September 27, 2006
Hopelik dra die linkerkantse resensie (click om te vergroot) by tot die huidige afwesigheid van diskoers oor Swanesang. Ek het ‘n voorgevoel dat party mense die josie in gaan wees oor my verwysings na Jesus en die skeppingsverhaal, maar dis nou maar een maal hoe tonge na kieste pilgrimeer en fonemiese parafrases hulleself bekeer. Dalk is daar oor twee weke ‘n paar interessante bydraes in die briewekolom.
(Ek het vandag ‘n pizzaskyf gekoop, maar daar was nie ‘n ertjie in nie.)
(Die Matie, 27 September 2006)
5 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans, Resensies |
Permalink
Posted by Johan Swarts
September 25, 2006
Iemand het eendag vir my die volgende grappie vertel: “Wat is groen en rol in die vuur? Gertjie die brandweerertjie!” Ek het dit nog nooit besonder snaaks gevind nie, tot nou…
Etenstye by universiteitskoshuise is korter op vakansiedae. Ek het effens daarvan vergeet en moes vandag by die Neelsie gaan kos koop. Vet pret. Naas ‘n gedoente wat soos ‘n verbrande toebroodjie gelyk het, het ek ‘n pizzaskyf aangeskaf, met die bedoeling om dit in Die Matie se kantoor te gaan verorber. Annelie het my gister gebel en gevra of ek ‘n resensie oor Fokofpolisiekar se nuwe album sal skryf; ek het ingewillig en dit gisteraand in ‘n waas gekraam. (Dit verskyn eersdaags in ons alombeminde studentekoerant.) Oudergewoonte het ek nie ‘n kop vir my skryfwerk verskaf nie en moes ons vanmiddag een uitdink.
Ek het lustig aan die pizzaskyf begin peusel en toe opgelet dat daar ‘n ertjie in is. Ja – ‘n ertjie. Dit was ‘n Hawaiian pizza, so daar moes nie ‘n ertjie op wees nie. Meer so – dit was ‘n pizza, so daar moes nie ‘n ertjie op wees nie. Ek het gedink dis ‘n magiese ertjie wat my gaan help om al my take betyds klaar te kry en dit toe maar geëet.
Dit het nie gewerk nie. So miskien is ek nou verantwoordelik vir die dood van Gertjie die brandweerertjie en al daai mense in die Huisgenoot wat spontaan ontvlam.
8 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans |
Permalink
Posted by Johan Swarts
September 21, 2006
Ek sit voor my rekenaar en werk aan ‘n opstel vir Afrikaans en Nederlands. Swanesang, Fokofpolisiekar se nuutste album, speel rustig op repeat terwyl ek advertensies van 1959 met hedendaagse reklame vergelyk. (Koop gerus die album. Ek het te veel werk en te min tyd om ‘n hele resensie hier kwyt te raak, maar weet dit – Jesus m0sh saam teen die establishment wanneer Hy daarna luister.)
My pa (‘n predikant) het vandag van ‘n bus afgeval terwyl hy goed van die dak probeer aflaai het. Hy’t beide sy enkels gebreek en iets in sy rug beseer. Op hierdie oomblik is hy iewers in Zimbabwe, waarna hy terug Suid-Afrika toe vlieg om geopereer te word. (Hy was oppad Malawi toe om ‘n uitreikaksie te lei.) Dokters meen dat hy volledig sal herstel. Ek mis hom.
As my koshuiskamer nader aan die grond was, het ek dalk die geharwar van krieke beleef. Ek het gisteraand te veel jogurt geëet en effens naar gevoel. Serruria het ‘n banier in ons eetsaal geverf om die nuwe Jooltema uit te beeld. Sheila Cussons was vir ‘n paar uur my held – sy’t destyds ‘n digbundel getiteld “Die woedende brood” geskryf. Daar lê krummels op my lessenaar.
5 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans |
Permalink
Posted by Johan Swarts
September 18, 2006
“BINNE DIE POSTMODERNE hok van kapitalisme waarin ons vandag lewe, is musikante niks meer as produkte nie. Patricia Lewis is ‘n produk. Jurie Els is ‘n produk. Hel, op hierdie oomblik is selfs Jesus ‘n produk. Die dilemma waarmee ons as kunstenaars (of dan eerder produkte) sit, is dat ons mense benodig om ons
as’ t ware te “aanbid” om aan die lewe te bly. Mense moet dink jy is die coolste ding sedert sweep picking. Die feit van die saak bly egter: jy is nie. Ek is ook nie. So ook nie Steve Hoffmeyer nie. Ons is almal net mense en daar is geen rasionele verskil tussen ons en die sogenaamde “luisteraarspubliek” nie.
Sodra ek, jy of Steve ‘n “entertainer” afkraak, verbreek ons die illusie dat ‘n kunstenaar ubercool is en skop ons ‘n gat oop in die komplekse simulacra van reklame. (Gaan lees ‘n bietjie Baudrillard as jy die kans kry.) Deur die arme vent wat covers jodel af te kraak, breek jy vir ‘n klein rukkie die leuen af wat ALLE kunstenaars aan die lewe hou – dat ons “kuns” belangrik is.
Dit is nie. In Suid-Afrika sterf mense daagliks as gevolg van VIGS, hongersnood en geweld…en ons laat gemanipuleerde frekwensies by luidsprekers uitpeul. Behalwe as jy my kan oortuig dat klank ‘n vernietigende uitwerking op virusse het, sal jy moet erken dat dit wat ons doen eintlik inherent nutteloos is. L’art pour l’art’, as jy wil. (Hiermee sê ek natuurlik glad nie dat dit waardeloos is nie. Inteendeel.)
Jy staan dus elke dag voor ‘n keuse – kla (met reg, moet ek jou toegee, veral oor daai vent wat jodel) oor die kwaliteit van Suid-Afrikaanse “musiek” of bewaar die huidige status quo wat jou en talle ander aan die lewe hou.”
- Swarts, JJ. 2006. <Werner Muller – Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf>
4 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans |
Permalink
Posted by Johan Swarts
September 16, 2006
Slaan my met ‘n aambeeld en noem my ‘n backtrack. Ek het gister, uit pure verveeldheid, die televisie aangeskakel – Patricia Lewis se Supersterre 2 was op. Dis amper soos Idols, met die verskil dat deelnemers in Afrikaans moet sing. (Goed, dalk nie “sing” nie. Hulle maak geluide.) Elke deelnemer ontvang gratis sangonderrig by ‘n reeds bekende, Suid-Afrikaanse superster. Die eindproduk is dan iets soos: “Gé Korsten onderrig vir deelnemer X en ding mee teen Jan de Wet, wat vir deelnemer Y bearbei het.” Ingewikkeld.
Die beoordelaars, onder wie Niekie van den Berg en Theuns Jordaan, luister na deelnemers se gekose liedjies en komplimenteer hulle daarop. (Ek het in die loop van die hele program nie één negatiewe opmerking gehoor nie.) Komplimente klink rofweg as volg: “Jy het die superster in jou…en jy het die liedjie joune gemaak! Die kamera loooove jou absoluut en jy’s amazing – jy het ‘n toekoms!”
Wat ons natuurlik met ‘n paar ingewikkelde, filosofiese vrae laat. Wat is ‘n innerlike superster? Doen dit stamselnavorsing? Red dit die walvisse? Kan ‘n mens dit melk? En hoekom wil enigiemand dit vry laat? Hmm…
12 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans |
Permalink
Posted by Johan Swarts
September 13, 2006
gebed van ‘n dissosiatiewe groen perske
(met apologie aan Annesu de Vos)
ons vader wat in die hemel is
laat u naam groen uitbult
laat u moederboom blom
laat u ook sonder meer vloek
terwyl die aarde vrot
gee ons vandag
ons daaglikse vleis
en vergewe my al ons sondes
soos ek myself skil
wat teen ons oortree
en laat ons nie hael
of brand nie
maar verlos ons van die insek se eier
want u bewaar die droom
van son en die
fabrikasie van foutlose
vrugte tot in alle
ewigheid
groetnis
alberta
© Johan Swarts 2006
gebed van ‘n groen perske
Here ek dank U
dat die insek sy eier
in die dae van my blommetjie-wees
nie gelê het nie
dat my groen vleis in my skil
kan uitbult
vermeerder sonder die vloek
van vrot
bewaar my dan
teen die hael
teen die steek
van die son -
maar bowenal
bewaar
dié droom
o Heer:
my moederboom
wat vrugte foutloos fabriseer
© Annesu de Vos 1980
29 Comments |
Algemeen Geskaafde Afrikaans |
Permalink
Posted by Johan Swarts