Die mees kreatiewe kop in die heelal

July 31, 2006

thumbnail.jpgSoms wens ek Suid-Afrika kan meer soos ‘n supermark wees. Supermarkte is soos die nadraai van die Armageddon: die oomblik wanneer ‘n mens dit binnestap, word jy tydelik ontneem van al die samelewing se pyne en skete en is jy niks meer as ‘n normale mens wat probeer om aan sy basiese behoeftes te voorsien nie. Alle vooroordele verdwyn: rykes en armes moet gelyk in ‘n tou staan, almal word gefop deur strategies geplaasde sjokolade-rakke en almal moet dieselfde mundane artikels aanskaf. (Daai rolletjie langs jou toilet gaan nie homself vul nie…) Diefstal is puntloos. Niemand weet hoeveel geld jy verdien, waar jy woon of hoe jy met die res van die wêreld omgaan nie – al wat saakmaak, is die spoed waarteen jy jou aankope kan afhandel en diegene agter jou ‘n kans kan te gee om dieselfde te doen.

(As jy nou geraai het dat ek onlangs ‘n mikrogolfoond gekoop het en vanmiddag soos ‘n besetene alles verhitbaar in Stellenbosch se Pick ‘n Pay opgetel het, verdien jy Kaapse klopse op die skouer.)


NagVulletjie

July 28, 2006

Een van my tande het gister losgekom. Sy’t tergend oor my tong geleun en, soos ‘n drenkeling op ‘n geroeste reëling, in ‘n speekselsee omgekantel. Ek het die beeshaas op my bord eenkant toe gestoot en weemoedig geween. Terwyl my breinlobbe rondgemaal het oor my verlies, het die res van my tande die een na die ander begin uitspring – stuk vir stuk het hulle verbrokkel en raserig, soos besetenes, in my kieste neergekletter. Toe die stof en die speekselsproei uiteindelik gesak het, het ek nie ‘n enkele tand meer oorgehad nie. Al wat oorgebly het, was ‘n wond aan my wangwand en die hopies tandskrapnel neffens die beeshaas op my bord.


Puntlose posts is pret

July 26, 2006

Dis skuins na middernag en die halfgepeuselde Kagiso op my skadu-bedremmelde lessenaar lyk soos ‘n lewende organisme. Ek was honger en het vir Jaco, André, Karl en Sam saamgesleep na die BP in Merrimanlaan. Nie vir ‘n Kagiso-piekniek nie – vir ‘n BP Pie.

bplogo.gifBP Pies is afgryslik duur. En sleg. Bonatuurlik sleg. Sleg genoeg om Chris Brink te laat huil. Ek het daarom ‘n peperduur BP-Piesang gekoop en dit saam met ‘n bakkie frozen yoghurt in my slukderm afgeforseer. Ons het gaan sit, wyshede begin kwytraak en pasteie en piesangs verorber. Karl en Sam het mekaar verbete begin bat en almal het vet pret gehad. Ek het petrol in my kar gegooi, gegiggel vir die toegewasemde agterruit en almal na hulle onderskeie koshuise terugvervoer.

-QED


Magies verlig

July 24, 2006

eetsaal-oud.jpgDis vreemd om honger te wees, maar nie te kan eet nie. Ek voel soos een van daai mense wat lank op Survivor was, teruggekeer het na die beskawing en dan nie veel meer as muwwe rys en roeswater kan inneem nie. Kagiso moes die helfte van my kos terugneem omdat my maag gekrimp het. Hoekom weet net die Vader alleen. (En moontlik ook die Illuminati, siende dat hulle nie bestaan nie en dus ook nie kan eet nie. Dis genoeg om enigiemand kniediep in ‘n eksistensiële krisis in te dompel…)


Sakke pakke toertjies

July 23, 2006

150px-stellenboschuniversitylogo.jpgDie vakansie het beswyk en die nuwe semester is op hande, kliphard besig om wawiele en ander dergelike maneuvers uit te voer. (Tog so ‘n blymoedige vent, daardie nuwe semester…) Ek verlang geweldig baie na die kampus en kan amper nie meer wag om weer laat te kom vir klasse en goedkoop studentekos te eet nie. Lank lewe Kagiso. Read the rest of this entry »


Van spandabelrigheid en skildkliere

July 20, 2006

seagate-1.jpgAs jy gedink het ‘n rekenaar kan nie skildklierprobleme optel en vet raak nie, dink weer. Ek het vandag ‘n ekstra hardeskyf gaan koop en my rekenaar kan nou twee en ‘n half keer soveel data berg as vantevore. Vet verby. Ek het nou iets in die omgewing van 200 GB om mee rond te speel, wat my baie meer breathing space gee as die skamele 80 GB waarmee ek gister nog gesit het. (As jy nie weet hoe groot 200 GB is nie, dink aan ‘n wynkelder vol 1.44 meg stiffies.)

Die rede vir my spandabelrigheid is die twee dokumentêre films wat ek, Henno en Stephan hierdie kwartaal gaan verfilm. (Een vir die Departement Sielkunde en een vir ‘n liefdadigheidsprojek.) Video editing en roumateriaal het die nare gewoonte om baie hardeskyfspasie op te neem, so ek tref vroegtydig voorsorg…wat soms ’n prestasie is, as jy my enigsins persoonlik ken…


Almal maters

July 18, 2006

Mai-Li het my vanoggend wakkergebel en gevra of ek saam met haar skool toe wil gaan. Sy’s ‘n Mejuffrou Skiereiland-finalis en het die skoolhoof genader vir fondse, world peace en ander higiëniese syndes. Ek en my retinas het in haar “suster se vriend wat nou in Namibië is en nie eintlik hiervan weet nie” se kar na ons alma mater gery en vele onderwysers gaan opsoek.

Me Emery (Engels), Me Den Haan en Boonzaaier (Musiek) en Mejuffrou Cilliers (Wiskunde) onthou ons. Meneer van der Westhuizen (Afrikaans) het ons misgekyk asof ons elkeen in ‘n gevorderde permutasie van die runderpes ontwikkel het. Groot was my verbasing ook toe ek vinnig ‘n trompet in een van die musiekklasse opgetel het en kon onthou hoe om ‘n C bo middel-C te speel. Ek wou daarna iemand met ‘n brandblusser spuit, maar Mai-Li wou nie. T’ag…


Kop in een toonsoort

July 15, 2006

Nou ja, die toer is agter die rug. Ek het al my snare behou, ‘n paar pynlike wonde op my vingerpunte opgedoen en baie kerrie en rys geëet.

Dis skreeusnaaks hoe geloofspolitiek in klein, Suid-Afrikaanse dorpies werk. As NGK-lidmate in stedelike gebiede begin dors na groener weivelde, ruk hulle bloot tentpenne (tabernakeltoue?) uit en beweeg na ‘n meer charismatiese skaapkraal.

In klein dorpies (dink Queenstown, Bethlehem, Ficksburg) werk dit egter anders. Ledemate vernuwe eerder die betrokke gemeente self. Die stoere gesloer van orreliste word vervang met ‘n meesleurende gebrul wat weekliks by digitale projektors en massale luidsprekers uitpeul. (Heel antropomorfisties huldig ek natuurlik die oortuiging dat God beide toondoof en kleurblind is, maar soms wonder ek of sy ore nie seerkry nie.)

Hoe dit ook al sy, dis vir my snaaks omdat bogenoemde vernuwings gewoonlik gepaard gaan met die saamstel van ‘n band…en op binnelandse dorpies bestaan laasgenoemde uit ouer garde.

Ou tannies wat headbang…lieflik…


Ontslape toere en ander dergelike lemma’s

July 14, 2006

Ek is terug…en ongoddelik vaak…

Nag…