebrand skryf, is dit egter so ver van die waarheid af as wat kan kom. Teen die tyd wat iemand ‘n “treffer” hoor, is dit lank nie meer een persoon se breinkind nie – ‘n hele span vervaardigers, editors, klankmanne, ateljeeskoonmakers (ja, selfs ateljees raak vuil) en pizzaguys het dit dan reeds onder hande gehad. Die sogenaamde “kunstenaar” se skeppende inset is weinig groter as die mikrofoon wat hy of sy vashou.
Roggebrand kan eerder van “vermaakkunstenaars” praat. “Kunstenaar” just doesn’t cut it op ‘n semantiese vlak.
4 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans, WTF |
Permalink
Posted by Johan Swarts
January 28, 2007
Ek is lief vir my koshuis – selfs al kan hulle nie spel nie…

Leave a Comment » |
Algemeen Geskaafde Afrikaans, Universiteit Stellenbosch |
Permalink
Posted by Johan Swarts
January 25, 2007
…wat by my opgekom het terwyl ek ‘n beter codec gesoek het om klein voorskou-snippets vir een van Helshoogte se vensterkarakters (‘n nuusleser) te render:

1. ‘n Afkeur aan anglisismes is ‘n afkeur aan Afrikaans. Engels is eeue ouer as Afrikaans; dit het ‘n swetterjoel idiomatiese uitdrukkings, oneindig meer dialekte en ‘n literêre geskiedenis waarvan ons maar net kan droom. Binne die destydse kader van Afrikanernasionalisme (wat hoofsaaklik maar die oorsaak was van die boere van ouds wat Engels as die Satan self afgemaak het) is kakietaal as (on)suiwer kak (sic) beskou – juis om te skop teen die beskouing dat Afrikaans ‘n kombuistaal is. Om jou neus op te trek vir anglisismes is om onbewustelik te erken dat Afrikaans minderwaardige nomenklatuur is. (Het jy immers al iemand hoor kla oor Maleisianismes?)
2. Eerstejaarskampe is soos seks voor die huwelik. Jy het net een kans om te besluit of jy dit wil doen en nadat die besluit geneem is, sal jy nooit weet of die ander keuse beter sou uitdraai nie.
3. Russel Botman se grasperk moet natgelei word.
7 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans, Universiteit Stellenbosch |
Permalink
Posted by Johan Swarts
January 23, 2007
Dit bly vir my vreemd hoe basiese motoriese funksies (die soort wat jou in staat stel om te loop, eet en piepie) skielik op ‘n eerstejaarskamp die mees magiese ding ter wêreld kan wees:
Voornemende damestudent #1: hier kom hy!
[gooi bal]
[Voornemende student #2 vang bal en huppel opgewonde rond]
Voornemende damestudent #2: Ek het dit! YAY!
(Ek is terug.)
3 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans, Universiteit Stellenbosch, WTF |
Permalink
Posted by Johan Swarts
January 20, 2007
Ek sit in ‘n strandhuis en kyk na ‘n geraamde foto van Thabo Mbeki. Wilken speel kitaar. Die yskas in die kampkombuis het voor sy termostaat geswig en geswyg. Ek hoor die see. Die vorige sin pas nie. Deeltekens is buite my vermoe; ek en Calvyn het ‘n wireless netwerk met sy laptop gehack en gratis internet ontdek. Die aand laat my dink aan baba’s. Ek mis mense. Ons woon reg op die strand, maar mag nie vuur daarop maak nie. Ek het my eetgerei vergeet.
Ses glase lemonade en spitsverkeer is nie maatjies nie.
2 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans |
Permalink
Posted by Johan Swarts
January 18, 2007
Keyboards is boos. Behalwe dat dit verantwoordelik is vir 90% van die trompetsolo’s in Suid-Afrikaanse gospeltreffers, hou dit ‘n hoë gesondheidsrisiko vir kinders in. (Toe ek klein was, het ek ‘n CASIO keyboard gehoor en amper my niere uitgebraak.) Ek pleit dus by al my lesers om so ver moontlik van plastiekagtige MIDI-instrumente af weg te bly. As ‘n vreemde omie langs die pad vir jou sy klawerbord wil wys, moker hom met ‘n klawesimbel en laat spaander. Onthou – jou niere is kosbaar.
Ek vertrek môre-oggend na ‘n eerstejaarskamp by Melkbosstrand, waar ek en drie ander nierliefhebbers vir ‘n paar dae musiek gaan maak. Die nierdiere is:
Calvyn du Toit – Baskitaar (Van Kaleidoskoop-faam)
Wilken Calitz – Viool (van Malva Centauri-faam)
Ek – Kitare (Van raas in my kamer-faam)
Iemand wie se naam ek vergeet het - Dromme (Van ‘n faam wat ek vergeet het)
Terwyl ek weg is, staan almal natuurlik weer ‘n kans om die pseudo R50-noot te wen. Click hier om die wenkommentaar te los.
(Ek is aangenaam verras dat verskeie van my lesers ‘n postmoderne streep weg het. Is jy befaamd?)
13 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans, Universiteit Stellenbosch |
Permalink
Posted by Johan Swarts