In my matriekjaar het ek Naspers se nasionale prys vir “beste rubriek in ‘n skoolkoerant” gewen. My Engelse juffrou het van my skryfwerk agter my rug ingestuur – toe ek weer my oë uitvee, was ek bo-op ‘n baie hoë gebou in Kaapstad, kliphard besig om vingeretes te verorber. Nou, na amper drie jaar se onthouding van rubrieke neerpen, is ek ‘n gereelde rubriekskrywer en meerdoelige medewerker van Die Matie. Soos destyds is ek verantwoordelik vir Stultus – ‘n tweeweeklikse [*edit* - elke tweede uitgawe] rubriek waarin ek kwytraak net wat ek wil. (Ek weier volstrek om vryheid van die pers ‘n blou oog toe te dien. Ooit.)
Eg tegnokraties het ek besluit om elke aflewering op hierdie bl0g te post, wat dan ook die rede vir hierdie inskrywing is. As jy graag wil lees waaroor ek elke tweede week teem, maar nie lus is om in ‘n 16 bladsy .pdf rond te krap nie, is jy baie welkom om die bostaande Stultus-button met jou mousepointer te bespring. Vertel jou ma daarvan, print dit uit en slaap daarmee onder jou kopkussing.
Dis vreemd hoe gesiene skrywers ‘n mens se dag in rouwarm, neo-klassisistiese rockmusiek kan verander. My huidige emosionele toestand word goed opgesom deur Michael Angelo Batio se Hands Without Shadows: ek was vanmiddag tydens etenstyd na Prof. Van Niekerk, wat my gediggie uitmekaar getrek het, voorstelle gemaak het en plek-plek komplimente kon kwytgeraak. Toe ons klaar was, het sy my gegroet met ‘n glimlag en die volgende aanmoedigende woorde: “skryf nog baie gedigte, meneer Swarts.” Was dit nie vir my seer keel nie, het daar ‘n uitgelate gilletjie van selftevredenheid in die departement Afrikaans en Nederlands weerklink…
Ek het ‘n tydjie gelede die idee gekry om ‘n sinergisme te skep uit die Onse Vader en Annesu de Vos se Gebed van ‘n Groen Perske. Die resultaat is Gebed van ‘n Kranksinnige Groen Perske, wat ek vanoggend aan Prof. Marlene van Niekerk (akademikus en welbekende skrywer) gestuur het. Sy wil my Dinsdag om 13:00 daaroor sien. Ek dink my poging is betreklik intelligent afgepull, maar sal wag om te hoor wat sy daaroor sê voordat ek dit hier publiseer.
Mirakels gebeur nog – ek het vanoggend vroeg opgestaan en ‘n rooi das gaan koop om na my huisdans te dra. (As jy Karl Marx is, lees: die das het my siel gekoop.) Yvette is saam – sy is die enigste persoon in die heelal wat die korrekte skakering van my date se rok ken. (Sy’s toevallig ook die date.)
Omdat ek siek is, het sy ‘n banksakkie vol pers verkouepilletjies in my hand gestop voordat sy weer klas toe is. “Twee elke vier uur,” het sy my beveel. “Maar net as jy geëet het, anders begin jy bewe.” Ek het teruggedink aan die keer in my tweedejaar toe my kar gesteel was en ek een Sondag met my elektriese kitaar en amp na Studentekerk moes loop. ‘n Red Bull-karretjie het in Victoriastraat langs my afgetrek en my ‘n blikkie in die hand gestop – wat ek toe gedrink het. Kort daarna het my hande begin bewe en was dit nogal moeilik om kitaar te speel… (As jy omgee: Red Bull kom van Austria af, volgens ‘n uitruilstudent saam met wie ek onlangs ‘n taak gedoen het.)
So nou lê die pilletjies langs die rooi das op my lessenaar en kyk vir my…
Helshoogte het vanmiddag primsirkus gehou en ek het gestaan. As grapkandidaat. Ek en Henno het ‘n hele bemarkingsveldtog vir my geloods met plakkate, slagspreuke en RealPopUp netwerkboodskappe. Tydens die sirkus (in die eetsaal) het ek ‘n entrance gemaak, my donkerbril reggeskuif en losgebrand op die koshuis met ‘n rasende elektriese kitaarsolo, wat dan ook as my beleidsverklaring gedien het. (Ons het ‘n ekstra speaker aan my amp verbind vir optimale geraasvlakke. En het ek geraas…) Die res van die sirkus was pret – terwyl die ander twee (baie kapabale) kandidate gesweet en strategiese antwoorde probeer formuleer het, het ek rustig op ‘n stoel gesit en die mees lukrake repliek moontlik op die koshuis se vrae verskaf. (Die toekomstige onderprimarius sal byvoorbeeld in my yskas woon en lewe op Klippies en Cola.) Inwoners stem op hierdie oomblik aanlyn op die koshuis se webblad. Die nuwe primarius se naam word binnekort bekendgemaak; ek het egter ‘n vreemde vermoede dat dit nie ek sal wees nie…
Ek is ‘n vriendelike vent wat dit meestal regkry om verdraagsaam teenoor my medemens op te tree. Wanneer ek egter uit die slaap gehou word, raak ek behoorlik die josie in. (Lees: B3f0k) So beleef ek dan nou ook die besondere irritasie om aan Eendrag se kant van Helshoogte slaap – ‘n dilemma, aangesien daar soms besete dronkaards op hulle stoepe kuier. Ek het dus die volgende brief aan Die Matie gestuur… Read the rest of this entry »
As ek na die doelstellings van ‘n paar van vanjaar se SR-Kandidate kyk, wonder ek of ek nie eerder self moes gestaan het nie. Want as dié kort brokkies teks hoegenaamd ‘n aanduiding gee van die soort diensleweraars waaruit studente vanjaar kan kies, is ons in die sop. Ek gaan niemand se name noem nie – dit sal immers net ongeskik, arrogant en selftevrete(sic) van my wees. Wel, amper niemand se name nie. ‘n Fragment uit Piet le Roux se doelstelling lui:
“Ek staan vir ‘n inklusiewe Afrikaanse universiteit met effektiewe meganismes om nie-Afrikaanse studente te ondersteun. Studente moet kan kies of hul hulself in Afrikaans of Engels wil uitdruk.”
Oulik. Maar wat om hemelsnaam het dit met enigiets uit te waai? Ek staan vir vrye, rasionele denke en roekelose kitaarspel. Gaan die universiteit skielik, naas elke netwerkpunt op kampus, vir my kitaar-amps installeer waar ek gerieflikheidshalwe my kitaar kan inplug en net begin jam? Dalk met duur plasmascreens waarop die werke van Immanuel Kant en Anton Van Niekerk met kleurryke vloeidiagramme verduidelik word? Nee, hulle gaan nie. Net so gaan die verkiesing van Piet le Roux ook nie skielik die kampus ‘n Afrikaanse paradys hou nie.
‘n Ander kandidaat noem dat sy in haarself en in “haar Skepper” glo. Dat sy hiermee elke fundamentalistiese Christen (en daarmee saam sommer die helfte van die res ook) op die hals gaan haal om vir haar te stem, is gewis. Hoe eties is dit egter om op mense se diepste behoeftes in te speel om stemme te werf? En wat maak dit saak of sy in Christus glo of nie?
Gaan lees ‘n bietjie die res van die kandidate se doelstellings. Baie is, om dit die mooiste te stel, hogwash. Dit klink oulik, maar beteken nie veel meer as spookasem in ‘n igloe nie. (Daar is natuurlik ‘n paar uitsonderinge, wie se name ek ook nie gaan noem nie. Ironies genoeg is Piet le Roux een van hulle.) Wees dus versigtig om sommer net vir iemand te stem op grond van ‘n verkorte teksfragment – woon die sirkusse by en maak seker jy weet wie (en wat) jy kies.
Op Stellenbosch reën dit vandag katte en honde. (En weetbix. En simbale. En anvils en yskaste en cokebottels.) Braaf soos wat ek is, het ek egter opgestaan, deur die gietende reën na my klas gekruip en ‘n skamele vyf minute laat by die fakulteit opgedaag. Nét mooi betyds om te hoor dat my tutoriaalklas afgestel is. Francelle (wie ek oppad soontoe saamgenooi het klas toe) het toe maar vir ons pannekoek in die Neelsie gaan koop en my meegedeel presies hoe dom die manlike geslag nou eintlik is. (Persoonlik dink ek dom mense is nie beperk tot ‘n spesifieke geslag nie – John Edward en Marietta Theunissen is sprekende voorbeelde hiervan.)
Dis snaaks hoe nat weer ‘n mens dinge laat onthou. Ek dink nou aan my, Yvette, Karl en Celia se uitstappie na St. Angelo’s – ‘n klein pizzaria naby die Eikestad Mall. Hiertydens het die kelner ons meegedeel dat ons nie meer klein pizza’s kan bestel nie, aangesien hulle “out of smalls” is. Toe ek hom vra of hulle braaipanne dan gekraak is, het hy my net leeg aangekyk en herhaal: “Sorry sir, we’re out of small pizza’s.” As die deeg op was, kon ek hom nog glo. Maar “we’re out of smalls”?
Dom mense is orals. Soms gaan hulle kerk toe, soms sit hulle in die parlement. Soms dring hulle selfs daarop aan dat hulle ateiste is, en wil hulle filosofies daaroor met jou argumenteer. (In welke geval hulle gewoonlik nié filosofiestudente is nie.) Soms bl0g hulle.
Ek voel ek moet hierdie een afsluit met ‘n stomp paragraaf…
Vandag was Nasionale Vrouedag. Alhoewel nie so gewild soos Nasionale Dastrekdag nie, het dit my tog die geleentheid gegee om baie kitaar te oefen. Ek sou saam met Ruzelda in Serruria se sitkamer aan Joe Satriani se Midnight geskaaf het, maar sy moes kop uittrek weens omstandighede buite haar beheer. (As jy ‘n wrok teen eiename koester, vra ek nederig om verskoning vir die vorige sin.) Weens hierdie skielike gebrek aan aktiwiteit het ek oorgenoeg tyd gehad om Midnight perfek te leer speel in die afsondering van my kamer – en met perfek bedoel ek dat dit presies klink soos sy uwe Satriani dit op die onderstaande video speel…
Ek het onlangs die skreeusnaakse geleentheid gehad om twee liter Coke in Macdonalds se manstoilet af te giet. Dit het bruisend gesis en toe half nors in ‘n generiese rioolpyp afgegly, ver buite die kader van pop culture en Kapitalisme wie dit iewers in ‘n sodafabriek gekraam het. My kar se battery was pap en ek moes in Merrimanlaan afpiekel om petrol te koop. Siende dat my maag nie petroleum-tolerant is nie (en ek in elk geval nie lus was om brandstof te drink nie) moes ek ‘n dergelike houer opspoor. ‘n 2l Cokebottel het na die ideale ding gelyk en kort voor lank was ek kliphard aan’t giet.
Groot was my verbasing toe ek die leë bottel in die die petroljoggie se hand stop en hy dit vir my volmaak: die prys van die brandstof was nagenoeg dieselfde as die prys van die bottel en haar (gedreineerde) inhoud. Dit beteken dat Coke op hierdie oomblik per liter dieselfde kos as petrol, wat om die beurt daarop dui dat daar verskeie Cokedrinkers is wat wederregtelik oor die petrolprys neul.