Titels van my gedigte vir Skeppende skryfkunde tot dusver:
Toentertyd
Toé spraak ad hominem
Toe skiet ons ‘ma
Toe Sprach Zarathustra
Toeskree by die see
Toendra
Toeter tieter totter
Baba gaan Irak toe
Raai watter een rym.
Titels van my gedigte vir Skeppende skryfkunde tot dusver:
Toentertyd
Toé spraak ad hominem
Toe skiet ons ‘ma
Toe Sprach Zarathustra
Toeskree by die see
Toendra
Toeter tieter totter
Baba gaan Irak toe
Raai watter een rym.
Ek tik hierdie inskrywing terwyl ek muesli en aarbeijogurt uit ‘n bierglas eet. Daar is ‘n handdoek om my lyf en El Tango De Roxanne (uit Moulin Rouge) blaas die ongejelde hare op my kop rond soos ‘n lappop in ‘n windtonnel. Fokofpolisiekar se Kaapstadse CD-launch is vanaand om 21:00 in Mercury Live – ek en Melanie gaan binnekort soos besetenes in kort rompies rondm0sh en nikotiendampe inasem. (Goed, ek mag dalk nie ‘n kort rompie dra nie. Maar ek gaan m0sh.) Die skryf van resensies het soms ‘n vreemde manier om skrywers van VIP-kaartjies te verskaf…
(Die Universiteit gaan vir Bill Gates ‘n eredoktorsgraad gee…)
Reënweer laat my dinge onthou. Op pad klas toe vanoggend loop ‘n blinde meisie en haar gidshond verby my. Kaalvoet. Ek het my sambreel stywer vasgeknyp en aan die keer gedink toe ek oor die Rooiplein geloop het en twee blinde mense (ook met gidshonde) netjies verby mekaar gestap het. Hulle was salig onbewus van mekaar se teenwoordigheid en dit was vir my die oulikste ding in die wêreld.
Na die (effens vervelige) klas het ek saam met Marna, Mari en Walter in die Neelsie gaan eet. Walter het skielik onthou dat ek in ons eerstejaar saam met ‘n paar van sy vriendinne gesit het en ek vir hulle vertel het: “kyk deur jou vurk, dan lyk dit asof jy in die tronk is.” Ek het om die beurt onthou van die verskeie kere wat ons waterstofsulfied op sy tas gegooi het, hom met ‘n brandblusser gespuit het en sy das om ‘n kaktus gebind het.
(Die voordeel van ‘n onverwagse reënbui is dat dit jou kar skielik baie skoon laat lyk.)
Selfs filosofiestudente kom soms op dinge af wat hulle dronkslaan. (Net gisteraand het ek by Gretha se 21st vir vyf aaneenlopende ure gemaak asof ek vier jaar oud was. Tot my verbasing het mense gedink ek het ‘n skroef los.)
Kan iemand aan my verduidelik hoekom die universiteit dit nodig ag om vir my die onderstaande e-pos te stuur? Ek besit nog al my ledemate, is nie swart nie en het (contrary to popular belief) nie in ‘n township skoolgegaan nie. (Click om te vergroot.)
Vanoggend was die heel laaste keer wat Phumla my akademiese loopbaan gered het. Sedert 2004 tik sy gereeld aan my kamerdeur en vra: “skoonmaak?” (Dis een van die min Afrikaanse begrippe wat sy ken.) Ek slaap normaalweg wanneer sy kom aanklop – vanoggend het sy my weer verwekker en kon ek my opstel oor The Church and the Second Sex in ‘n skoon kamer klaarskryf.
Phumla ondersteun haar hele familie. (Haar man is op welfare.) ‘n Paar maande gelede het sy geval en moes sy met ‘n ysterpen in haar regterbeen rondloop. Kort daarna is haar pa dood. My kamer het skoongebly. Deur al die jare se vieslike gemors, wat net ‘n klomp dronk studente kan genereer, het sy die koshuis se derde vloer aan die kant gehou. Nou gaan sy Heemstede toe.
Ek weet jy gaan dit nooit lees nie, Phumla. Maar jy’s my held.
Ek weet ek het belowe om nie te bl0g voor al my werk klaar is nie, maar…
‘n Paar uur gelede het ek baie gatvol geraak vir Mary Daly se The Church and the Second Sex, waaroor ek ‘n kritiese bespreking van agt bladsye moet saamflans. Smagtend na ontspanning het ek by Karl (wat ‘n vloer bo my woon) gaan aanklop. Karl speel viool. Ek het sy strykstok geleen en daarmee op een van my kitare begin rondspeel, totdat ek Jaws se temamusiek onder die knie gehad het. Gevolglik het ek in die koshuis rondgesluip en dawerende uitvoerings (van dit wat ek graag “hier-kom-die-haai” noem) voor die kamerdeure van verskeie kussingversmoorders gelewer.
Ek sit op ‘n basterwit stoel in ‘n spierwit saal en staar na Jesus se kroon wat sy hande swaai. Hy’s wit. Agter hom slaap vuilwit skerms in steriele drome van wit geraas; Blank, bloubelynde papier drink lusteloos tee terwyl brose koppies verveelde lippe met koffie irriteer en hy stadig (volstoom) teem en teem en teem en dames in wit Hermeneutiek [swartgallig] laat laat slaap. Grafies sit jy dus en grou waar Calviniste nie durf grawe nie (wriemel herhaaldelik krampagtig vir die soveelste keer) voor jy weer begin gil van plesier (dankie) die kamera draai om (jou kop draai) sluk jou gulsig heel in en uit en in en uit pure ekstase word jou lyf leep-oog kom jy alles oor wat jou nie toekom nie huil jy vuil en betaald glimlag jy vervaard vir die groot tevrede onbekende Jan Rap en sterf jy nog ‘n klein dood. Cantus firmus kantel jy in my kop in en word jy ‘n pilaar waarteen my retina’s hygend steun wanneer hulle nie soos geskokte fetusse lê en huil nie. (Dit het alles begin toe ons daardie vervlakste bottel naartjiesap probeer oopdraai het. Jou hande het vrugteloos met die prop gesukkel en ons moes ‘n vatdoek gebruik om die sitrusdruppels teen jou pupille te laat skiet. My oogkaste het geskrik; vir weke daarna was daar groewe in jou vingers, so asof ek met hulle probeer kitaarspeel het.) Toe sleep die parkeerwag sy fiets verby my soos ‘n dooie worshond aan ‘n leiband. En daarom is God (baie soos die internet) ‘n matriarg. Sy voed ons met Haar melkterte (haar koperpanne ewig vol), sing wiegeliedjies en proe soms soos Herderspastei. (Sela, prewel Sy en seën haar kroos met lemonade en pampoenpoffertjies.) En wanneer Sy kwaad raak voeter Sy die kombuistafel om. Heil Haar, ewig, heil Haar en eet van die opperste Melktert wat weet wat weet wat weet wat.
© Johan Swarts 2006
(As bogenaamde woorde jou laat raai dat ek besig is om my portefeulje vir Kreatiewe Skryfkunde uit te sorteer en dat ek, weens ‘n berg akademie, glad nie gaan bl0g vir die volgende paar dae nie en dat hierdie sin nou reeds besonder lank is, verdien jy Kaapse klopse op jou skouers en ‘n goue ster neffens die weerbarstige krul op jou voorhoof.)
Selfone lui soms op die ongewenste van tye. Soos wanneer ‘n mens probeer slaap. Vanoggend, dus:
Johaaaaaaan…
Erica en Colyn is verloof…
Hulle gaan trou!…
O…weet jy dit?
Maar dis vir my erg, Johan…
Dis vir my baie erg…
…Slaap jy?
…
…
OK, ek’s oor dit. Bye!
In so ‘n geval staan ‘n mens maar op, lees jou e-pos en speel ‘n temaliedjie vir die oggend. Dan strompel jy en die verslaapte boskasie op jou harspan op Helshoogte se derde vloer rond in ‘n poging om te kyk hoe ver julle oom Trent se kitare en Doom III se temalied kan hoor.
Ek kyk gisteraand na Linkin Park se Live in Texas DVD. Toe weer Slaghuis. En toe foeter die vreemdheid van menslike eksistensie my opnuut soos ‘n hiperaktiewe gletser teen die voorkop – hoe ons dit regkry om die wêreld om ons te omvorm in toneelstukke, musiek en dies meer, is niks meer as ‘n wonderwerk nie. (En ek praat nie hier van daai monotheistiese mirakels waarvan jou Sondagskooltannie jou vertel het nie.)
Terwyl Chester Bennington sy longe uitgil en Hannes Spangenberg soos ‘n papperige fetus op ‘n donker verhoog rondwankel, is daar iets baie meer ingewikkeld aan die gang. Iets motories. Diafragmas forseer lug uit longe oor stembande, spiere trek saam en stoot bene rond, sinapse ontplof, oordromme vibreer…en ons – ons wat nie werklik weet wat ons is nie, neem dit waar. Ons maak sin(ne) van ons indrukke, prop dit in metafisiese blikkies en verklaar baie arrogant dat ons dit verstaan. En dat ons funky is. Maar ons verstaan dit nié.
Want ons is net. Gek.
Ek was vandag in elke Stellenbosse boekwinkel onder die son, op soek na ‘n kopie van The Second Sex. Niemand het dit nie. (Almal het wel verskeie eksemplare van Die Son. En een van die till-tannies het blosend gedink dat ek na ‘n seksteks soek. “Ons…eh…het daai Kamasutra in voorraad?”)
Ek benodig die (dik) boek vir ‘n essay vir Filosofie 354, wat volgende Vrydag ingehandig moet word. Hiermee saam moet ek ‘n opdrag vir Dekonstruksie ingee, waarin ek enige sinvolle teks stelselmatig dekonstrueer totdat dit soos ‘n budgie in ‘n blender lyk. Ek is lus om my skoollied te dekonstrueer, maar weet nie werklik of ek tien bladsye daaroor sal kan volskryf nie…
Waar Tafelberg sy skadu’s werp van kruine groots en skerp,
Aan Kaapse Vlak se noordergrens – die vrug van hartewens
Pryk stewig soos ‘n vaste rots ons Alma Mater trots,
Waar opgelei word in Sy krag die jeug vir nageslag.Koor: Die Bellville Hoërskool wil trag
Met woord en daad en in gedrag
By werk en spel van dag tot dag,
Sy plig te doen met ‘n vrolik’ lag,
Sy plig te doen met al sy mag.
(Ek gaan vanaand weer na Slaghuis kyk. Vet pret.)