Tot wederom

June 22, 2006

Toertyd!

Terwyl ek weg is: borsel agter julle tande, was julle ore met seep en lok ou tannies oor snelweë.

Tot wederom

atlete1.jpg


Boor, giggel, herhaal

June 20, 2006

musiekwereld-011.jpgOmdat ek Donderdag (oormôre) op ‘n twee en ‘n half weke toer saam met Atlete vir Christus vertrek, moes ek een van my kitare ‘n bietjie regruk. Dit was destyds my pa s’n en hy het vir jare bloot die boonste gedeelte van sy strap met ’n veter onder die tuning heads vasgebind. Behalwe dat dit betreklik neelsierig lyk, speel dit ook vrek ongemaklik as jy daarmee op ‘n verhoog staan. Ons het ‘n nuwe strap gaan aanskaf en spesiaal een van daai oulike hakies by die kitaar laat inboor waar die nek en die klankkas bymekaar kom. (Huidiglik sukkel ek myself dood om die klein strap oor die groot hakie te pas.)

musiekwereld-003.jpgDie boorwerk is deur Cobus, een van die vriendelike werknemers by Musiekwêreld, gedoen. Hy was effens kamerasku, maar ek kon hom fnuik en op die onderstaande foto vang. Daarna het ek sommer die geleentheid aangegryp om oor ‘n wit Steve Vai JEM signature guitar en ‘n swetterjoel amps te kwyl. (Vai is een van daai kitaarspelers wat vinniger kan speel as wat jou ouma nog kos in jou bord kan skep.) R18 000 vir daai stuk hout en snare…

musiekwereld-013.jpgValiant Swart en die lead guitarist van ZinkPlaat was toevallig ook in die winkel; dit was kostelik om die uitdrukkings op hulle gesigte te sien toe ek net die kitare, en nie vir hulle nie, wou afneem.


Hoe voel jy?

June 18, 2006

oupaouma.jpgEk was nounet saam met my legendariese oupa en ouma by die Spur. Daar was nie 'n enkele Panarottis in sig nie en ek het myself gate uit geniet – soveel so dat ek dit oorweeg het om vir 'n paar minute in die kiddies playpen te gaan rondklouter. Alles was besonder aangenaam (en eetbaar) totdat 'n gatkruiperige dame halfmas oor die tafel geleun het en met die wêreld se deernis wou weet of alles nog in die haak is. So fake soos 'n plastiekblom op 'n doodskis. Ek wou by haar uitvind hoekom my burger se bykomende slaai uit slegs 'n versnipperde blaar en 'n uiering bestaan het, maar skielik was sy skoonveld. My pa het die oomblik gered met 'n vlymskerp opmerking oor vleissouse: "Ek gooi eers op, dan proe ek"


Postmoderne Essay oor Pana[v]rottis

June 17, 2006

panavrotties.jpg

Groot shopping malls is soos universiteitskoshuise: daar brand altyd ligte, dit raas en by tye word daar vreemde kos aan jou voorgesit. My liefste moeder het onlangs verjaar en die hele gesin is pens en pootjies Tygervallei toe om aan vreemde disse te gaan smul; ons het opgeëndig by 'n oulike restaurantjie genaamd Ziggies, waar ek onder andere 'n titaniese burger met obskure aartappelblokkies verorber het. Read the rest of this entry »


22 Stotterwoorde

June 16, 2006

image2.jpgDit wil voorkom asof die Engelse uitdrukking “for whom the bell tolls” ‘n loutere hoop stront is. Die dood is nie ‘n klok nie; dis ‘n sms-verwante ringtone wat teen jou ore afbiggel en jou keel soos ‘n gewas beset. Derik (22) is gisteraand dood. Motorongeluk. Hy’t destyds vir drie jaar saam met my trompet gespeel in die skool se simfoniese blaasorkes. Hokkie ook. Great goalie. Lank met Marsanne uitgegaan. Het animation gaan swot en vir Shapeshift New Media gaan werk. Die res is ‘n blur.

Mag Jesus hom nooit bewegingloos laat nie.


Das Man

June 16, 2006

foto-trek.jpg‘n Televisie-advertensie het my vanoggend oortuig om vandag my ou skooldas te dra, ter nagedagtenis aan diegene wat gesterf het tydens die destydse debakel oor skoolonderrig in Afrikaans. Dit, gepaard met ‘n berig in vandag se Burger, het my vir ‘n paar oomblikke met heimwee laat terugdink aan my skooldae. Ek wil dit nou nie juis gaan staan en herhaal nie, maar daar dryf nogtans ‘n hele paar goeie herinneringe van my sekondêre onderrigfase in my geheue rond.

Een van die prettige akwititeite waarmee ek en ‘n paar vriende onsself mee besig gehou het, was die onderlangse gepluk van mekaar se dasse. (Ons het ook gereeld ander skoliere natgespuit met groot, rooi brandslange, maar dis ‘n ander storie.) Die bostaande foto wys hoe Walter Cloete (regs) en die legendariese Christiaan Brand (nie regs nie) sake uitspook vir totale das-dominasie.

Wat my laat wonder: kan die regering nie eerder 16 Junie as nasionale Dastrekdag verklaar nie? Dit sal soveel meer vir ons land se ekonomie beteken as die massale hoop toesprake wat jaarliks op Jeugdag gelewer word. Ek meen, dis nie asof die mense wakkerbly tydens regeringsamptenare se voorgeleesde betoë nie en tyd, soos ons almal weet, is geld. Waar het jy nou al iemand gesien wat bewus is van tyd terwyl hy droom? Hmm?


Blob’s your uncle

June 15, 2006

Hmm…dalk moes ek 'n meer opwindende tyd as die einde van my eksamen kies om 'n blog te begin. (Of dan "blob," soos 'n baie spesiale meisie dit noem.) Ek het vandag die volgende opspraakwekkende dinge aangevang:

1. Nartjies gegobbel
2. Te veel kitaar gespeel
3. Twintig minute van 'n meelsierige film saam met my suster gekyk
4. Met hierdie lieflike blob(sic) gepeuter.

My pa het sopas hier ingewaggel met 'n stuk sjokoladekoek, waaraan ek nou sit en peusel. Ek luister na die sagte gesuis van my rekenaar se fans en giggel vir die universiteit se pretensieuse poging om Jeugdag te vier. Hierbenewens staar ek van tyd tot tyd vervaard na die titaniese massa nartjieskille in die hoek van my lessenaar. Ek dink dit het 'n bewussyn ontwikkel…


i ar3 teh r0×0rz

June 15, 2006

Deel van 'n voorgraadse universiteitsvakansie is dat jy elke dag kan doen net wat jy wil. Ek het die geleentheid aangegryp om tussen my besete oefenskedule deur (virtuose kitaarstukke leer nie hulleself aan nie, jy weet…) 'n bietjie op WikiPedia te gaan oplees oor 1337-speak. Dis nogal snaaks om te sien hoe die informele dialek wat gamers regoor die wêreld besig formeel en akademies beskryf word.

i ar3 teh r0×0rz!


Whoops…

June 15, 2006

'n Meisie van my Hoërskool is Vrydag (luidens Die Burger) met 'n mes gesteek deur wie ek dink regtig 'n massale idioot is. Dis effens ongerusstellend, siende dat ek binne loopafstand van die skool af woon. Ek studeer wel op Stellenbosch, maar draf vakansies so een keer in 'n blou kaas (of maan…wat is die uitdrukking nou weer?) verby my alma mater in een van my hortende pogings om fiks te bly. Sê nou maar 'n siek ou tannie wag my in en soek my kitare?

Op 'n ander noot: hier's 'n kriek in die kombuiskas. Dis een van daai spesiale krieke: dit gil net as jy drie-uur die oggend kombuis toe loop om 'n post-middernagtelike [iets] te peusel en kan geluide teen 'n beheersde tempo loslaat. Laasgenoemde vind plaas wanneer 'n mens die kasdeur met 'n soliede voorwerp foeter en hy sy gat afskrik. Ek het die geleentheid aangegryp en Beethoven se vyfde simfonie saam met kriek en kasdeur geïmproviseer. Die arme ding is nou stil; ek dink hy gaan deur 'n enorme, eksistensiële krisis. Whoops…


[te beSOPe vir kreatiewe kop]

June 14, 2006

Ek voel my genoop om volmondig te verklaar dat die sop wat my ma prut besonder smaaklik teen my slukwand afklots.