Toe mondelinge hoogmode was en ek standerd ses, het my Engelse onderwyseres ons beveel om ‘n song analysis voor te berei. Elke leerling moes ‘n liriek aan die klas kom voorlê, uitlê en dan gaan platlê vir didaktiese kommentaar.
Ek het myself in die vreemde posisie bevind dat ek nie werklik liedjies geken het nie.
Anders as meeste ander kinders het my ouers my grootgemaak op die maat van niks. Terwyl sommiges vervel het saam met “Elvis en die Briels”, “Annelie van Rooyen” of (God behoede ons) “Die Dordtse leerreëls”, is ek van kleins af gespeen om vir myself te dink en potte met lepels te voeter. ‘n Musikale tabula rasa met melktande.
Terwyl my klasmaats dus die hele week lank verduidelik het hoekom hierdie of daardie liedjie hulle tienerangs en nyd vir hulle ouers se musiek volmaak verwoord, het ek benulloos gesit en wonder wat ek in die CD-speler, wat onheilspellend langs die tru-projektor voor die swartbord gestaan het, kon prop. Ek het nie werklik ‘n gunsteling musiekgroep gehad nie – het nog steeds nie. Tog, in al my benulloosheid oor populêre kultuur, het ek kennis gedra van een band:
Ek kan nie mooi onthou hoekom ek van hulle begin hou het nie, alhoewel ek dink dat dit iets met Noodles se hare te doen gehad het. Ek, Neil, Johnny en Walter (wat almal in die hoek gesit en een keer brood in Piero se handboek gedruk het) het dus elkeen ‘n Offspring-nommertjie geanaliseer, tot groot misnoë van ons onderwyseres. (Suiwer geraas, kon ek dit in haar oë lees, wat nie so lekker akkordeer met Liquido, Celine Dion en die Venga Boys nie.)
Skaam dog vasbeslote, met ‘n gesig wat nie lekker geweet het wat om met homself aan te vang nie, het ek hulle vyfde album (geleen by John Murry) in die CD-speler gedruk en myself laat gaan oor The Kids Aren’t Allright. Die indrukwekkende betoog wat ek die vorige aand in my bed voorberei het, (ek het nooit mondelinge neergeskryf nie) het natuurlik glad nie uitgekom soos beplan nie. Een aand moes ek ook ‘n droom oor die New Critics had, want my analise is reël vir reël afgehandel. Rigied verby. My kommentaar was iets soos:
“Thank you, Johan. Very…eh…systematically. Who’s next?”
(Die onderwyseres ter sprake het my ‘n paar weke daarna vertel dat haar man daardie einste album besit. Sy’t ‘n lewende urban legend geraak tussen my en Mai-Li – dié Engelse onnie wat kwansuis met ‘n punkrocker getrou het.)
Nou, agt jaar na my stotterende betoog, is The Offspring besig om hulle agste album sedert 1984 op te neem. Bands kom en gaan, maar hierdie kêrels bly aan die gang met hulle nonchalante sosiale kommentaar, eenvoudige kitaarpartye en, les bes, supercool hare.
Ek kan nie wag om die negende een te hoor nie.











December 5, 2006 at 1:34 am |
[Ek hamer en stut my langwerpige kop om 'n geestesbeeld van 'n skolierige johan (wat nageslagtelik in Engels teem) te fabriseer]
December 5, 2006 at 1:35 am |
kan ek die opbrengs eet? Dis kosbaar.
December 5, 2006 at 1:37 am |
Ek dink die Musikale tabula rasa is ‘n baie oulike idee, dog erg onwaarskynlik, dink jy nie? Jy was darem sekerlik een of ander tyd by ‘n kerkbazaar…daar’s altyd musiek. Of tel jy nie panfluit as musiek nie?
December 5, 2006 at 1:54 am |
Goeie punt wat jy daar beet het. Kom ons noem dit dan ‘n effens bemorsde tabula rasa. Een vol beet.
December 5, 2006 at 9:57 am |
“Come out and play (keep’m separated)” was die anthem van my eerstejaar op universiteit.
December 5, 2006 at 11:09 am |
daar was nog nie cd’s toe ek op skool was nie. ons het tapes gehad.
December 6, 2006 at 9:14 am |
in my dae op skool moes ons dennenaalde oor vynil plate trek om musiek te luister, terwyl ons 8km deur die sneeu moes skool toe stap, kaalvoet!
December 6, 2006 at 2:36 pm |
Ons het ramshorings geblaas, en daar was nog nie skool nie, net tuisonderrig… hoofsaaklik gelees vanaf perkament, in Grieks en later Latyn, by kerslig.
Dit was egter nice toe die Romeine later begin paaie bou het, al het hulle dit net gedoen omdat Asterix gedreig het om hulle te foeter.
Julle is so bederf met langspeel plate, kassette en CD’s.
En hoekom het julle nie net na iewers warmer getrek waar dit nie sneeu nie, mmm pienkzuit??
December 6, 2006 at 11:20 pm |
Het hierdie argaïese gedoentes nou alles in Swellendam plaasgevind, Da Mario? Of was dit in jou vorige lewe toe jy nog ‘n parkiet was?
December 7, 2006 at 9:55 am |
Twiet-twiet ruzelda, twiet-twiet….
December 14, 2006 at 12:55 am |
[...] Ek is toe nié ‘n musikale tabula rasa nie – net ‘n baie slegte onthouer. My ma het onlangs hierdie bl0g gelees, my oor die kole gehaal en ‘n lysie neergepen van al die musiek waarmee sy my grootgemaak het. (”As ek jou nie aan die slaap kon kry nie, het ek jou sommer aan die slaap gespeel.”) Hier, ter emendering van my foutiewe verslaggewing, is daardie einste lysie: [...]
September 29, 2008 at 2:05 pm |
[...] Johan Swarts • December 14, 2006 Ek is toe nié ‘n musikale tabula rasa nie – net ‘n baie slegte onthouer. My ma het onlangs hierdie bl0g gelees, my oor die kole [...]
May 8, 2009 at 12:31 pm |
Lt6ALv comment3 ,