Die paneel op die horison

May 21, 2008

Dis opwindend om na my eie webspasie te migreer, maar ek moet bieg - ek sluk swaar aan die gedagte om hierdie blog agter te laat. My grootste referrer tot op hede is byvoorbeeld niemand anders as die WordPress Dashboard nie, waar 1,076 verwysings al vandaan gekom het. Ek gaan dié klas verkeer van die WordPress.com gemeenskap nogal mis. (Moenie my verkeerd verstaan nie - ek gaan nêrens heen nie. Ek verhuis net na ‘n plek waar minder mense weet by watter venster hulle moet inkyk om my te kan vind.) Dit beteken ek sal mense van vooraf bewus moet maak van my blog en Google weer mooi moet touwys kry.


Vaarwel, Bertus!

May 21, 2008

Bertus! is onlangs saam met ‘n vriend en ‘n pizzaskyf buite die Swart Bul gewaar, waar hy Strafbare Manslag op sy eentjie gehelp het om gemesselde kallers in koeponvorm te verdien. Dit was dalk die laaste keer wat Bertus! sy erudisie sou uitbyt in die land van melk en xenofobie en daarom was dit ‘n heuglike dog weemoedige aand.

Gaan jou goed, Do Kwang. Stuur ‘n poskaart.


LitNet blogs - terug na die tekenbord

May 20, 2008

LitNet se blogs laat my tans dink aan die eerste drie reëls van Lit se “Miserable”:

You make me come.
You make me complete.
You make me completely miserable.

Die vergelyking is vanselfsprekend. Vir diegene sonder ‘n blog lyk ‘n LitNet-blog dalk aanloklik - dis immers ‘n geleentheid vir “normale outjies” (soos Die Gestorwe Soldaat dit stel) om ‘n “bietjie skouers te skuur met die meningsvormers waarmee ons elke naweek in Rapport verveel en vermaak word”. Jy, Joan Hambidge en daai anonieme omie wat kwaad is vir die kerk kan nou ‘n webtuiste deel. Inderdaad revolusionêr. Tik hier, kliek daar en siedaar: ‘n orgasme des aansiens. (Die insentief om te blog is natuurlik ook nie te versmaai nie - kontantpryse van R1000, R500 en R300 word aangebied vir blogs met die meeste trefslae.)

Gaan dit hou? Met die opstelling wat LitNet tans gebruik, nee. Ek raai LitNet bloggers gaan “completely miserable” à la Lit raak. Die maandelikse R1000 sal nie vreeslik lank werk as insentief nie (hoe meer mense begin blog, hoe kleiner raak die kans immers dat jy die prysgeld losslaan), die opwelling van visueel identiese blogs gaan veroorsaak dat internetgebruikers vinnig belangstelling gaan verloor en die minimale funksionaliteit van die News24-platform gaan bloggers vinnig begin irriteer.

LitNet het regte verkry om News24 se blogplatform te gebruik. In ‘n neutedop beteken dit dat jy nie eintlik data by LitNet stoor nie, maar op News24 se bedieners. Jou data is nie joune nie. ‘n News24 blog bied nie veel meer funksionaliteit as ‘n .plan nie - daar is geen manier om die blog se uitleg te verander nie, blogrolls is beperk tot ander News24 blogs, jou blogspasie word gebruik as advertensiespasie waarvoor jy geen remunerasie ontvang nie, text widgets is buite die kwessie, permalinks is skoonveld, jy kan nie kommentaar (die lewensbloed van ‘n blog) los as jy nie by News24 geregistreer is nie en niks wat jy geskryf het, is uitwisbaar nie. Galg toe met jou as jy ‘n spelfout maak. As jy LitNet se weergawe gebruik, mag jy boonop nie anoniem blog sonder toestemming nie.

In ‘n neutedop - LitNet bied gebruikers blogs wat lyk soos Zimbabwe en presteer soos ‘n lobotomie.

Dis nie ‘n baie volhoubare konsep nie. Die vervelige uitleg gaan lesers op die lange duur wegdryf. As die prysgeld eers begin kwyn, gaan daar nie meer ‘n insentief wees om te blog nie (of, in die geval van die verskeie bloggers met reeds bestaande blogs, ‘n ekstra blog te onderhou nie). Die minimale funksionaliteit behoort bloggers so te frustreer dat hulle na ‘n tyd tog na iets beters sal verhuis. Is dit regtig nodig om eers ingeteken op News24 te wees voor jy enige kommentaar kan los? Maak dit sin om jou gedagtes gratis aan te bied sodat iemand anders geld daaruit kan kry?

Lit se liriek behoort teen die tyd nou al so hard in jou agterkop te weergalm, dat jy dit met ‘n piksteel daar wil uitvoeter. ‘n Sisteem wat saai en opeengehoop lyk, frustrerend min funksies bied en gebruikers inperk eerder as vryheid gee, grawe vanuit die staanspoor vir homself ‘n graf. Dit laat gebruikers “completely miserable”. As jy eers súlke gebruikersvoorwaardes wil voorskryf vir die internet, dan moet jy nie kla as sake op die lange duur platval nie:

Skakels na die webblaaie van ander persone is slegs toelaatbaar vir inligtingsdoeleindes. Dit is jou plig om seker te maak dat jou skakel voldoen aan die webblad waarheen die skakel wys se gebruiksvoorwaardes.

Dis. Die. Internet. Skakels. Is. Goed.

Dit alles gesê is dit vir my ‘n riem onder die hart dat LitNet blogging onder Afrikaanssprekendes probeer bevorder. In beginsel dink ek die idee is goed - veral omdat daar die reeds genoemde simbiose kan ontstaan tussen diegene wat tradisioneel in die gevestigde media publiseer en die’s wat hulle gedagtes hoofsaaklik op die internet plaas.

LitNet: skrik asseblief wakker. Kry WordPress, Movable Type of Joomla en slaan iets beter aanmekaar. Julle idee is prysenswaardig, maar julle uitvoering daarvan grens aan burlesk. Dis ‘n klap in die gesig van enigiemand wat al geblog het en ‘n belediging vir Afrikaners se intelligensie in die breë. Doen ons almal ‘n guns en gaan voort met hierdie projek, maar (en dis ‘n baie groot maar) keer asseblief eers terug na die tekenbord. Julle het dit dringend nodig.


Berugte berigte en dansmetaal

May 16, 2008

In “Ich Will” (ek wil) speel Rammstein die rol van bankrowers wat deur die media opgehemel word. Die video (’n puik stukkie kinematografie) toon aan hoe hulle ‘n bank binnestorm, gewelddadig beset en dan na buite gaan voor Christian “Flake” Lorenz (keyboardspeler) selfmoord pleeg en die bank in sy peetjie blaas met ‘n eksotiese bom wat aan sy borskas vasgebind is. Buite word hulle nie net gekonfronteer met ‘n massa polisiemanne nie, maar staar hulle ook, nogal kordaat, ‘n see van kameras en mikrofone in die gesig.

This,” meen Richard Kruspe (kitaarspeler) shows…the attention through the robbery…that you became the “darling” of the media - through manipulation of course - because all the media wants is to show those pictures, this is kinda absurd, decadent, fucked up in the end…that you’ll be rewarded…”

Ek dink dis op ‘n siek manier waar van Suid-Afrika ook. Neem die Lotz-sage: was dit regtig nodig vir koerante om daagliks elke miniskule detail daarvan te volg? Was die enigste werklike nuus nie maar die uitspraak van die regter nie? Daar is 101 items in Die Burger se argiewe met die tag “Fred van der Vyver” - 90 hiervan is nuusberigte. Wat op aarde was die punt daarvan? Maak dit nie veel meer sin om bloot drie artikels te publiseer nie? Lotz is vermoor. Fred is aangekla. Fred is onskuldig bewys. Klaar.

Nee. Dis winsgewend om 90 berigte oor Fred van der Vyfer te skryf. Dis ook winsgewend om berigte oor rooftogte en moord en verkragtings te skryf. Maar is dit eties? Is dit die reg om misdaad te gebruik om sirkulasiesyfers deur die dak te laat skiet? (Kom ons wees nou maar eerlik - enigiets meer as ‘n paar feitelike artikels is sensasiemasturbasie.)

Kyk gerus ‘n bietjie na Rammstein. (As jy nie die musiek kan waardeer nie, loer ten minste na die beeldmateriaal - dis net so goed vervaardig.) Watter parallelle is daar met Suid-Afrika?


Die mees oorspronklike kop in die geskiedenis van kaas

May 15, 2008

‘Al ooit daardie oomblik beleef wanneer dit baie laat is, jy werk het wat doodeenvoudig moét klaar en jou bestaan rondom Marmitetoebroodjies en ‘n halfgedrinkte Amstel in jou yskas sentreer? Ek het dit sopas bereik.

Soort van.

Soos ‘n mens nou maar maak as jy keelvol is van studente wat Afrikaans met ‘n kleinletter spel (I kid you not), haal ek mooitjies die Marmite uit, draai dit oop en word toe begroet deur die allervieslikste kleur. Ligbruin. Die Marmite is ligbruin. Skok! Griesel! Gruwel! Kan Marmite dan suur raak?

Toe sien ek vir die eerste keer die “Cheese” op die etiket raak.

Ek het kaasgegeurde Marmite ontdek. Dié tyd van die aand voel ‘n mens ‘n bietjie soos Livingstone wat oor ‘n waterval struikel as jy dit regkry…


Vandag, môre, nooit weer saam nie.

May 14, 2008

Nadat ek die finansiële kat uit die boom gekyk het, het ek besluit om my tjekrekening by ABSA ‘n vriendelike skop onder die anus te gee (hoe’s daai vir ‘n uitgebreide anglisisme?) en eerder hoofsaaklik by CAPITEC (waar ek nou al vir ‘n geruime tyd rekeninge het) te begin bank.

ABSA se bankkoste is bloot onregverdig hoog. As ek eers die prys van, sê, ‘n paar liter petrol per maand aan ‘n instansie moet betaal net om by my eie geld uit te kom, kan daardie instansie gerus ‘n grondboontjieplaas aanskaf en doppies begin kweek. (Sodat hulle dit kan blaas, natuurlik.)

CAPITEC se kliëntediens is stukke beter (navrae is 24 uur beskikbaar en daar is altyd iemand wat die telefoon antwoord). Hulle vereis nie ‘n ID-dokument vir elke knaende klein verandering wat jy aan enigiets wil aanbring nie (daar is webkameras by elke dienspunt). Hulle bankkoste is baie laer (onder andere is daar ‘n vaste fooi op alle OTM-onttrekkings - die bedrag raak nie groter hoe meer jy onttrek nie). Die personeel is vriendelik en professioneel. Die tegnologie wat hulle by takke gebruik, laat ABSA soos ‘n gepantserde grot lyk. Les bes: transaksies met debietkaarte by enige betaalpunt nasiewyd kos niks nie.

ABSA? Vandag, môre, nooit weer saam nie.

(Ja, pa was reg…)


As jy dit kan lees, is jy awesome

May 13, 2008

Genugtig, mense, hoe het ons kubergemeenskappie nie gegroei nie? ‘n Paar jaar gelede was daar ‘n handjievol blogs, in 2006 het ‘n paar bykomendes ontstaan, verlede jaar het ‘n klomp ontpop, vanjaar nog meer - en dit hou net aan ontplof. Dis wonderlik. ‘n Paar jaar gelede was daar weinig Afrikaans op die internet. Nou is ons besig om stelselmatig by te dra tot die grootste inligtingsnetwerk op aarde.

Ons deel ‘n intellektuele ruimte met Blue Genes, digters en dwase. Mal.


Jy kon Coke ook drink

May 13, 2008

Helshoogte het gister 35 jaar oud geraak. Toe eet ons ribburgers sonder botter en drink bier. Arrrrrrrrr.


Rewaaiwil?

May 12, 2008

Ek kan nie help om sekere tendense by Angus Buchan op te let nie:

  1. Hy preek eenvoudige preke.
  2. Hy sê daar kom ‘n revival.
  3. Sy gebede word deur desperates en siekes beskou as ‘n wonderkuur vir ongeneesbare siektes.
  4. Hy sê hy het al iemand uit die dood opgewek.

Wat my laat wonder. Ouens soos Benny Hinn (Amerika), Reinhard Bonnke (Duitsland) en TB Joshua (Nigerië) het ‘n soortgelyke benadering tot evangelisasie. Google gerus enigeen van hulle se name plus die woord “debunked”. Al drie buit hulle gehore se emosies en bygelowigheid uit deur vir hulle te sê wat hulle wil hoor. Wat gaan ons oor vyf jaar van Buchan kan Google?

*Edit* Ek probeer nie vir Buchan beswadder nie - moet hierdie post asseblief tog nie so lees nie. Ek’s wel baie versigtig vir mense wat ‘n rrrrrevival aankondig, want dis gewoonlik ‘n kortstondige opvlamming van emosies wat die aankondigers se sakke vul. Iets waarvoor Buchan dalk krediet moet kry, is dat hy - anders as Hinn et al - blykbaar nie doelbewus sy gehore se beursies probeer leegmaak nie. *Edit*


Huil Google in die hoekie?

May 12, 2008

Die afgelope week het ek ‘n massa opstelle van Afrikaanse eerstejaarstudente gemerk. Die opdrag was om, aan die hand van “Afrikaans in die media” (’n module wat in wese maar ‘n semester se opleiding in retoriek is) ‘n plakkaat te ontwerp wat lees onder skoliere bevorder.

Sommiges het die pot heeltemal misgesit en ‘n lang relaas kwytgeraak oor hoe Afrikaans besig is om uit te sterf, ander het pynlik paragrawe geskryf oor hoe hulle die plakkaat ontwerp het. (Laasgenoemde groepe het natuurlik nie die opdrag, wat duidelik stipuleer hoe Cicero en kie toegepas moet word in die werk, gelees nie). ‘n Algehele misverstand was egter dit: baie opstelle bevat die nosie dat tegnologiese ontwikkelinge die skuld moet kry vir ‘n toenemend ongeletterde jeug - dat “lees” gelyk is aan” boeklees”.

Snert, seg ek. Snert met ‘n boggel.

Dié standpunte meen kinders moet rekenaars, selfone en televisies los as hulle slimmer wil raak en eerder ‘n boek opraap. Daar is beslis meriete in die idee dat daar meer gelees moet word (hoe meer jy lees, hoe meer weet jy immers en hoe groter is jou vermoë om jouself te bemagtig), maar daar skort iets groot met die to-Gehenna-and back sentiment aangaande enigiets meer as gedrukte tekse.

Wat maak ‘n boek ‘n draer van kennis? Sekerlik tog nie ‘n aantreklike buiteblad of die papier waarop dit gedruk is nie. Dis die idees in die boek wat dit nuttig maak. Die woorde (of, soms, die grafika). ‘n Boek sonder begrippe is nie veel van ‘n boek nie, nes ‘n kortspeler sonder klank nie veel van ‘n kortspeler is nie. (John Cage uitgesluit, natuurlik.)

Enige medium wat woorde of beelde dra, kan kennis kan berg - en enigiemand wat daardie kennis suksesvol kan onttrek, behoort nie soveel met die medium as met die kennis gepla te wees nie. Of dit nou die internet, Mxit, koerante, uitsendings op televisie, graffiti in toilethokkies, boesmantekeninge of pamflette oor homeopatie is: daar is geen rede om dit minderwaardig te beskou omdat dit nie met gom gebind is nie. Om boeke op te hemel, is om die kommunikasiekanaal groter as die kennis te ag.

Boeke is nie die enigste leesbare voorwerpe in die samelewing nie. Dis tyd dat onderwysers en ouers dit só aan leerders begin kommunikeer: boeke is jou maatjies, maar dis ongeskik om nie pouses saam met Google te speel nie.